Skole by Epupa oor vloede verskuif

Wydverspreide reën het die naweek landswyd voorgekom.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Namibië se rivier- en damvlakke het ná goeie reënval landswyd gestyg met verskeie skole wat in die Epupa-omgewing by die Kunenerivier verskuif moet word.

Die Kuneneriviervlak bly hoog en het gister by Ruacana teen 968,4 kubieke meter per sekonde gevloei.

Vrydag het die Kunenerivier teen 1 654 kubieke meter per sekonde gevloei nadat die sluise van die Calueqe­dam oopgetrek is.

Volgens die Namibiese hidrologiese dienste se vloedverslag word sterk rivier­vloei steeds in die noordwestelike deel van die Kunene-opvangs­gebied gerapporteer en gemeenskappe langs die rivier moet steeds nie probeer om die rivier oor te steek nie.

SKOLE OORSTROOM

Planne word beraam om die Otjimuhaka- mobiele eenheid in die Epupa-kiesafdeling in die Kunenestreek na hoër grond te verskuif nadat twee van die skool se tente weens hewige reën oorstroom het, berig Nampa.

Die Otjimuhaka- mobiele eenheid het 180 leerlinge, meestal van die San-,­ Ovatue-, Ovatjimba-, Ovadhimba-­­­ en Himba-randgemeenskappe.

Dít is gister deur mnr. Abia Kambaekua, 'n departementshoof van die Ondao- mobiele skooleenheid, ­bevestig.

“Graad 3- en 4-klasse het oorstroom,” het Kambaekua gesê en bygevoeg hutte wat as koshuisakkommodasie gebruik word, is gelukkig nie geraak nie.

Die Otjamaungu- mobiele eenheid, wat sowat 25 km van Ruacana af geleë is, moet ook weens dieselfde rede verskuif word.

Mnr. Amon Kapi, hoof van die Ondao- mobiele skool, het gesê leerlinge by Otjikondavirongo in die Sesfontein-kiesafdeling kan ook nie weens die stygende riviervlakke in die omgewing skool toe gaan nie.

Die streek het meer as 80 mobiele skooleenhede wat onder die Ondao- mobiele skooleenheid val.

Die Zambezirivier se vlak by Katima Mulilo styg steeds en is tans 6,62 meter diep, so ook die Kavangorivier wat by Nkurenkuru 4,29 meter en by Rundu 6,48 meter diep meet.

“Die watervlakke in sommige dele van die hoofopvangsgebied van die Cuvelai-­oshanas styg steeds. Gemeenskappe in die Zambezistreek en Kunene- en Cuvelai-­Etosha-opvangsgebiede moet die nodige voorsorgmaatreëls tref,” lui die vloedverslag.

Epupa Falls Lodge het gister op sy Facebook-­blad geskryf dat die lodge nie oorstroom het nie, maar dat binnelandse riviere tussen Epupa en Opuwo in volle vloed is.

“Hierdie rivier kom nie stadig af soos die Kunene wat beheer word nie; hierdie is kitsvloede. As jy nie bereid is om deur die rivier te loop en dit te toets nie, moenie daardeur bestuur nie.

“Alle paaie is slegs met 'n 4x4-voertuig toeganklik wat deur ervare 4x4-bestuurders bestuur word. Absoluut geen sleepwaens of karavane.”

Selfs die Visrivier het gestyg en het gister­oggend 0,17 meter diep gemeet.

DAMVLAKKE

Met die goeie reëns die afgelope tyd was daar wel 'n invloei in die land se damme. Die Von Bachdam was 'n week gelede 52,8% vol en is nou 53,4% vol. Die Naute­dam was Vrydag 71,7% vol en is nou 86,9% vol met die Oanobdam wat Vrydag 66,5% vol was teenoor gister se 68,9%.

Die damvlakke, soos gister gemeet in vergelyking met verlede jaar se vlakke in dieselfde tydperk, staan op: Von Bach 53,4% (59%), Swakoppoort 37,5% (51,2%), Omatako 8,7% (57,3%), Hardap 47,1% (69,2%), Naute 86,9%, (96,9%) en Oanob 68,1% (90,6%).

REëNVALSYFERS

Die naweek is gekenmerk deur landswye reën en die amptelike reënvalsyfers van gister soos deur die weerkantoor verskaf is: Stampriet 28 mm, Windhoek 15,6 mm, Khorixas 15,2 mm, Mopanie-Oos 8 mm, Mariental en Eros-lughawe 7 mm, die Inter­nasionale Lughawe Hosea Kutako 5,2 mm, Walvisbaai 2,2 mm, Keetmanshoop 1, 4 mm en Eenhana 0,2 mm.

Volgens die Facebook-blad “Reën in Namibia” lyk die afgelope naweek se reën­valsyfers so: In drie dae is 100 mm op 'n plaas 60 km noordwes van Outjo gemeet, die plaas Emmarintia­ naby Leonardville 70 mm, die plaas Sterre­prag net buite Helmeringhausen 64 mm, Kalahari Anib Lodge 58 mm in 48 uur, Hardap­dam 30 mm, 60 km voor die Gondwana­ Canyon Roadhouse 17 mm, sowat 50 km suidwes van Keetmanshoop tussen 8 en 14 mm, Kanaan op die D707-pad 30 mm, die plaas Vergesig­ buite Maltahöhe 22 mm, Bethanie Gaste­huis 12 mm, die plaas Itsawises 40 km noord van Keetmanshoop 8 mm binne 15 minute, Cimbe­basia en Academia 22 mm, Eros 20 mm, Pionierspark 19 mm, Olympia 18 mm, Avisdam 12 mm en Omeya 7 mm.

Gisteroggend is stortreën tussen Windhoek en Okahandja gerapporteer en buie het ook by die Spitzkoppe, op Mariental, Rehoboth, Okahandja, Aranos en 90 km van Swakopmund af in die Namibwoestyn voorgekom.

Volgens vandag se weervoorspelling sal dit gedeeltelik bewolk en baie warm in die Namib en die ||Kharas- en Zambezistreek wees.

Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie warm wees met enkele tot geïsoleerde donderstorms. Verspreide donderbuie sal waarskynlik in die Noordweste, sentrale hoogland en die Ooste voorkom.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!