• Tuisblad
  • Afrika
  • Skoksyfers oor plaasmoorde het straks speaker oortuig
Skoksyfers oor plaasmoorde het straks speaker oortuig
Skoksyfers oor plaasmoorde het straks speaker oortuig

Skoksyfers oor plaasmoorde het straks speaker oortuig

'n Debat oor plaasmoorde het laas in 1994 in die Suid-Afrikaanse parlement gaan draai.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jacob Rooi



Skokkende syfers wat toon dat die moordsyfer op plase in Suid-Afrika drie keer meer is as die nasionale gemiddelde, het moontlik die speaker, Baleka Mbete, oortuig om 'n debat hieroor in die nasionale vergadering toe te laat.

Dit sal die eerste keer wees sedert 1994 dat 'n bespreking van dié voortslepende tragedie in die land se hoogste raadsaal gehou word, sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-­leier.

Groenewald het met Mbete gaan praat nadat sy so drie weke gelede nog teen só 'n debat vasgeskop het. Groenewald sê die speaker is op die koue statistieke gewys.

Hy sê in die geval van boere is die moordkoers 100 per 100 000 van die bevolking teenoor die nasionale moordsyfer van 33 per 100 000 en 'n wêreldwye gemiddelde van net sewe.

“In die geval van boere is dit meer as 100 per 100 000.

“Ek het toe die belangrikheid van die boere­gemeenskap verduidelik, onder meer dat hulle sowat 6,9% van die bruto binnelandse produk bydra.” Hy het Mbete ook daarop gewys dat plattelandse gemeenskappe in geheel gedestabiliseer word as 'n plaasmoord plaasvind.

Mbete het ook gehoor dat nie net wit mense op plase vermoor word nie. “Die Vrystaatse landbou-unie het byvoorbeeld verlede jaar bevind van die 21 moorde in die Vrystaat is 14 swart mense op plase vermoor.”



DA

Die DA het ook die afgelope week terugvoering van Mbete ontvang oor die party se voorstel van verlede maand vir openbare verhore oor plaasmoorde.

Sy het Annette Steyn, DA-woordvoerder oor landbou, bosbou en visserye, gewys op die verhore van die SA Menseregtekommissie waarvan die verslag op 27 Februarie vanjaar by ­verskeie porte­feulje­komitees geliasseer is.

“Dié komitees sal besluit oor moontlike openbare verhore daaroor,” skryf Mbete aan Steyn.

Steyn sê die DA verwelkom Dinsdag se debat. “Ons is baie bekommerd oor die geweldige toename in plaasmoorde. Ons glo dat die landelike veiligheidsplan beter ­geïmplementeer moet word en deel daarvan is die instelling van 'n landelike veiligheidstrategie. Dit moet 'n spesiale eenheid bevat wat net op landelike veiligheid fokus.”



Landboustem

Landbou-organisasies het ook positief gereageer.

Agri SA sê hy verwelkom enige konstruktiewe debat oor die ernstige gevolge wat plaasmoorde en -aanvalle vir die boerderygemeenskappe inhou. “Die hoë voorkoms daarvan spreek boekdele oor die volgehoue misdaadaanslag op boere en plaaswerkers. Dit striem Suid-Afrika se strewe na voedselsekerheid en 'n stabiele landelike gebied,” sê Kobus Visser, direkteur: korporatiewe skakeling van Agri SA.

Die uitbreiding van die reservistestelsel, asook die verdere implementering van die landelike beveiligingstrategie sal bestaande beveiligingsmaatreëls aanvul wat reeds deur die boerderygemeenskap toegepas word.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, verwelkom ook die debat en sê die probleem begin by die politieke wil om misdaad en veral plaasmoorde te takel. “Indien die leiers met slagspreuke, liedjies en uitsprake deurlopend 'n klimaat skep waarin mense eintlik aangemoedig word om grond te vat omdat die huidige wettige eienaars sogenaamd onwettig daarop sit, skep dit 'n groot probleem.”

Van Zyl sê daar is te min senior mense in die regering wat plaasmoorde veroordeel. Groenewald sê hy hoop ook om politieke leiers so ver te kry om plaasaanvalle te verwerp.

“Heelwat van hulle het dit nog nie gedoen nie. Ek hoop hulle doen dit.”

Groenewald sê die omvang van die moorde word nie besef nie. “As daar nie boere is nie, gaan daar nie kos wees nie.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 23° | 37° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 21° | 35° Tsumeb: 25° | 34° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 22° | 37° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 16° | 34° Ariamsvlei: 21° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 37° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 16° | 33° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 21° | 36° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 16° | 22° Durban: 19° | 28° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!