Skop jou skoene uit
Lloyd Zandberg - Almal ken hom as Grappi, maar natuurlik is dit nie sy regte naam nie.
Ja, Grappi sonder die ‘e’. Eintlik het hy ‘n sak vol name. Jacob Johannes Petrus Claassens, om presies te wees. Of net Jaco. Of Grappi. Nes jy verkies.
“Dit maak nie eintlik saak nie. Ek is na my oupa vernoem,” sê die 28-jarige gebore Windhoeker.
“Ek het dinge nooit ernstig opgeneem nie. En dis waar die noemnaam Grappi ontstaan het. Dit was hoe ek op skool bekend was. Al die onderwysers, selfs die skoolhoof van Windhoek Hoër, het my dit genoem.”
Jaco is ‘n musikant, reisentoesias, musiekonderwyser en eenvoudig ‘n heerlike, gelukkige mens.
“Ek is iemand wat lief is vir die lewe, musiek, my honde, kos, eet, sing en partytjie hou,” sê hy met ‘n breë glimlag.
Aan die begin van sy musiekloopbaan het hy gereeld in kroeë en op verhoë oraloor die wêreld opgetree om sy stem in die musiekbedryf dik te maak.
“Behalwe dat ek soort van simpel, snaakserig en spontaan is, is my noemnaam vir my soos ‘n uitkyk op my lewe. Alles is ‘n grappie. As die probleem te vreemd of groot is, lag vir hom. ‘n Probleem sal dit nooit, ooit verwag nie, en dan gaan hy sommer verdwyn!”
Ná baie jare in die bedryf en vele naamveranderinge staan hy deesdae bekend as Jacob & Taylor.
“Ek is Jacob en my kitaar is Taylor. Ons het ‘n baie maklike, organiese musiekstyl. Ons kan enige liedjie vat wat jy wil hoor, en ek bedoel regtig enigiets, en dit so sing dat jy jou ore sal aanbid. Ek en Taylor beskou onsself as blues-, rock- en folkkunstenaars. Dit is die goed wat my hart laat klop, en die goed wat vir Taylor laat hop,” sê hy met ‘n effense laggie.
Sy liefde vir musiek is kleintyd al gekweek, en sy pa het ‘n groot rol in die proses gespeel.
“My pa het ‘n baie goeie musiekstyl gehad. Ek het my eerste instrument gekry toe ek so 11 jaar oud was, 'n Casio keyboard, en ek het hom nou nog. Glo dit of nie, hy werk steeds.”
Jaco het geen formele musiekonderrig gehad nie. Hy speel op gehoor.
“Ek kon nog nooit note lees nie. Elke liedjie wat op die TV of die radio gespeel het, het ek gaan uitwerk op my eie manier en net gespeel.”
Dit was toe dat hy besef het daar is musiek in hom wat eendag gaan moet uitkom.
“Ek het my eerste kitaar op die ouderdom van 16 gekry. En van dag een af het ons mekaar verstaan. Sedertien het ek hom nog nooit weer neergesit nie.
Kollig het vir Jaco ‘n paar vrae oor die lewe, sy loopbaan en toekoms gevra.
Hoe gaan dit met jou?
Dit gaan tog net te goed met my. Ons soek elke dag iets om oor te kla omdat daar nie eintlik iets is om oor te kla nie. Ek is gesond, finansieel stabiel en ek het ‘n droomwerk. Ek beskou dit as ‘n voorreg. Boonop bly ek in een van die beste lande ter wêreld en ek is smoorverlief. En ek dink sy is lief vir my ook.
Hoe hanteer 2019 jou tot dusver?
Ek verstaan 2019 is maar ’n moeilike een vir almal, veral as dit by die besigheidsektore kom, maar my ervaring was nie dieselfde nie. Vanjaar het my musiekloopbaan baie goed gedoen. Ek het my eie kitaarskool oopgemaak in die middel van ‘n resessie. En ironies genoeg hou my foon nie op lui nie. My kitaarskool se naam is Jacob & Taylor Guitar Academy en ek geniet dit geweldig baie.
Enige laagtepunte?
Ag, as ek regtig ‘n paar moet uitsoek, is dat ek met erge ekseem gebore is. Ek spot altyd en sê ek is allergies vir die wêreld, en dit is hoekom alles my laat jeuk en opswel. Ek jeuk verskriklik en krap nog erger, en vir iemand wat meestal met sy hande werk, kan party dae moeiliker wees as ander. Maar ek is al so gewoond daaraan. En hoewel dit nie lekker is nie, het dit op die ou end van die dag so deel van my persoonlikheid geraak. Dis wie ek is. En dis oukei.
Het jy streng ouers gehad?
