Skokontdekking in donker web
Skokontdekking in donker web

Skokontdekking in donker web

Petrus Malherbe - Navorsers by die sekuriteits­firma 4iQ het 'n skokontdekking in die sogenaamde donker web gemaak.

Die maatskappy, wat daarin spesialiseer om gelekte data dwarsoor die internet te vind, het tydens 'n roetineondersoek 'n reuselêer met 1,4 miljard gebruikersnaam- en wagwoord-kombinasies opgespoor.

Die donker web is 'n deel van die wêreldwye web wat net toe­ganklik is met behulp van spesiale sagteware. Gebruikers navigeer dit heeltemal anoniem. Die oorsprong van die 41-gigagreeplêer is dus onbekend.

Al die rekords is in dood­gewone teks opgeteken en volgens 4iQ kan enigeen die lêer oopmaak, 'n vinnige soektog doen en begin om by mense se rekeninge aan te meld. Hoewel die maatskappy nie kon bepaal wie die lêer geskep het nie, berig Forbes dat die data nie van 'n enkele plek afkomstig is nie, maar uit verskillende bronne saamgestel is.

Dit is ook nie vars data nie, wat dit laat lyk asof iemand die data uit vorige lekkasies bymekaar gevoeg het in een reuselêer. Die versameling bevat moontlik werkende aanmeldbesonderhede vir gebruikers van webwerwe soos Netlix, Linked­In en die pornografiese blad YouPorn.

Heeltemal toeganklik

Die lys wagwoorde is alfabeties georden, wat dit nog makliker maak om besonderhede vir 'n spesifieke webwerf te vind. Ander web­werwe waarvoor aanmeldbesonderhede gelys word, is Twitter, Tumblr, Dropbox en Zomato.

Omdat die data nie nuut is nie, beteken dit dat enige gebruikers van dié webwerwe wat onlangs hul wagwoord verander het, nie in gevaar is dat iemand anders toegang tot hul rekeninge kan kry nie. Tog sê 4iQ tot 14% van die data in die dokument is nog nie elders beskikbaar gemaak nie.

Wccftech rapporteer dat die vermeende outeur wat die lys saamgestel het 'n bitcoin-adres ingesluit het waar gewilliges vir hom/haar kriptogeld kan stuur om dankie te sê.

Daar is ook bekend gemaak dat die gewildste wagwoorde op die lys 123456, qwerty, password en 111111 is. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer