Skoonmaaksyfers bekend
Skoonmaaksyfers bekend

Skoonmaaksyfers bekend

President Hage Geingob se nasionale opruimings­veldtog het op vele vlakke vrugte afgewerp.
Denver Kisting
Denver Kisting



Meer as 250 000 mense het onlangs tydens die nasionale skoonmaakveldtog skouer aan die wiel gesit.

Só het die permanente sekretaris van die omgewing en toerisme, dr. Malan Lindeque, gisteroggend op die NBC se ontbytprogram Good Morning Namibia bekend gemaak.

'n Ander maatstaf vir die sukses van Operasie Skoonmaak, wat landwyd op 25 Mei gehou is, is die aantal vullissakke wat vol rommel teruggebring is, het hy gesê.

Volgens Lindeque is 1 miljoen vullissakke versprei en meer as die helfte is teruggebring.

Dié nuus kom terwyl Wêreldomgewingsdag – 'n inisiatief van die Verenigde Nasies om bewustheid te kweek – vandag herdenk word.

Die omgewingskommissaris, mnr. Theo Nghitila, het tydens dieselfde program gisteroggend gesê die wenners van die streek wat die beste gekoördineerde veldtog van stapel gestuur het, word volgende week bekend gemaak.

Volgens Nghitilla is dié kompetisie, wat voortaan jaarliks aangebied sal word, daarop gemik om die volhoubaarheid van die nasionale veldtog te verseker.

Naas die kompetisie tussen streke word kompetisies binne elke streke ook beplan, het hy gesê.

Om te bepaal watter streek met die louere wegstap, word daar benewens volhoubaarheid ook gekyk na hoe vindingryk streke omgegaan het om voor hul deure te vee, het hy gesê.

Lindeque het voorts gesê 'n nasio­nale raamwerk oor die impak van 'n skoon omgewing word ook tans ontwikkel.

President Hage Geingob, die hoofdryfveer agter die nasionale veldtog, het voor hy self verlede week in Katutura moue opgerol het, gesê “die nasionale veldtog is sonder twyfel die begin van 'n nuwe hoofstuk vir ons stede, dorpe en nedersettings. Kom ons gebruik die geleentheid om 'n positiewe impak te maak en daadwerklike stappe te doen om Namibië gesond en skoon te hou.”

Geingob het benadruk 'n skoon land is 'n gesonde land.

Volgens die staatshoof is dit almal se plig en verantwoordelikheid om na die omgewing om te sien. Daar­naas moet Namibiërs ook toesien dat hulle onder higiëniese omstandighede woon. “Dit is ons maat­skaplike verantwoordelikheid om te verseker dat ons omgewing bewaar word en (goeie) lewenstoestande vir jare en dekades behoue bly.”

Verskeie rolspelers het hand bygesit om deel te neem aan wat aller­weë as 'n suksesvolle poging bestempel is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!