Skoonheidsbedryf staan saam
Skoonheidsbedryf staan saam

Skoonheidsbedryf staan saam

Rou materiale, bestanddele en eindprodukte word plaaslik volhoubaar geoes en geproduseer.
Tanja Bause
Tanja Bause

Die kosmetiese en gesondheidsbedryf in Namibië is besig om uit sy nate te groei met talle besighede wat reeds hul produkte na die buiteland uitvoer.

Namibia Network of the Cosmetics Industry (NANCi) is in 2017 gestig en volgens me. Dagmar Honsbein verteenwoordig die organisasie die belange van almal in die bedryf.

“Ons dra die belange van die verskaffers van rou materiaal, die produsente wat bestanddele vervaardig en die eindprodukvervaardigers op die hart.

“Ons het tans 35 lede teenoor sowat tien toe ons begin het. Ons lede sluit in mense wat rou materiaal, soos duiwelsklou, oes en verkoop; die mense wat bestanddele produseer, soos om maroelapitte te pers en die olie te verkoop; asook diegene wat die eindprodukte vervaardig.”

Meer as 60% van NANCi se lede is besighede of gemeenskaps­koöperasies wat aan vroue behoort of deur vroue bestuur word.

NANCi se strategie is op vier steunpilare gegrond waarvan die eerste volhoubare hulpbronbestuur is.

“Ons lede gebruik natuurlike hulpbronne insluitend endemiese en inheemse plante en minerale. Van die gewildste bestanddele is maroela- en !Nara-olies, gedroogde duiwelsklouwortels, seesout en hout­skoolpoeier. Al die hulpbronne moet volhoubaar geoes en die gemeenskappe moet vergoed word.”

Nog 'n pilaar is die toegang tot nasionale en internasionale markte wat NANCi aan sy lede verskaf.

“Ons was al twee keer by die wêreld se grootste internasionale handelskou vir natuurlike skoonheidsmiddels in Duitsland. Die eerste keer het ons ses lede en hul produkte saamgevat en aan die begin van die jaar het ons 11 lede saamgevat. Ons het ons eie NANCi-stalletjie gehad en baie sukses behaal.

“Ons was ook in 2018 by die Intra-African Trade Fair in Kaïro, Egipte, met 20 lede. Die handelskou was baie belangrik vir ons lede omdat volhoubare bande daar gesmee en kontakte opgebou is. So kry Namibiërs nou shea-botter en ons voer maroelaolie soontoe uit.”

HELP PROFIEL UITBOU

“Ons sal binnekort ons lede se produkte by die Craft Centre in Windhoek verkoop. Hul produkte is reeds in talle apteke en winkels soos Spar en Woermann Brock beskikbaar.”

NANCi bied tegniese steun aan al sy lede, bv. met die verpakking en etikettering van hul produkte.

“Dit is uiters belangrik dat die produkte konsekwent aangebied word. Dit moet in goeie gehaltehouers verpak word, veral as dit vir buitelandse markte bestem is.

“Die produkte word op 'n rak saam met skoonheidsmiddels vanoor die wêreld uitgestal, maar niemand sal dit koop net omdat hulle van Namibië af kom nie. Die verpakking moet mededingend wees en die nodige besonderhede van die produk moet op die verpakking vertoon word. Ons help die produsente hiermee.”

NANCi help ook sy lede om op sosialemediaplatforms meer sigbaar te wees.

“Ons het 'n webblad waar al ons lede en hul produkte gelys is. Ons is ook as 'n organisasie op Instagram en Twitter waar ons ons lede bevorder en blootstelling gee.”

NANCi word deur die regering se Grow@Home-beleid gesteun. Sedert 2015 ontvang NANCi finansiële steun van die Duitse GIZ se ProBATS-program. Hulle ontvang ook tegniese steun van die senior kundige diens (SES) en GIZ BioInnovation- programme.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 20° | 34° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 34° Aranos: 22° | 34° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 28° Maseru: 18° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 17° | 24° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 25° Harare: 17° | 21° #REF! #REF!