Man, oor die lang termyn was hulle eintlik baie maklik om mee saam te leef. Ek meen, ons almal was kinders, en party dae wou mens jou ouers iets aandoen, maar ek het dit ook nie maklik gemaak nie. Ons was en is maar nog woelig, pappie. Die lang pad wat ons nou saam geloop het, laat ‘n mens mekaar baie waardeer. Hulle sal altyd daar wees vir ons.
As jy kon terugreis in tyd, waarheen sou jy gaan?
Ek hou baie van feite en is verslaaf aan die universe, hoe dit werk en hoe ons bestaan. Ek is oor niks in my lewe spyt nie. Alles gebeur met ‘n rede, maar as daar een ding is waarheen ek dalk sal teruggaan, sou dit wees om vroeër in my lewe te begin musiek maak het.
Wat is die beste raad wat jy al ontvang het, en van wie?
As jy glo dat jy die beste is en elke dag leef asof jy die beste is, sal jy die beste wees. wees My oom Carel Nel het dit eendag vir my gesê en ek glo dit tot vandag toe.
Waar is die mooiste plek waar jy al was?
Loshande Rwanda, The heart of Africa. Dit is ‘n ongelooflike pragtige land en visueel baie aantreklik. Ek en my vriend, hy is ook Jaco, het al ons materiële besittings verkoop, in ‘n Toyota Tazz geklim en net gery. Ons was vir so ongeveer ‘n jaar op die pad en het musiek vir kos en slaapplek gemaak. Dit was die trip van ‘n leeftyd gewees en ek het so baie van myself en die wêreld geleer.
As jy ‘n slegte dag het, wat doen jy om jouself beter te laat voel?
‘n Koue bier met vet biltong maak baie dinge reg. Ek gryp vir Taylor en speel rustige, sagte melodieë. En dan verlaat ek die aarde vir ‘n paar ure. In dié oomblikke skryf ek altyd die lekkerste. Partykeer het mense ‘n slegte situasie nodig om ‘n goeie liedjie te skryf.
Watter instrumente kan jy alles speel?
Akoestiese kitaar, klassieke kitaar, elektriese kitaar, tromme, kazoo, ukulele. Ek het onlangs vir myself ‘n konsertina gekoop, en ek leer myself tans om hom te speel.
Waar het jy geleer musiek maak?
Ek het myself geleer. Ek het geen formele musiekopvoeding gehad nie. Ek het gaan kyk na wat ander musikante doen en by hulle geleer. Ek het al in baie plekke oor die wêreld musiek gemaak en dit is waar mens die meeste leer. Dit verg jare en jare se oefening en steeds is daar nog so baie om te leer.
Jy dra blykbaar nie skoene nie. Hoekom nie?
Man, daar is eintlik verskeie redes, maar hoofsaklik oor my erge ekseem. As ek skoene dra, begin my voete baie jeuk en dan begin ek krap. En ek krap tot die bloed vloei. Uiteindelik het ek minder skoene begin dra en toe sommer heeltemal opgehou, Dis nou al so drie jaar sedert ek skoene heeltemal gelos het. Ek het nie eens meer skoene in my kas nie. Of ek nou na ‘n partytjie, winkel, troue of funksie toe gaan, dit maak nie saak nie. Dis ‘n statement aan die wêreld wat sê: Jy hoef nie te doen wat almal doen nie. Jy mag jouself wees. Daar is niks lekkerder as om net jouself te wees nie en ek doen dit elke dag. Dit het deel van my voorkoms geraak. Self toe ek vir drie jaar in Suid-Afrika gewerk het, het mense my geken oor my kaalvoete. Ek sal dit nooit verander nie.
As jy saam met enige ander musikant(e) kan optree, wie sal dit wees?
Jan Blohm of Dan Patlansky. Ek vermoed ons sal mekaar verstaan.
As kind, wat wou jy eendag wees?
Ek het ‘n groot liefde vir diere. Die liefde van my lewe is ongelukkig nie my meisie nie, maar sy weet dit ook, dit is my hondjie. My wit Labrador, Shivas. Ek sou nogal ‘n veearts wou wees.
Wat is op jou bord vir die res van 2019?
Ek is nie lief daarvoor om vooruit planne te maak nie. Ek is meer iemand wat dag vir dag vat, met wat ook al hy bring, en in die oomblik besluite te maak en daarmee saamleef.
Is daar enigiets wat mense nie van jou sal verwag nie?
Ek is baie straightforward. Wat jy sien, is wat jy kry. Ek uiter wat in my gedagtes aangaan. Ek is nie skaam om myself te wees nie. As jy my iets vra, sal ek jou die reguit antwoord gee, of jy daarvan gaan hou of nie.
En ek hou nie van sjokolade nie, glad nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie