Skerp daling in BAT maak Rupert bekommerd
Die voorsitter van Reinet, Johann Rupert, sê politieke veranderinge in verskeie lande en wisselkoersskommelinge het bygedra tot 'n afname in die aandele prys van BAT.
Nellie Brand-Jonker
Die onverwagse groot daling in die waarde van British American Tobacco (BAT) die afgelope jaar het Johann Rupert, voorsitter van Reinet, net weer laat besef hoe onseker die wêreld is.
Rupert het in die resultate van Reinet vir die jaar tot einde Maart gesê die waarde van Reinet se belegging in BAT het met €1 miljard (sowat R14,7 miljard) in die afgelope jaar gedaal.
“Die afgelope jaar toon weer dat ons in ’n baie onsekere en onvoorspelbare wêreld leef.
“Politieke veranderinge in baie lande, beduidende skommelinge in die waarde van geldeenhede en in Reinet se geval die groot afname in die waarde van BAT se aandeelprys, was alles onverwags,” het hy gesê.
Hy het gesê die vermoë van markte om hierdie skokke te weerstaan, word gereeld getoets.
“Die stygende rentekoerse (oorsee) en die daling in sentrale banke se ondersteuning, gaan meer risiko en wisselvalligheid na wêreldmarkte bring.”
Rupert het gesê die maatskappy gaan sy fokus behou om op lang termyn te belê en gaan sy versigtige benadering behou om die risiko’s te versag.
In Oktober vanjaar is Reinet tien jaar oud. Reinet het in Oktober 2008 die derde Rupert-maatskappy geword wat op die JSE genoteer het.
Die beleggingsmaatskappy is destyds geskep om die belange van Remgro en Richemont in BAT te hou.
Die Burger het destyds berig die tabakbelang spruit uit ’n belang wat in Rothmans International gehou is. Rothmans het in 1999 met BAT saamgesmelt. Rothmans International was deel van die sakeryk van die Ruperts wat wyle dr. Anton Rupert deur tabakprodukte gebou het.
Die transaksie was genoodsaak deur wetgewing in Luxemburg wat die belastingstatus van die gesamentlike onderneming, waardeur Remgro en Richemont die belang gehou het, sou verander.
Rupert het gesê toe Reinet geskep is, het hy die aandele gehou en ’n portefeulje van kleiner beleggings en €350 miljoen se kontant.
Sedert 2008 het Reinet meer as 16 miljoen BAT-aandele verkoop vir €720 miljoen en het sowat €700 miljoen geleen deur die aandele as kollateraal te gebruik.
Die beleggings wat Reinet tot op hede gemaak het, beloop meer as €2,1 miljard.
Die belegging in BAT verteenwoordig nou 62,4% van Reinet se nettobatewaarde vergeleke met 70,8% ’n jaar gelede.
Rupert het gesê dit toon die wesenlike daling in BAT se aandeelprys in die tydperk.
BAT se aandeelprys het met 22% van £53 tot £41,31 gedaal.
Die waarde van die 68,1 miljoen aandele wat gehou word, het einde Maart tot €3,2 miljard gedaal.
BAT se aandeelprys was wisselvallig gedurende die jaar, met ’n aanvanklike styging ná die verkryging van die oorblywende 57,8% in Reynolds, maar het daarna gedaal toe die Amerikaanse Food and Drug Administration (FDA) gesê het hy beoog regulasies om nikotien in sigarette te verminder tot vlakke wat nie verslawend is nie.
Rupert het gesê ten spyte van die daling in die aandeleprys word hulle vertroos deur die tabakgroep se finansiële resultate, dividende wat hy betaal en die vooruitsigte vir die toekoms, asook die belegging in Reynolds American, die daling in Amerikaanse belastingkoerse en die groter fokus op nuwe tabakprodukte.
Die daling in die belegging in BAT het Reinet se nettobatewaarde met 14,6% tot €5,1 miljard verlaag.
Volgens hom beloop die totale opbrengs aan aandeelhouers van die aanvanklike aandeelprys van Reinet af en ingesluit dividende die afgelope dekade 8% per jaar.
Reinet het einde verlede jaar sy gewone aandele op Euronext Amsterdam op die JSE genoteer nadat hy sy depositobewyse gekanselleer het.
Saam met die oorspronklike notering op Luxemburg se aandeelbeurs verhandel Reinet se aandele nou op drie aandeelmarkte met ’n “baie doeltreffende ruilmeganisme tussen hulle. Die verbeterde omskepbaarheid en verhoogde marksigbaarheid sal mettertyd die likiditeit in Reinet se aandele verbeter,” het hy gesê.
’n Dividend van €0,18 per aandeel is verklaar, wat ’n styging van 9% is.
Sy aandeelprys het 1,5% gestyg. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie