Skoolvakansie vervroeg
Skoolvakansie vervroeg

Skoolvakansie vervroeg

Geen evaluering sal aan die einde van die tweede termyn vir preprimêre tot graad 9-leerlinge gedoen word nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Die wintervakansie vir leerlinge is met byna twee maande vervroeg, met skole wat nou reeds aanstaande Vrydag (25 Junie) sluit en weer ’n maand later op 26 Julie open.

In ’n poging om op te maak vir die verlore tyd tydens die vakansie, sal die vakansietydperk in die derde termyn verkort. Daar sal ook geen evaluering aan die einde van die tweede termyn vir preprimêre leerlinge tot graad 9 wees nie. Die skooljaar sal dus net twee evalueringspunte op die einde van die jaar se rapport hê.

’n Kort breek in die middel van die termyn is ingewerk van 25 tot 30 Augustus. Skole sal ook op 4 en 5 Oktober gesluit wees, terwyl die laaste skooldag vir die jaar op 9 Desember aanbreek.

Dit vorm alles deel van die ministerie van onderwys, kuns en kultuur se hersiene plan om die hoë aantal Covid-gevalle onder leerlinge en onderwysers te probeer hokslaan.

Volgens ’n aankondiging deur die uitvoerende direkteur in die ministerie, me. Sanet Steenkamp, is aangesig-tot-aangesig-onderrig vir preprimêre grade tot graad 9 in Windhoek, en op Rehoboth en Okahandja van vandag opgeskort. Onderrig duur egter steeds deur aanlyn onderrig of die uitdeel van leermateriaal voort tot en met die aanvang van die wintervakansie wat op 25 Junie aanbreek.

Leerlinge in koshuise met bevestigde gevalle moet in die koshuis bly totdat hulle deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gesond verklaar is en kan huis toe gaan.

Met verwysing na graad 10-, 11- en Gevorderde Vlak-leerlinge in Windhoek, en op Okahandja en Rehoboth geld die aanlyn onderrigreël vir die leerlinge ook tot 30 Junie. Dié leerlinge keer egter op 1 Julie terug na skole vir aangesig-tot-aangesig-onderrig.

Met verwysing na graad 10, 11- en Gevorderde Vlak (AS)-leerlinge in die res van die land gaan hulle voort met aangesig-tot aangesig-onderrig. Koshuisleerlinge bly in die koshuis.

Volgens Steenkamp sal dié leerlinge nie vir die wintervakansie op 25 Junie breek nie, maar gaan voort met aangesig-tot-aangesig-onderrig tot 13 Augustus.

In gevalle waar skole Covid-gevalle het of uitbrekings voor die aanvang van die wintervakansie, word van hulle vereis om bestaande protokol in konsultasie met die ministerie van gesondheid, ingesluit die tydelike sluit van die skool vir ’n tydperk soos voorgeskryf deur die ministerie, te volg.

Steenkamp het beklemtoon die welstand en holistiese gesondheid van onderwysers word hoog aangeskryf en daarom sal onderwysers wat vir die hele tweede semester aan diens is, tyd gegun word om te rus.

Sy maan ook bestuur moet verseker met die aanvang van die nasionale eksamens op 11 Oktober, reëlings in plek is om die vereiste rusperiode vir onderwysers te voorsien, terwyl steeds voorsiening gemaak word dat onderrig vir alle grade voortduur.

Ruimte sal in beskikbare koshuise geskep word om dagleerlinge (10, 11, AS) vanaf 27 Junie in die res van die land te huisves. In Windhoek, en op Rehoboth en Okahandja sal dié reëling reeds van 1 Julie geld. Dié voorsiening word slegs gemaak tot met die aanvang van die derde termyn vir die res van die grade op 23 Julie.

Met verwysing na voedingskemas by skole sê Steenkamp baie skole het nog voorraad en strategieë sal uitgewerk word hoe om dit uit te deel. Skole sal met ouers kommunikeer om van die voorraad beskikbaar huis toe te neem. Die skemas en reëlings geld net vir graad 1- tot 7-leerlinge.

Steenkamp doen ook ’n beroep op personeel op streek- en skoolvlak om hulself teen Covid te laat inent, terwyl mobiele inentingseenhede op distriksvlak in konsultasie met die gesondheidsministerie georganiseer moet word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!