'Skotte is moeg vir verkiesings'
'Skotte is moeg vir verkiesings'

'Skotte is moeg vir verkiesings'

NAMPA
Die meeste kiesers in Skotland wil nie nog 'n referendum oor onafhanklikheid van Brittanje hê nie, en steun vir die afstigting het ook afgeneem, volgens 'n Kantar-peiling.

Die Skotte het in Junie 2016 se referendum met 'n groot meerderheid gestem om deel van die Europese Unie (EU) te bly, wat teenstrydig was met die res van Brittanje se besluit om die EU (Brexit) te verlaat.

Skotland se nasionale party (SNP) is aan bewind en sê dit beteken die land behoort 'n nuwe kans gegun te word om te besluit of hy nog deel van Brittanje wil wees.

Die Brexit-kwessie het blykbaar nie die beweging vir onafhank­likheid laat opvlam nie, volgens Kantar se peiling van 1 060 volwassenes. Dit is uitgevoer nadat Nicola Sturgeon, premier van Skotland, 'n referendum vir 2018 of 2019 aangevra het.

Van dié wat ondervra is, het slegs 26% gedink daar moet op dié tye oor onafhanklikheid gestem word, terwyl 18% meen dit moet later gebeur. Minstens 46% glo die ­referendum moet nie plaasvind nie.

Die probleem is groot nuus in Skotland, voor 'n verkiesing wat op 8 Junie in Brittanje gehou word.

Kantar het bevind dat 55% van die mense wat gesê het hulle sal beslis stem in 'n referendum, teen onafhanklikheid sal stem, terwyl 37% ten gunste daarvan is en nog 8% onseker is.

In 'n referendum in 2014 het die Skotte teen onafhanklikheid gestem met 'n meerderheid van 55%. Ander onlangse peilings in Skotland het aangedui dat soortgelyke vlakke teen en vir onafhank­likheid steeds geld.

Onafhanklikheid sal meer as 300 jaar van ekonomiese en politieke betrekkinge tussen Engeland en Skotland beëindig.

Tom Costley, hoof van Kantar in Skotland, het verskeie moontlike redes voorgestel vir die verswakte steun vir onafhanklikheid, insluitende die media se kritiek teenoor SNP se prestasie op ander gebiede soos gesondheid en onderwys.

“Die veranderende ekonomiese vooruitsig in Skotland, veral wat die oliebedryf betref, kon ook kiesers aangemoedig het om onafhanklikheid weer te evalueer,” meen Costley.

“Boonop is daar die moontlikheid dat die Skotte moeg word vir ­verkiesings, veral met Theresa May, premier van Brittanje, wat 'n ­verkiesing vir Junie reël. Die idee van 'n uitgebreide referendumveldtog is dalk te veel vir die Skotse kiesers.”

Verskeie peiling het vir May se Konserwatiewe party 'n groot meerderheid teen die opposisie voorspel. In Skotland sal die SNP na verwagting dominant bly, hoewel die Skotse Konserwatiewe party die SNP se posisie kan verswak.

– Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!