Skolespan se opwarmtoere val deur die mat
Skolespan se opwarmtoere val deur die mat

Skolespan se opwarmtoere val deur die mat

Ouers is sover nie ingenome met die reëlings van die span se sake nie.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die twaalf seuns wat 'n ruk gelede vir die Namibiese onder 18-sewes­rugbyspan gekies is, moes sedertdien hul verwagtinge maar grootliks inperk.

Volgens die aanvanklike beplanning sou die groep ter voorbereiding vanaf 4 tot 13 Julie in Frankryk aan die Parys Wêreldspele deelgeneem het. Dié reis is intussen gekanselleer.

Die span sal nietemin steeds vir sy hoofdoel na Algerië reis waar hulle van 16 tot 27 Julie by die o.18 Afrika Jeugspele sal opdraf. Dit is die deelnemende spanne se kans om vir die 2018 Olimpiese Jeugspele in Buenos Aires te kwalifiseer.

In 'n brief van die Namibiese Skolesportunie (NSSU) gedateer 30 April is die ouers en spelers gerig van Namibië se deelname in Parys en Algiers verwittig.

Oefenkampe was vir 13-18 Mei in Windhoek, asook 13-17 Junie by die Stellenbosch Rugby­akademie beplan. Laasgenoemde het ook deur die mat geval.

Op 4 Junie rig mnr. Christo Alexander, waarnemende hoofbeampte van die Namibië Rugby­unie (NRU), 'n brief aan die ouers en ander belanghebbendes, maar oor Parys is geswyg.

“Die NRU bevestig hiermee dat die onder vermelde spelers vir die Namibiese o.18-sewesspan gekies is. Die span sal Namibië by die Afrika Olimpiese Jeugspele in Algerië verteenwoordig waar hulle hoop om vir die Olimpiese Jeugspele te kwalifiseer.

“Met Suid-Afrika en Kenia wat regstreeks deurdring, staan Namibië 'n goeie en realistiese kans om vir dié historiese geleentheid te kwalifiseer,” skryf Alexander.

Intussen is die oefenkamp in Stellenbosch egter van die baan en die een wat op Walvisbaai gehou sou word, is ook gekanselleer. Die droom om in Parys te gaan speel, het ook deur die mat geval en van die ouers is ontsteld.

Volgens die NSSU-brief sou die deelname in Parys 'n gulde kans gewees het om vir Algiers te slyp en dit is as verpligtend vir die spelers aangedui.

Volgens die NRU was N$100 000 nodig om deelname aan die Parys-toernooi moontlik te maak en dit is glo die rede hoekom die seuns nie meer gaan nie. Die ouers het ingespring en binne 'n dag N$60 000 uit hul eie sakke bewillig en 'n verdere N$20 000 is deur 'n ma met 'n borg beding. Dit sou die span met 'n tekort van net N$20 000 laat.

“Maar,” beweer die ouers, “daar is nog geld by die NSSU wat bygelas kan word. Mnr. Sollie Duiker (nasionale koördineerder van die NSSU) het gesê hy sal N$20 000 vir die oefenkamp in Walvisbaai gee. Dié oefenkamp is gekanselleer, dus is die geld nog in die NSSU se rekening en kan net sowel vir die Parys-toernooi beskikbaar gestel word.

“Ons is bereid om die uitstaande bedrag te gaan bedel en ek is seker daar is ouers wat 'n ietsie ekstra sal gee.

“Omrede ons nie definitiewe antwoorde gekry het op vrae wie in beheer van die span se reëlings is nie, het ek aan Duiker, Alexander, Abie van Wyk asook Albert Arries (bestuurder) en Patrick Ludick (afrigter) e-posse gestuur.

“Die registrasiegeld om in Parys deel te neem, moes op 10 April betaal gewees het. Daar was niks betaal nie, maar op 30 April word ons van die span se deelname in Parys ingelig! Hoe werk dit?

“Nie een van die genoemde ampsdraers, behalwe Arries en Ludick wat ons per e-pos gekontak het, het ons navrae beantwoord nie.

“Die seuns se Schengen visum-aansoeke vir die Europese Unie is ook nie gedoen nie en word nou skielik as 'n rede aangevoer hoekom die Parys-toer af is. Hulle moes op 4 Julie gevlieg het.

“Dis 'n gemors om dit sagkens te stel, want ons seuns was voor 'n ultimatum gestel. Indien hulle aan proewe vir die vyftienmankode sou deelneem, kon hulle nie vir die sewes gekies word nie. Die kinders het sewes gekies, want daar was baie meer vooruitsigte vir hulle. Nou dit.

“Ons is ingelig om self vir die seuns se visums by die Duitse ambassade aansoek te doen, want daar kon nie meer vir 'n groep aansoek gedoen word nie. Die Franse kan ons nie help nie, want Duitsland is die land waar die seuns eerste gaan land.

“My vraag is, hoe lank vooraf het 'hulle' geweet dat hulle nie hul verantwoordelikhede teenoor die seuns gaan nakom nie?

“As ons ouers lank genoeg vooraf meegedeel was dat daar nie geld vir Parys is nie, kon ons lankal die visums gereël en die geldsake opgeklaar het.

“Hulle beweer dis 'n prioriteit vir Namibië om vir Buenos Aires te kwalifiseer. Maar hoe moet die seuns presteer wat net vir drie dae 'n oefenkamp by Vegkop bygewoon het? Die hele ding is net as 'n geelwortel voor die seuns se neuse gehang,” het ouers ontstoke geskryf.

Vir die span se formele drag, ander klere en benodighede het ouers 'n borgskap van N$80 000 bekom. Die hoofborg was glo bereid om na 'n langtermynverhouding met o.18-sewesrugby te kyk. Of dit steeds die geval gaan wees, is te betwyfel.

Die span wat onder die vaandel van die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee na Algiers sal reis, is Aston Mukwiilongo (Walvisbaai), Bernhardt Wessels (Windhoek Affies), !Gonteb Donnel (Pro-Ed), Donovan Resandt (WHS), Erik Strauss (WHS), Jeandré Loubser (WHS), Le Roux Booysen (Paarl Gimnasium), Lianzo Cupido (Whk Gimnasium), Lyle Beukes (Whk Gimnasium), Romario Janga (WHS), SJ Louw (Tsumeb Gimnasium) en William James Otto (Tsumeb Gimnasium).

In die afgelope week is mnr. Albert Arries as spanbestuurder om gesondheidsredes deur mnr. Algenic de Klerk vervang.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!