Skoolhoof se aanvallers nog soek
Ronelle Rademeyer – Die vier mans wat na bewering gisteroggend die skoolhoof van die Windhoek Internasionale Skool, me. Margarete Reiff (57), só erg met die vuiste toegetakel het dat sy steke moes kry, is nog op vrye voet.
Haar gekaapte wit Suzuki Jimny, registrasiemerk N61300W, was teen druktyd gisteraand ook nog nie teruggevind nie.
Reiff is erg aangerand toe sy oudergewoonte gisteroggend haar honde in Pionierspark vir ’n uitstappie geneem het.
Sy het vroegoggend haar honde in die stuk oop veld tussen Pionierspark en die Universiteit van Namibië (Unam) se kampus laat hardloop terwyl sy stadig langs hulle gery het. Toe sy stilhou en uitklim om die honde in te laai sodat hulle kon terugkeer huis toe, het die mans haar oorval en aangerand.
Hulle het haar van haar beroof en haar gedwing om die persoonlike identifikasienommer (PIN) van haar bankkaart vir hulle te gee. Daarna het hulle in haar voertuig gespring en weggejaag.
Volgens mnr. Sean Naudé van Namibia Marshall Rangers wat haar hospitaal toe geneem het, was die beserings aan haar gesig so erg dat sy steke moes kry.
’n J88-vorm is by die hospitaal voltooi sodat die polisie ’n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer, kan ondersoek.
Waarskuwings word die laaste weke gereeld op die sosialemediagroepe van buurtwagte en nooddienste in die hoofstad geplaas oor ’n toename in gewapende roof en voertuigkapings.
Volgens die polisie se misdaadverslag het ’n soortgelyke voorval Vrydag kort voor middernag voor ’n huis in Marthastraat in Khomasdal plaasgevind.
Na bewering het ’n man saam met familielede bruilofvieringe by dié huis bygewoon. Toe hy sy voertuig voor die huis parkeer en uitklim, is hy oorval en van sy beursie en ander besittings beroof.
Sy aanvaller het daarna met sy sewesitplekvoertuig, ’n Toyota Wish, weggejaag. Dié voertuig is ook steeds soek, sê die polisie.
Intussen word ’n saak van poging tot moord ondersoek nadat ’n sekuriteitswag in die nagtelike ure Saterdagoggend ’n verdagte gewond het wat na bewering saam met drie ander mans brandstof uit ’n gestrande petroltenker tussen Arandis en Swakopmund gesteel het.
Volgens die polisie het ’n sekuriteitswag van Rubicon Security die brandstoftenker bewaak toe vier mans met ’n dubbelkajuitbakkie stilhou. Hulle het na bewering 25 liter-kanne by hulle gehad en het glo van die brandstof uit die tenkwa gesteel.
Die wag het intussen hulp ontbied. Dit blyk uit die misdaadverslag toe die gewapende sekuriteitsbeamptes van Rubicon Security stilhou, het een van hulle ’n skoot met sy dienspistool afgevuur en ’n 35-jarige man getref.
Die sekuriteitsbeamptes het twee verdagtes, insluitend die een wat gewond is, in hegtenis geneem. Die ander twee het van die toneel gevlug.
Die gewonde man is in ’n kritieke toestand na die staatshospitaal op Swakopmund geneem, vanwaar hy na die Katutura-staatshospitaal in Windhoek oorgeplaas is.
Die polisie se ondersoek na die voorval duur voort.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie