Skokdossier van SA se sistemiese ‘kanker’
Waldimar Pelser - Jacques Pauw se topverkoperboek oor Jacob Zuma se mafiastaat is ’n opeenvolging van hamerhoue wat hopelik die laaste idealiste en volstruise tot hul sinne sal bring.
Om te glo “alles sal regkom sodra Zuma waai” is ’n gewilde oorlewingsmeganisme.
Die krisis het ’n gesig, ja, maar dis sistemies.
Die enkelinge wat glo Suid-Afrika word regeer deur goeie mense wat hulle sleg van hul taak kwyt eerder as slegte mense wat hulle goed van hul taak kwyt, paai graag: Skaars 20 jaar het verloop sedert die aanvaarding van die Grondwet; ons demokrasie kom nog op die been; en kyk net hoe kry Jacob Gedleyihlekisa klokslag bloedneus in die howe. Daar is hoop!
The President’s Keepers wys nie daar is géén hoop nie – dit dokumenteer immers die legio vreeslose agente en amptenare wat hulle teen die rowers verset – maar die boek is nietemin ’n opeenvolging van hamerhoue.
Amputasie is maar net die begin
Pauw se skokdossier teen Zuma en sy gabbas binne en buite die “formele” staat wys in forensiese besonderhede hoe die gomgatte, smokkelaars, dobbelaars, belastingontduikers en selfs moordenaars wat die teikens van staatsmag moes wees, eintlik aan die bewind is van ’n “skadustaat” wat sy visier rig op enigiemand wat dit durf waag om in Zuma en sy kornuite se pad te staan.
Die snelle toename in sekere kategorieë van geweldsmisdaad word byvoorbeeld direk herlei na polisie-eenhede wat polities sensitiewe misdade begin ondersoek het en deur Zuma se koterie beskermers vernietig is.
Van Belgrado tot Bellville en Morningside tot Moskou het die skrywer, wat tot 2014 Rapport en City Press se ondersoekspan gelei het, oudagente in die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) en ontgogelde polisievroue en bekommerde jagters van belastingdiewe oorreed om vir hom te vertel wat hulle weet.
Pauw wys hoe die familie van diegene wat Zuma uit die tronk help hou, nooit ondersoek word nie en in werklikheid met staatskontrakte ter waarde van miljoene beloon word.
Hy beskryf hoe die Sunday Times, Suid-Afrika se grootste Sondagkoerant, in meer as 35 artikels oor twee jaar vals berigte gedra het oor ’n sogenaamde misdadige ondersoekeenheid in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), en hoe dié leuens sou lei tot die sluiting van ’n eenheid wat miljarde se belastingontduiking en bedrog ondersoek.
Tom Moyane, die man wat sedert 2014 ons belastingbaas is, is bevorder al is hy as hoof van korrektiewe dienste destyds by ’n tenderskandaal van R378 miljoen betrek. Sy nuwe taak was egter soveel groter, naamlik om ’n hoëvlakondersoek na Zuma se familie en hul belastingsake te beëindig.
“Daar is net twee dinge waaroor jy seker kan wees in die lewe: die dood en belasting. Behalwe as jou naam Jacob Gedleyihlekisa Zuma is,” skryf Pauw.
Zuma het nie net miljoene verdien by ’n bedenklike pel se sekerheidsfirma nadat hy in 2009 president geword het nie – hy het ook steeds nie ’n sent van die meer as R60 miljoen belasting betaal wat hy verskuldig is weens verbeterings aan sy Nkandla-huis nie. Geen haan kraai ná sy misdade nie en die ondersoekers word eerder gejag.
Pauw beskryf planeet Zuma met gesag, want hy het self daarheen gereis eerder as om net in brosjures van dié mistieke plek te lees.
Lees The President’s Keepers as jy moeg is vir die geteem van verpletterde idealiste en eerder gewapen met harde feite self wil verduidelik hoe dit alles gebeur het.
The President’s Keepers: Those Keeping Zuma in Power and Out of Prison deur Jacques Pauw. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R280.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie