Skouspel by Klein-Aus Vista nie almal beskore

Een van die spesiale resiese op die kalender vind die naweek plaas.
Andrew Poolman
Andrew Poolman



Die maksimum kapasiteit vir inskrywings is reeds lankal gevul vir die gewilde Standard Bank Klein-Aus Vista bergfietsuitdaging komende Saterdag en Sondag by die vakansieoord in die suidweste van die land.

Die roete deur die immer aanskoulike natuurskoon tussen die granietberge het toenemend 'n gesogte trekpleister vir bergfietsryers geword – en is volgens 2020 se manskampioen Tristan de Lange loshande die mees uitdagende in die land.

In onlangse jare het gedugte ryers soos De Lange, Alex Miller, Xavier Papo, wyle Costa Seibeb, Irene Steyn, Michelle Vorster en Elanor Grassow byvoorbeeld onder die wenners getel.

De Lange, vanweë deelname in Suid-Afrika, het nie weer ingeskryf nie. Die plaaslike wonderseun Alex Miller behoort dus in 'n klas van sy eie te wees indien die tydsberekening van die goedkeuring van sy visum om by sy nuwe professionele span in Oostenryk (Team Trek Vaude) aan te sluit, sy deelname moont­lik maak.

Indien Miller ry, sal De Lange se 2020-tye sy grootste uitdaging wees: 3 ure 36 minute vir die Volle Marathon (64 km) en 4 ure 41 minute vir die Ultra-afstand (97 km).

Die hooforganiseerder, Piet Swiegers, sê Elanor Grassow sal terug wees om haar titel oor 64 km teen Irene Steyn en Gabriela Raith te verdedig, ná haar wentyd van 5 ure 26 minute verlede jaar.

“Geen vrou het laasjaar aan die Ultra-marathon deelgeneem nie, maar die naweek sal Courtney Liebenberg as enigste vrou die 97 km aanpak.”

Die byeenkoms, in sy tiende bestaans­jaar, se beginpunt vir al die afstande is by Klein-Aus Vista Lodge, twee kilometer wes van Aus op die B4-hoofpad na Lüderitz.

Op dag een – Saterdag tussen 16:00 en 17:30 – ding die jaers in 'n tydtoets mee, deur in tussenposes van 30 sekondes weg te spring. Dié tydtoets (11.7 km met 395 m klim) is net vir deelnemers in die MTB Ultra- en Volle Marathons en dié uitslae word by die volgende dag se resiestye getel om die totale tyd te bepaal.

Die statistiese data onderstreep Swiegers se stelling dat die byeenkoms nie vir beginners bedoel is nie.



MTB ULTRA-MARATHON: 97 km, 2050 m vertikale klim, 60% enkelspoor

Die rytyd is vyf tot sewe ure, as jy gemiddeld 14 tot 21 km/h handhaaf. Wegspringtyd om 07:00.

'n Afsnypunt is op kilometer 48 ingestel, wat binne 3 ure 30 minute bereik moet word, andersins word jy op die roete vir die Volle Marathon geplaas en jou vertoning word onder die Volle Marathon se uitslae gelys.

Spesiale pryse word byvoorbeeld toegeken aan die “Sweepslang van die Berge” (die vinnigste tyd gemeet op de afdraand van 1.6 kilometer teen The Wall af), of “die Koning van die Berge” wat ná 80 kilometer Costa se Klim die vinnigste kan bestyg (1.6 km, om 200 meter te klim).



MTB VOLLE MARATHON: 64 km, 1320 m vertikale klim, 60% enkelspoor

Die rytyd is drie tot vier-en-'n-half ure, as jy gemiddeld 14 tot 21 km/h handhaaf. Wegspringtyd is 07:00 saam met die ultra-groep. Ryers van elektroniese fietse (e-bikes) kan die volle of halfmarathon ry, sonder om vir posisies of pryse in aanmerking te kom.



MTB HALFMARATHON: 27 km, 550 m vertikale klim, 70% enkelspoor

Die rytyd is 90 minute tot twee ure teen 'n gemiddelde tempo van 14 tot 21 km/h.



VELDLOOP-MARATHON: 23 km, 500 m vertikale klim

Vanaf die wegspring om 07:45 behoort die drawwers omtrent twee tot drie ure te benodig (teen gemiddeld 5-7 minute/km).

• Kontantpryse van tot N$3 000, of ­koopbewyse by Spar, staan op die spel vir die eerste vyf posisies (mans en vroue), asook vir die eerste drie posisies in die MTB Halfmarathon en die veldhardloop.

Sondagaand se prysuitdeling sal weens sosiale afstand-protokol vanaf 18:00 tot 18:45 volgens kategorieë geskei word.

Benewens Standard Bank (die hoofborg met N$25 000) is Spar, Gondwana Collection en die Namibië Brouerye (NBL) ook medeborge.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!