Skoot klap by skool
Skoot klap by skool

Skoot klap by skool

Dani Booysen
Namibië is ongewoond aan wapengeweld by skole en nie goed voorberei op die hantering van sulke gevalle nie.

Die tragedie waarin 'n 11-jarige skolier die afgelope Donderdag 'n 13-jarige klasmaat per ongeluk by 'n skool in die Ohangwena-streek doodgeskiet het, het die hele land geruk.

Die oupa, wie se vuurwapen dit was, is Vrydag ook in hegtenis geneem. Al drie sy vuurwapens is glo ongelisensieer.

Na bewering het die seun al Woensdag die gelaaide pistool uit die kluis gehaal en dit probeer skool toe neem. 'n Skoot is glo in 'n latrine afgetrek voordat die ongeluk later in 'n klaskamer gebeur het – sonder enige ingryping deur gemeenskaps­lede, maats en onderwysers. 'n Studenteonderwyser het eers daarna op die toneel verskyn.

In almal se belang mag nie van ongemaklike vrae teruggedeins word nie.

Dit sluit in hoekom 'n nuwerwetse veiligheidsbeleid vir skole nog nie toegepas is nie. Nou eers kom die versekering dat die maatreëls eersdaags voltooi sal wees.

Gegewe omstandighede, moet inwoners ook vrae stel oor die sukses van die amnestieveldtog vanaf Augustus 2016 tot Februarie 2017 vir die inhandiging van onwettige wapens. Amnestie is in November 2017 met drie maande verleng en die polisiehoof was toe openlik teleurgesteld met vordering.

Uiteindelik is landswyd 1 276 onwettige vuurwapens, meer as 99 000 rondes ammunisie en 81 ploftoestelle ingehandig. Hiervan het 806 vuurwapens (63%) uit die Khomasstreek gekom en maar net 25 vuurwapens uit Ohangwena – kwalik 2%.

Baie onwettige wapens is beslis nog daarbuite.



So sê ander

22 Januarie 2018



Beeld, Die Burger en Volksblad sê



Die genadelose manier waarop adj.pres. Cyril Ramaphosa ingegryp het om die korrupte kapers van Eskom eenvoudig op straat uit te gooi en te vervang deur 'n nuwe direksie en bestuur, gryp die verbeelding aan.

Uiteraard gaan Eskom se diepsnydende en komplekse probleme nie oornag opgelos word nie. En nog moedige besluite lê voor. Maar die gehalte van die leierskorps wat na vore gestoot is om die probleme te takel, gee hoop. Veral as dit 'n voorsmaak is van wat op nog vele terreine kom. Hopelik is die ingryping 'n finale afskrikmiddel vir die staatskapers. Wat nog 'n ernstige probleem is, is pres. Jacob Zuma se voortgesette presidentskap. Suid-Afrika en Ramaphosa sal nie volle geloofwaardigheid verdien terwyl daar nog om vreemde sentimentele redes aan Zuma vasgeklou word nie.

•NETWERK24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer