Skool is onwettig

Elke uitbreiding van ’n bestaande skool in die land moet ’n aparte registrasie ontvang.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Die Roots Gimnasium Private Skool in Stampriet word onwettig bestuur – sonder registrasie by die ministerie van onderwys, kuns en kultuur soos deur die onderwyswet vereis.

Hoewel die skool verbind is met Windhoek Gimnasium Private Skool, sê die direkteur van onderwys in die Hardapstreek, mnr. Gerhard Ndafenongo, in terme van die bepalinge van die onderwyswet word geen satellietskole in Namibië toegelaat nie.

“Elke uitbreiding van ’n bestaande skool moet aansoek doen en ’n afsonderlike registrasie ontvang,” het hy gesê.

Ndafenongo sê die Roots-skool is ná ’n ondersoek reeds twee keer opdrag gegee om hul bedrywighede onmiddellik te staak.

Volgens hom het die skool aansoek om registrasie gedoen, wat op 3 September deur die nasionale eksaminerings-, evaluerings- en sertifiseringsraad (NEACB) bespreek is. Die uitkoms was dat die raad die aansoek vir registrasie vir pre-primêr tot graad 3 vir die skool aanbeveel het. Dit geld egter eers vanaf die begin van aanstaande jaar.

Die aanbeveling is in lyn met ’n omsendbrief van die DNEA verlede jaar wat beklemtoon het “die skool moet homself eers vestig voordat dit volgende fases implementeer. Aansoekers moet vir ’n spesifieke fase aansoek doen vir registrasie, gevolg deur alle ander fases. Dis ’n vereiste wat die skool moet vestig voordat daar vir die volgende fase aansoek gedoen word,” lui die brief.

Ndafenongo het verwys na ’n bepaling in die onderwyswet wat sê ’n persoon het die reg om ’n private skool te vestig, maar moet dit eers registreer voordat onderrig by die skool gegee kan word.

Hy het na ’n paragraaf in dieselfde omsendbrief verwys wat beklemtoon streeksdirekteure word aangemoedig om in ooreenstemming met die wet opdrag te gee vir die sluit van sulke skole voordat die aansoek by die raad vir oorweging ingedien word.

In die lig hiervan sê Ndafenongo Roots Gimnasium se aansoek vir verdere fases (graad 4 tot 7, gevolg deur graad 8 en 9) sal nié aan die raad voorgelê word “indien hulle voortgaan om onwettig bedryf te word nie”.

Die implikasie vir huidige leerlinge van die skool is dat hulle nie tans en in die toekoms vir die nasionale eksamen kan registreer nie. Ook sal dié leerlinge nie by enige ander skole of instelling van hoër onderrig in die land toegelaat kan word nie, tensy hulle teruggaan na die laaste graad wat hulle by ’n geregistreerde skool deurgekom het.

“Dit beteken om ’n leerling by ’n ongeregistreerde skool te wees, is gelykstaande om glad nie skool toe te gaan nie omdat die kwalifikasie wat jy van dié skool behaal, nêrens in die land of internasionaal erken word nie,” het Ndafenongo gesê.

Sou die skool voortgaan om sonder registrasie bedryf te word, sal die ministerie gedwing word om ingryping van wetstoepassingsagentskappe te vra om die nakoming van die onderwyswet, wat ’n wet van die parlement is, af te dwing, het hy gesê.

“Sulke optrede mag ernstige gevolge vir die eienaar en onderwysers inhou. Dis dieselfde as met ander wetsoortredings waar besigheidseienaars en hul medepligtiges in hegtenis geneem word omdat hulle dit sonder ’n lisensie bedryf.”

Intussen het me. Colette Rieckert, besturende direkteur van Windhoek Gimnasium, by navraag gesê die skool is wél geregistreer en ’n brief in dié verband is verlede week ontvang.

Volgens haar is die skool as ’n aanlynskool bedryf terwyl voortgegaan is met die registrasieproses.

Rieckert sê Roots, wat die Namibiese leerplan gebruik en in die hoërskool Engels as onderrigtaal het, fokus op landbou en is verbind met ’n kommersiële plaas waar onder meer die nuutste boerderytegnieke gebruik word.

“In die omgewing is daar geen private skool wat dié studierigting aanbied nie. Mense wil nie noodwendig die swakker IEB (International Examination Board) volg nie. Nou word kinders by Roots vroeër aan Engels en die wêreld blootgestel,” het sy gesê.

Volgens haar is die skool net vir eerste grade geregistreer, “met dien verstande dat goeie standaarde gehandhaaf sal word”.

“Daar is dus geen rede hoekom graad 4 tot 7 nie daarby ingesluit sal word nie.”

Windhoek Gimnasium bly volgens Rieckert die mentorskool.

“Dis vir ouers se kinders wat Windhoek toe sou kom en vir kinders oraloor in die land en ook die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC).”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!