Skoolhoof van Swakop sterf aan Covid-19
Skoolhoof van Swakop sterf aan Covid-19

Skoolhoof van Swakop sterf aan Covid-19

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Huldeblyke het gister uit onderwys- en ander kringe ingestroom nadat die skoolhoof van Pro-Ed Akademie se hoër­skool op Swakopmund, mnr. Henry McCarthy, Sater­dagaand in die Lady Pohamba private hospitaal in Windhoek aan Covid-19 dood is.

Dit was nadat hy Vrydag met 'n noodvlug van die Welwitschia private hospitaal op Walvisbaai na Windhoek oorgeplaas is toe sy toestand versleg het.

Hy het op 23 April in dié hospitaal 50 geword en was toe reeds baie siek, het sy vrou, Elmine, gister vertel. Sy is 'n onderwyseres by Walvisbaai Hoërskool.

“In 'n stadium daarna het dit met hom begin beter gaan en verlede week kon ons oor 'n afstand buite die hospitaal kuier toe hy besig was om fisioterapie te kry. Maar kort daarna het sy ­toestand weer skielik versleg.”

Haar man se dood volg sowat drie weke ná dié van haar ma, me. Wilna du Plessis (76), en haar tannie, me. Hermine ­Raubenheimer (79) – ook aan Covid-19.

“'n Maand voor my ma en my tannie se dood, het ons as familie almal op Walvisbaai saam gekuier. My tannie het uit Roodepoort (in Gauteng) by my ma kom kuier – eintlik om met haar te simpatiseer en haar te kom ondersteun ná my pa se dood.”

Elmine se pa, ds. Roelf du Plessis, afgetrede predikant van die Gereformeerde kerk op Gobabis, is in Augustus verlede jaar dood.

“Sy het haar kuiertjie in Namibië op Walvisbaai afgeskop en ons was almal saam. Kort daarna het my ma en my tannie albei siek geword. Hulle was drie weke in die hospitaal en toe is hulle dood,” het 'n hartseer Elmine gister vertel.

“Ons weet nie of hy by my ma en tannie Hermine aangesteek het, of die virus elders gekry het nie. Ons een dogter, Elmie (17), het ook positief getoets, maar was nie lank siek nie.”

Mee. Du Plessis en Raubenheimer se ouer suster, me. Adelheid van Vuuren (82), is op 3 Julie 2020 in Suid-Afrika dood nadat Covid-19 slegs twee weke ­vantevore by haar gediagnoseer is.

Elmine het gister gesê onderwys was haar man se hele lewe. “Dit was sy passie. Hy was 'n ewige student en het altyd gesê 'n onderwyser mag nooit ophou leer nie, want hy moet ander kan leer. Daarom het hy twee honneursgrade gehad.”

'n Vriend van hom, mnr. Alex Maritz, het só op Facebook hulde gebring: “. . . Deur en deur 'n man van onderwys/sovele kind die weg gewys./Baie spore het jy gelaat/daar oral, maar selfs op straat.”

McCarthy was die laaste drie jaar ten nouste betrokke by die ontwikkeling van die nuwe leerplan vir skole wat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se leerplan volg.

Hy was die IEB-skoolhoofde se verteenwoordiger vir Namibië, die Noord-Kaap, Noordwes en die Vrystaat, en het op die komitee gedien wat deur die Namibiese Afrikaanse Privaat ­Skole-organisasie (Napso) opdrag gegee is om die ­leerplanontwikkelingsproses te bestuur.

Hy laat buiten vir Elmine en Elmie, ook drie ander kinders agter – Gerald (18), Roelf (14) en Louise (13).

'n Gedenkdiens sal na ­verwagting Vrydag by Pro-Ed Akademie op Swakopmund gehou word.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!