Skok ná Djokovic gediskwalifiseer word

Tennis
Novak Djokovic se veldtog by die Amerikaanse Ope het Sondag op ’n dramatiese wyse tot ’n einde gekom toe die wêreld se voorste speler gediskwalifiseer is omdat sy bal ’n lynregter in die keel getref het.
Die oorweldigende toernooigunsteling se breinfloute het gebeur toe hy kwaad gereageer het nadat Spanje se Pablo Carreno Busta die voortou met 6-5 in die eerste stel van hul vierderonde-kragmeting geneem het.
Die 33-jarige Serwiër het die bal uit frustrasie geslaan sonder om te kyk wat hy doen. Die beampte het haar keel gegryp, op die grond rondgerol en geskree van pyn.
Dit was duidelik ’n ongeluk en Djokovic het dadelik om verskoning gevra, maar hy het nietemin die reëls oortree.
Soeren Friemel, toernooi-skeidsregter, het op die baan verskyn en die kwessie met die skeidsregter, Aurelie Tourte, asook die Grand Slam-beampte, Andreas Egli, bespreek. Hulle het daarna ’n lang gesprek met die driemalige kampioen gehad.
Djokovic, wat dit duidelik gestel het dat hy die lynregter sonder opset getref het, kon gehoor word waar hy sê “sy hoef nie hiervoor hospitaal toe te gaan nie”, maar ná hy vir 12 minute sy kant van die saak gestel het, was dit neusie verby.
“Ek glo nie ons kon enige ander keuse gemaak het as om Novak te diskwalifiseer nie,” het Friemel later aan joernaliste gesê.
“Die feite was duidelik... die lynregter was duidelik beseer en Novak was kwaad, hy het die bal roekeloos geslaan.”
Djokovic het later op Instagram jammer gesê.
“Hierdie hele kwessie laat my werklik hartseer en leeg,” sê hy.
“Ek is baie jammer dat ek haar sulke stres veroorsaak het. So onbedoeld. So verkeerd.
“Ek vra om verskoning (aan die Amerikaanse Ope) en almal betrokke vir my gedrag.”
Dit bring Djokovic se onoorwonne rekord van 26 wedstryde in 2020 tot ’n einde, asook sy veldtog om sy 18de Grand Slam-titel, wat hom binne bereik van Rafael Nadal (19) en Roger Federer se rekord (20) sou plaas.
Die Amerikaanse Tennisvereniging sê Djokovic sal al sy ranglyspunte vir die byeenkoms verloor en met US$250 000 beboet word – sy prysgeld wat hy verdien het om die vierde ronde te haal.
In die afwesigheid van die verdedigende kampioen, Nadal, en Federer – en siende dat geen ander voormalige major-kampioene in die mansloting oor is nie – sal Flushing Meadows vanjaar ’n nuwe lid in die klub van Grand Slam-kampioene verwelkom.
– Reuters, Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!