Skoletalent uitgesoek
Skoletalent uitgesoek

Skoletalent uitgesoek

Skolerugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman



Namibië se voorlopige oefengroepe is gister bekend gemaak ter afsluiting van drie dae van nasionale proewe vir onder 16- en o.18-rugbyspelers.

Die Namibiese Skolesportunie (NSSU) se onder 16-span sal vanjaar weer aan die jaarlikse Grant Khomo-week teen die Suid-Afrikaanse provinsiale opposisie opgeweeg word, wat by Witrivier in Mpumalanga vanaf 24 tot 28 Junie aangebied word. Die o.16-span sal deur mnre. Morné Rust (Walvisbaai Privaat Hoërskool) en Fernold Bock (Dr. Lemmer) afgerig word, met mnr. Gert de Waal (DHPS) as spanbestuurder.

Die NSSU o.18-span word terselfdertyd voorberei op die SA o.18 Akademieweek, wat in die eerste week van Julie in Bloemfontein aangebied word.

Die Namibiese o.18's word deur mnre. Ainsley Daniels (WHS) en Herman Grobler (WBPHS) afgerig, met Algenic de Klerk (Jan Möhr) as spanbestuurder.

Die o.16- en o.18-oefengroepe sal van vandag tot Saterdag by United-veld aan verdere kondisionering- en vaardigheidstoetse onderwerp word, voordat die finale toerspanne Saterdag aangekondig word.

Gister by die aankondiging het Momentum Namibië ook sy borgskaptjek van N$250 000 oorhandig vir die 27ste jaarlikse Momentum skoleliga in elke ouderdomsgroep vanaf o.14 tot o.19.

Die Momentum-ligas begin reeds op Saterdag 18 Mei in elke ouderdomsgroep.

Mnr. Frederick van Zyl van Momentum Namibië het gesê die borg­skap is bedoel om die landwye liga vlot te laat verloop. Hy het spelers aangemoedig om dié platform te gebruik om geïnspireer te word om doelwitte te stel om hul rugbytalent uit te leef, tot voordeel van Namibië en sy nasionale spanne.

Goeie prestasie in ligawedstryde sal spelers boonop op die voorgrond plaas vir die volgende keuringsproses, want Georgië se skolespan besoek die land in Augustus vir twee “toetse” teen die Namibiese o.18's op Walvisbaai. Momentum gee 'n ekstra N$20 000 as bydrae tot die twee Georgië-wedstryde.

Die Namibiese senior afrigter Phil Davies het ook 'n boodskap gelewer en het uitgewys dat die spelers hulle in 'n beproefde pyplyn van ontwikkeling vir internasionale rugby bevind.

“Meer as 20 spelers het die afgelope paar jaar vanuit die Namibiese o.20-span gevorder om die land in senior toetse te verteenwoordig.

“Spelers soos Cliven Loubser, Janco Venter, Mahepisa Tjeriko en vele ander het dieselfde pad gevolg waarop julle tans is.

“Namibië moet in 2023 weer vir die Wêreldbeker kwalifiseer en jou kans om vir jou land te speel, is dalk glad nie so ver in die toekoms nie. Ek hoop dat vele van julle sal deurkom om die nasionale span tot die volgende hoër vlak te neem.”



Die verkose oefengroepe:

Namibië onder 16: Johan Brockman, Danre Schreuder, Benno von Wielligh, Herman Coetzee, Phillipus Iyambo, Riaan Grové, keanen Januarie, Joe Losper, Lamar Beukes, Fanus Jurgens, Wayne Nell, Denver Beukes, Jason Beukes, Berend de Beer, Jonathan Hanekom, Owen Hawanga, Ashlan Philander, William Classen (almal Khomas); Rudi Liebenberg, Ray-Eez Feris, Manfred Garoeb, Thinus van Wyk, Alejandro Buzgrugeiros (Hardap); Jeffery Jayden, HJ de Beer, Ethan Koopman, Jurenzo Julius (Sollie Duiker XV); Luaan Karsten, Marco Malan, Franco Vries, Jacques Simon, GP Greeff, Benito Sinden, Louw Rossouw (Erongo); AG Leienaar, Jaco Swanepoel, Maans Steenkamp, Naude Krone (Noorde).

Namibië onder 18: Lucky Mauhe, Frikkie Engelbrecht, Heinrich Coetzee, Charlton Somseb, Gillies Jahs, Max Ihuha, WJ Otto, Christopher Deck, Ndara Roman, Ian Grobbelaar, Niel Holtzhausen (Noorde); Bernd Beddies, Bernd Bronkhorst, Sheron Rossouw, Lean Rossouw (Hage Geingob XV); Marchelle van Wyk, Arno Gouws, Dhale Cloete, Aswin Beukes, Frans Grobbelaar, Ethan Rittman, Rowen Jansen, Danie Opperman, Jahno du Plessis, Geraldo Beukes, Samuel Poulton, Lyle Beukes, Louw Aiden, Patric Karsten, Stewart Moller (Khomas); DP de Jager, Hennie Vermeulen, Janu Visser, Louwhan Boltman, Christoff Meyer, Franklin Kharagub (Hardap); Jano Otto, Roelof van Niekerk, Divan van Vreden, Brand Davids, Juvino Polster (Erongo), Danie Coetzee (//Kharas).

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer