Skolespan sluit op hoë noot af

Krieket
Andrew Poolman
Andrew Poolman - 'n Vyftigtal deur kaptein Divan la Cock was die hoogtepunt van die Namibiese skolespan se oorwinning met vyf paaltjies teen die Grens in hul laaste wedstryd van die Khaya Majola o.19 provinsiale krieketweek in Pietermaritzburg verlede maand.

Die jong Namibiërs moes gedurende die toernooi daarby aanpas dat die hele toernooi met die rooi bal gespeel word, terwyl skole- en klubkrieket in Namibië deesdae net wit balle gebruik.

Ondanks 'n paar opflikkeringe het die jong Namibiërs al hul vorige wedstryde in die toernooi verloor – in tydkrieket (teen Noordwes) en Mpumalanga), twee T20's (teen die Oostelike Provinsie en Boland) en in eendagkrieket (teen Limpopo).

Die Grens sou dus redelike vertroue gehad het toe hulle hul 50 boulbeurte op 219 vir vier afgesluit het. Die Oos-Kapenaars se aanvangskolwer Stuart Els was hul groot held met 102 onoorwonne lopies van 132 balle, met sewe grenshoue.

Nonelela Yikha (46 van 67 balle) het op nommer vyf ingestap op 86/3 voordat hy 'n 96-vennootskap met Els gebou het.

Die Namibiese boulaanval het redelik goed gevaar, gelei deur die aanvangspaar Jan-Izak de Villiers (1/39 in tien boulbeurte) en Waylan Cloete (0/18 in 6), voordat die draaiers Mauritius Ngupita (1/49 in 10), Ettienne Beukes (1/40 in 10) en Ramon Wilmot (1/40 in 9) ook deurbrake gemaak het.

Namibië het met 'n 57-vennootskap om die eerste paaltjie weggespring, voordat Scott Winborn been-voor betrap is en vir 33 van 47 balle (5x4) moes terugstap. JC Balt (20 van 45 balle) was die volgende man wat uitgevang is.

Divan la Cock het egter beheer oor die kolfbeurt oorgeneem met 'n goeie vyftigtal (70 van 87 balle, sewe viere en 'n ses). Hy het vroeg vir Ramon Wilmot (uitgevang vir 15) gesien terugstap, maar Nicol Loftie-Eaton het by hom aangesluit vir 'n produktiewe vennoot­skap van 69 lopies om die vierde paaltjie.

Loftie-Eaton (40 van 42 balle, 2x4 1x6) is uitgeboul kort voordat die wenlopies ná 46 boulbeurte deur Matthew de Gouveia (15* van 14 balle, 2x4) en Jan-Izak de Villiers (1* van 4 balle) aangeteken is.



WÊRELDBEKER

Die Namibiese jongspan sal vanaf 17 Januarie moet toekyk hoe Nigerië in die o.19 Wêreldbeker in Suid-Afrika vaar – 'n posisie wat die afgelope jare deur Namibië gehou was.

Ondanks krieket se beginnerstatus in Nigerië het die groen-en-geel span vroeg verlede jaar die kontinentale kwalifiserende toernooi in Windhoek gewen, te danke aan hul skokuitslag teen die gasheerspan op die openingsdag.

Die Nigeriërs bevind hulle in 'n liederlike groep B teen Australië, Engeland en Wes-Indië, maar sal daarna in nog uitspeelwedstryde vir die deelnemende 16 spanne se finale eindposisies betrokke wees.

Japan is die ander verrassende debutant in die o.19 Wêreldbeker, wat gekwalifiseer het toe Papoea-Nieu-Guinee van sy spanlede vanweë winkeldiefstal geskors het en dus nie 'n volledige span in die veld kon stoot nie.

Japan o.19 bevind hom in WB-groep A, saam met Indië, Nieu-Seeland en Sri Lanka.

Kommentaar

Republikein 2024-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 23° | 39° Eenhana: 24° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 21° | 36° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 17° | 34° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 19° | 32° Henties Bay: 14° | 18° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 17° | 30° Mariental: 13° | 29° Keetmanshoop: 9° | 28° Aranos: 16° | 30° Lüderitz: 13° | 28° Ariamsvlei: 10° | 27° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 16° | 35° Maseru: 13° | 26° Antananarivo: 16° | 29° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 21° | 41° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 15° | 19° Durban: 16° | 22° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 17° | 25° #REF! #REF!