Skole: N$66 per leerling per jaar
Skole: N$66 per leerling per jaar

Skole: N$66 per leerling per jaar

Die regering kan nie gratis onderwys instel as hy dit nie kan onderhou nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Geen skryfbenodighede is vanjaar nog by staatskole afgelewer en geen geld in skole se rekeninge inbetaal weke ná die aanvang van die nuwe akademiese jaar nie.

’n Staatskool het verlede jaar ’n betaling van N$53 000 ontvang wat van skryfbehoeftes, toiletpapier, skoonmaakmiddels, afrolpapier tot drukkersink vir ’n jaar moet koop. Dit kom neer op ’n skokkende N$66 per leerling per jaar.

Dié inligting is vervat in ’n mosie deur die Popular Democratic Movement (PDN) se me. Elma Dienda tydens ’n mosie in die Nasionale Vergadering oor die verval van die Namibiese openbare onderwysstelsel.

Volgens haar het die regering “baie swaar” in onderwys belê, maar wys die slaagkoers die teendeel. Sy het verwys na baie onderwysers wat tot 42 leerlinge in ’n klas het en gedwing word om deur die graad 12-sillabus “te jaag” voor die eksamens in Oktober begin.

Volgens ’n studie in 2013 deur die Universiteit van Namibië het 8,2% van die deelnemende onderwysers nie hul salaris betyds ontvang nie, 18,1% sukkel om genoeg tyd te vind om lesse voor te berei, terwyl 23,9% onder moeilike omstandighede (beperkte toilette, geen/ongereelde toegang tot elektrisiteit, water) moet skoolgee.

Daarmee saam sukkel 31,4% om van vakadviseurs tot inspekteurs in die hande te kry, terwyl 35,5% moeilik met ouers kommunikeer weens afstand, taalgrense of ’n algemene gebrek aan samewerking of belangstelling in hul kinders se skoolwerk.

Met verwysing na studiemateriaal sê die studie tot 17,2% van die onderwysers ervaar probleme om onderrig aan kinders van verskillende ouderdomsgroepe in een klas te gee. Meer as die helfte van onderwysers van leerlinge uit benadeelde of arm gemeenskappe sê die kinders sukkel omdat hulle óf honger is óf ’n algemene gebrek aan belangstelling in onderrig het. Dit word verder bevestig deur 22% van onderwysers wat sê hulle het ’n “abnormale afwesigheid van leerlinge” in hul klasse.

Sowat 43% van onderwysers sê hulle het nie voldoende handboeke en gidse nie.

“Dié situasie het versleg omdat die regering nie noodsaaklike hulp aan staatskole en in ag genome die impak van gratis onderwys kan verskaf nie. Ons kan nie gratis onderwys instel as ons dit nie kan onderhou nie. Ons maak ’n grap daarvan.”

Volgens Dienda is dit “sinneloos” om die ontwikkelingsfonds by skole af te skaf, maar in dieselfde asem dit uit “huiwerige ouers in verskeie ander vorms te druk”.

Sy het voorts gesê skoolhoofde bestee meer tyd “agter hul kantoordeure besig met administratiewe werk” as om die monitor en evaluering van leerlinge en onderwysers te implementeer.

Met verwysing na die Namibiese Kollege vir Afstandonderrig (Namcol) het Dienda gesê “’n hele generasie van ons jongmense, in die steek gelaat deur die formele onderrigstelsel” moet nou op Namcol staat maak.

Volgens Dienda is Namcol nou die grootste opvoedkundige instelling in die land en het verlede 47 000 ingeskrewe leerlinge gehad.

Sy sê voorts Namcol word as ’n “instelling van mislukkings” beskou, met die ministerie wat weinig doen om dié persepsie te verander.

“'n Graad 10-druipeling is in die meeste gevalle te onvolwasse om afstandonderrig te hanteer, terwyl persoonlike kontak met dosente onvoldoende is. ’n Voortdurend veranderende mandaat met ’n krimpende regeringsubsidie maak dit onmoontlik vir Namcol om dít reg te maak wat die regering verbrou het.”

Ingrypings vir die wankelende onderwyssektor sluit volgens haar voortgesette indiensopleiding vir onderwysers in, die herinstelling van ontwikkelingsfondse by skole, sowel as die ondersteunende eksamens vir graad 12-leerlinge eerder as wat Namcol hul eerste opsie is. Namcol moet voorts in ’n oop universiteit omskep word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer