‘Skoonheid is om jouself te wees’

Lloyd Zandberg
Lloyd Zandberg - Sy beskryf haarself nie as ‘n poppie nie.

Nee, Nadja Breytenbach (24), Mej. Namibië 2019, het ’n paar aande gelede die nuwe gesig van Namibië geword en haar lewe sal nie weer dieselfde wees nie.

“Op laerskool het ek dit geniet om met poppe te speel en om al die girly things te doen, maar ek onthou ook ek het met seumtjies resies gejaag, en altyd gewen. Op hoërskool, wanneer jy begin uitvind wie jy is en wat jy uit jou lewe wil hê, het ek meer in grimering, mode, en skoonheidskompetisies begin belangstel. Wat my gefassineer het van skoonheidskompetisies was dat hulle hul teenwoordigheid vir ’n goeie saak gebruik het.”

Nadja is in Windhoek gebore en getoë.

“Ek was in Delta Laerskool en het my matriek in 2013 by Delta Sekondêre Skool voltooi. Ek het toe besluit om ’n binnenshuise versiering-kursus by die BHC School of Design in Kaapstad te doen,” sê sy.

Daarná het sy van rigting verander en besluit om sielkunde te studeer.

“Ek het ’n honneurskursus in sielkunde aan die einde van 2018 aan die South African College of Applied Psychology (SACAP) voltooi.”

Nadja moes haar internskap onlangs by die Bel Esprit-sentrum in Windhoek begin, maar weens haar rol as die nuwe Mej. Namibië het sy besluit om vanjaar eerder op haar verpligtinge as ambassedeur vir Namibië te fokus.

As kind het haar toekomsdrome voortdurend verander.

“My drome van wat ek wou word as ek grootword, het daagliks verander. Een droom wat wel waar geword het, was om ’n vrou te word wat ander help het, ’n vrou van inbors.”

Daarom het sy besluit om aan Mej. Namibië deel te neem.

“Tydens my internskapprogram in my honneursjaar het ek by ’n traumaberadingsentrum vir kinders gewerk. Ek het in die tyd besef ek kan soveel meer met my graad doen as om net in ’n privaat praktyk te sit en dat daar baie meer aan die lewe is as om net vir jouself te leef.”

Nadja glo daar is in vandag se wêreld steeds plek vir skoonheidskompetisies.

“Kompetisies van dié aard het nog groot waarde. Jong dames leer hulself baie goed ken, dit bou selfvertroue op, en gee vroue die platform om ’n positiewe, blywende verandering in hul gemeenskappe te maak. Kompetisies behels baie vrywillige werk, wat ek baie belangrik vind, en dat elkeen van ons betrokke moet wees om op een of ander manier terug te gee aan ons gemeenskappe,” sê Nadja.

Skoonheidskompetisies stel ‘n vrou in staat om “kragtig te wees, sonder om haar vroulikheid te verloor”.

Wat beskou Nadja as mooi?

“Vir my is iemand mooi as hulle gemaklik is met wie hulle is. Ek is baie gelukkig met wie en wat ek is. Ek glo elke deel van my liggaam, geheue en geskiedenis het my gemaak wie ek vandag is. Ek glo Namibiërs moet verstaan daar is skoonheid in verskeidenheid. In plaas daarvan om mekaar af te breek, kan ons van mekaar begin leer. Wees ook vriendelik teenoor mekaar. Ek het eerstehands ervaar hoe skadelik woorde kan wees. Namibië is sterker as ons mekaar opbou in plaas van afbreek.”

As daar iets is wat sy aan haarself kan verander, sou sy nie dinge so wou oordink nie.

“Ek sal so graag eerder ‘n oomblik net geniet, as om dit voortdurend te probeer analiseer.”

In haar vrye tyd, wat in dié stadium bitter min is, geniet sy dit om aktief en fiks te wees.

“Ek is mal oor pilates, crossfit, of om myself met tuiswerk besig te hou. Maar ek moet sê, ek geniet Netflix en die rusbank ook geweldig baie. Ek geniet dit ook om net alleen te wees, ’n goeie boek te lees of na musiek te luister.”

Buiten haar liefde vir sport en aktief wees, put Nadja geweldige genot uit die idee dat alles uitwerk soos dit moet.

“Verder, om te weet dat my gesin gesond is, maak my baie dankbaar en gelukkig. My grootste geluk vind ek daarin om ander te help en te weet dat ek ’n positiewe impak op iemand se lewe gehad het.”

Sy verpes oneerlikheid.

Nadja se liefde vir liefdadigheid het voor haar kroning reeds begin.

“Voor my reis as Mej. Namibië 2019 begin het, het ek vrywillige werk by Huis Maerua-kinderhuis en Side by Side Early Intervention Centre gedoen. By Huis Maerua het ek ’n werkswinkel met jong dames gedoen waar ons oor selfvertroue gesels het.

Side by Side bied elke eerste Dinsdag van die maand ’n werkswinkel aan om ouers en versorgers van kinders met gestremdhede meer oor verskillende onderwerpe in te lig.

“Ek het nie meer soveel vrye tyd nie en moes vinnig leer hoe belangrik dit is om tyd vir jouself te maak. As jy nie na jouself omsien nie, hoe kan jy vir ander sorg?”

Sy het nie net ’n voorliefde vir liefdadigheid, skoonheid en modes nie, maar is ook gaande oor reis.

“Ek is lief daarvoor om die wêreld te sien en verskillende kulture te ervaar. Ek het die groot voorreg gehad om al ’n paar dele van die wêreld te sien. Ek vind reis baie belangrik, aangesien dit jou siening van baie dinge verbreed en jou bewus maak van die moontlikhede wat vir jou bestaan. En ek is lief daarvoor om nuwe mense te ontmoet.”

Nadja sal in die toekoms op internasionale platforms teenwoordig wees en glo Namibië hoef nie vir ander lande terug te staan wat skoonheid betref nie.

“Ek glo Namibië het wat nodig is om regtig goed te doen in internasionale kompetisies. Ek dink wat in vorige jare ontbreek het, was vooraf afrigting en opleiding. Mense onderskat hoeveel werk jy moet insit. Maar ek voel geseënd met soveel ongelooflike mense wat my dwing om die beste weergawe van myself te wees.”

Nadja vertrek oor ‘n week Miami toe saam met die voormalige Mej. Heelal, Michelle Mclean, waar hulle onder meer werkswinkels sal bywoon.

“Ek is in die beste moontlike hande.”

PLAN VAN AKSIE

Haar plan is om as Mej. Namibië saam met die Namibia Diamond Training Company (NDTC), een van die hoofborge, ’n “diamantgenerasie” te bou.

“Ek sal drie verskillende streke saam met my twee prinsesse besoek om oor belangrike kwessies wat ons land in die gesig staar te praat.”

Tienerswangerskappe, vroeë skoolverlating en dwelmmisbruik is kwessies wat sy wil pak.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer