Skotland brand man teen koue

Yandi Du Plessis
Pedro Vorster

In Skotland dra jy hoed teen die reën. As Novembermaand aanbreek en die meeste regdenkende mense binne bly, gaan die Skotte en Engelse uit en brand ’n man, of twee in die winterkoue. Die verbranding is nou wel simbolies, maar nogtans vreemd. Skotte en Engelse is tradisionele vyande. Inverness se kasteel op die heuwel kan getuig van beurtelingse besettings en vernietigings van beide kante, tog brand hulle die mannebeeld saam met oorgawe. Boonop, om die gesamentlike joligheid aan te vul, volg hulle die brandritueel op met ’n vrolike vuurwerkvertoning.

Die gebruik spruit uit die voorval in 1605 toe die Katoliek Guy Fawkes met 13 ander saamgesweer het om Koning James die Eerste te vermoor. Hy pas die buskryt onder die parlement op en word betrap net voordat hy die Britse parlement, koning en al, die lug kon inblaas. Arme Fawkes sou 31 Januarie die volgende jaar gehang word. Hy spring egter die gewone straf vir hoogverraad vry wat behels dat jy eers deur ’n perd gesleep word, gehang word tot jy bewusteloos is, wanneer jy bykom ontman word en ten slotte wag ontweiding. Eina. Fawkes word dit alles gespaar. Hy val vroegtydig van die galg af en breek sy nek.

In Suidelike-Afrika word die tradisie in November met vuurwerke minder ernstig opgeneem, tot menige Namibiese troeteldier se dankbaarheid.

Kleiner brandende man-seremonies vind dwarsoor die Skotse platteland plaas, na gelang van streke en dorpe se begrotings. Inverness is die kulturele hoofstad van die Skotse Hooglande en sit gewoonlik ’n vet bedrag opsy vir vuurwerke. Dus volg verkeersknope in die donkerte op pad na die groot spektakel in die middestad.

Die seremonie vind plaas op een van Inverness se hope sportvelde langs die Nessrivier. Hier in die donker en in ’n fris luggie spog en swaai manne vuurballe as voorlopers tot die aansteek van die reuse, bykans sewe meter hoë palet. Bo-op die stellasie is ’n beeld wat arme ou Guy voorstel.

Tipiese karnavalstalletjies en meganika lok kinders om skrou-helder vlieënde pierings, of perdjies te ry. Spookasem moet daar wees en is, met ander gemorskos. In alle goedkoop glorie is daar vermaak, veral vir die kinders en dit is hier waar Skotse ouers se verdraagsaamheid, lamsakkigheid of deugsaamheid in wisselende mates beproef word.

Verbranding was in Skotland die lot van vroue wat as hekse skuldig bevind is. Die laaste slagoffer van bevooroordeling is in 1727 in Dornoch, noordoos van Inverness, in die publiek verbrand.

Net buite Forres, ’n klein dorpie ook noord van Inverness, trek ’n vars bossie blomme op drie kliprandstene my aandag. ’n Plaak daarop verduidelik vrouens wat aan heksery skuldig bevind was, is hier in olie behandelde vaatjies gesit, wat deursteek is met skerp prieme en dan van die nabye Cluny-heuwel afgerol. Waar die vaatjie met sy grusame inhoud tot rus kom, is dit aan die brand gesteek. Die drie klippe was die rusplek van een ongelukkige.

Lynda nooi ons vir ’n heerlike aandete. Sy is ’n Skot en is met ’n Ier getroud. Sy is ’n vriendelike ondernemende besigheidsvrou.

Vreugde in Skotland is sonskyn, maar die flou son neem in November tot Januarie ’n lae trajek bo die horison en skyn dan pal in my oë.

Dan verlang ek huistoe.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!