Skole moet help water spaar

Octavia Tsibes
Octavia Tsibes

Inwoners van Windhoek het op 22 en 23 Maart Wêreldwaterdag gevier onder die vaandel “Gesonde vleilande en innoverende water- en afvalwaterbestuur verbeter lewens”.

Die voorsitter van die komitee wat die dag gereël het, me. Ndina Nashipili, het in haar toespraak meer oor dié tema uitgebrei.

Vanjaar was daar spesiale klem om skole oor Windhoek se watertoevoer en skaarsheid in te lig. Daarmee saam het leerlinge van die sekondêre skole Hage Geingob en Jan Jonker Afrikaner, asook die laerskole Bet-El en Augeikhas besoek aan die Goreangab- en die Ujams-waterbehandelingsaanleg afgelê.

Tydens die besoek is hulle gewys hoe Windhoek se water verwerk en gesuiwer word. Die leerlinge was baie opgewonde oor die besoek en sê hulle het baie geleer.

Toe die seremoniemeester, mnr. Johannes Shigwedha, vir die leerlinge vra wat hulle geleer het, het hulle vinnig en entoesiasties met antwoorde vorendag gekom.

’n Gevallestudie is by die Gammams-rioolaanleg in Windhoek onderneem. Mnr. Dieter Tolke van die munisipaliteit het met ’n skyfievertoning meer volledig verduidelik wat presies daar gedoen word. “Damme wat water aan Windhoek voorsien, staan op ’n gemiddelde kapasiteit van 49%. Dit plaas Windhoek in ’n ernstige noodtoestand,” het Tolke gesê.

Mnr. Cliff Olivier van NamWater het gesels oor die uitdaging van watertoevoer na sentraal-Namibië, met spesiale klem op die hoofstad. Olivier het uitgebrei oor die verskillende damvlakke en verduidelik watter dam water aan watter dorpe voer.

Rehoboth het byvoorbeeld genoeg water vir die volgende 76 maande, met die Oanobdam se vlak wat op 90.9% staan.

Olivier het voorts gesê “hoewel Namibië reën ontvang het, is dit nie genoeg nie. Ons kan dae gaan sonder kos, maar water het ons beslis nodig. Daarom is dit baie belangrik om water spaarsamig te gebruik.”

Hy het gesê dit is noodsaaklik dat almal in elke dorp van die land toegang tot skoon water het. Hy het paar dorpe in die noorde van Namibië genoem wat werklik met watertoevoer sukkel en dat hulle as ’n saak van dringendheid boorgatte met groteres moet vervang.

“Namibië is die enigste land ter wêreld en Windhoek is die enigste stad in Afrika wat sy afvalwater in drinkbare water omskep,” het die minister van landbou, water en bosbou, mnr. John Mutorwa, tydens die geleentheid gesê.

Hy het voorts verduidelik die rede waarom hulle bogenoemde tema gekies het, is om bewustheid te skep oor die deurslaggewende rol wat gesonde vleilande en innoverende water- en afvalwaterbestuur speel.

Die waterveldtog is in 2016 begin om bewustheid te skep, veral onder regeringsamptenare en personeel van openbare instansies en skole waar baie water gebruik word.

Verder het Mutorwa gesê Namibië se water is vry van besoedeling. “Wêreldwater- en vleilandedag is ’n spesiale geleentheid om bewustheid te verbeter, ingesteldhede te verander en om water spaarsamig te gebruik,” aldus Mutorwa.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!