Skrale 28 telers skou met 259 beeste
Skrale 28 telers skou met 259 beeste

Skrale 28 telers skou met 259 beeste

Die landbou-afdeling van die Windhoek Skou beleef vanjaar een van sy swakte jare wat inskrywings betref.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Tien jaar gelede, in 2009, is altesaam 703 beeste vir Windhoek Skou ingeskryf. Drie jaar later, in 2012, toe spat die rekords met 752 beeste wat in die ring vertoon is.

Hennie Kruger, organiseerder van die skou se lewendehawe-afdeling, het daardie jaar in ‘n onderhoud aan Die Boer gesê die stalle is tjok en blok en lede van die beeskomitee het ingestem om hulle stalle af te staan en hul beeste na die veilingskrale agter die Agra/Bank Windhoek Ring te verskuif.

Kruger sê die droogte het egter vanjaar ’n reuse-impak op inskrywings gehad en net 259 beeste gaan geskou word – die helfte minder as verlede jaar.

Waar daar in 2012 byvoorbeeld 68 telers diere van 14 beesrasse ingeskryf het, is daar vanjaar 28 telers by die skou en net nege rasse word vertoon.

Die Simbras en Brahmane is vanjaar die rasse met die meeste inskrywings – 78 en 77 diere onderskeidelik.

Wat die kleiner rasse betref kom Marko Seefeldt skou met vier Angusse en Neudamm sal weer sy handjie vol Afrikaners vertoon, terwyl Danie Jansen van Vuuren vanjaar die enigste Dexter-teler by die skou gaan wees.

Aangesien die skou vanjaar net 6 dae pleks van 9 dae lank is, is die program ook aangepas, met die beoordelings wat eers Dinsdagoggend begin en Woensdag klaar maak.

Kruger sê daar is ook geen rasgenootskap wat vanjaar nasionale kampioenskappe gaan aanbied nie.

Vir die publiek is daar wel vanjaar ‘n nuwe trekpleister. ‘n Plaasplaza is by die landbou-afdeling ingerig. Kruger sê hy was jare gelede by ’n hoender- en duiweskou op Bredasdorp in die Suid-Afrika, en het daar die eerste keer met ‘n “Petting Zoo” te doen gekry.

Die idee het vasgesteek en kry by die Plaasplaza gestalte.

Hy sê die doel van die plaza is om mense te lok en kinders die geleentheid te gee om van nader met diere soos hanslammers, ‘n melkbok en selfs ’n mak vark kennis te maak.

Daar sal ook dwergbokke, hase, kwartels, ’n hele klomp hoenders en duiwe te sien wees.

Verskillende soorte voëls sal te koop wees en besoekers kan voëlhokke en ander toebehore by die plaza se eie troeteldierewinkel koop.

Die amptelike opening vind Dinsdag om 17:30 in die arena plaas, en die veeparade en prysuitdeling Donderdag om 16:30.

Kommentaar

Republikein 2025-03-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer