Skroothandelaar loop rieme styf
Skroothandelaar loop rieme styf

Skroothandelaar loop rieme styf

N$10 000 se borgtog is aan 'n handelaar toegestaan ná beweerde Telecom-koperkabels op die perseel van sy besigheid gevind is.
Augetto Graig
Augetto Graig - Borgtog van N$10 000 is gister in die landdroshof in Windhoek aan die bekende Windhoekse skroothandelaar, mnr. Ettienne Johan Weakley, toegestaan.

Hy word daarvan beskuldig dat hy in besit van vermoedelik gesteelde koperkabels is.

Die kabels, ten bedrae van N$31 660, wat by sy onderneming, Scrap Salvage, gevind is, is vermoedelik te wyte aan kabeldiefstal wat Telecom Namibia se dienste van die begin van die jaar af lamlê.

Telecom het hul jongste knou op 19 Februarie gekry toe 1 900 pare koperkabels in Windhoek se Cimbebasia-woonbuurt gesny en gesteel is.

Meer as 1 500 kliënte se stem- en datadienste is geraak.

Kabels is uit mangate op die hoeke van Michelle McLean- en Cobaltstraat en verspreidingspunte naby Copper- en Nickelstraat gesteel.

Op 5 Januarie is 'n 1 000-paar-koperkabel op die hoek van Mataman- en Arimasstraat gesteel ná die slotte van mangatdeksels oopgebreek is.

Weakley is in 2005 onskuldig bevind op klagte van bedrog en die diefstal van Telecom-koperkabels, hoewel Dresselhaus Scrap, waarvan hy 'n vennoot was, uiteindelik miljoene Namibiese dollar aan Telecom terugbetaal het.

Die saak waarop hy gister voorgekom het, se verhoor sal op 18 Mei voor landdros Vanessa Stanley voortgaan.

Weakley is Maandag in hegtenis geneem ná ondersoekbeamptes die besigheidsperseel in Windhoek se noordelike nywerheidsgebied besoek het. Volgens Telecom Namibia se woordvoerder, mnr. Oiva Angula, het ondersoekers 'n verdagte tot by die perseel gevolg en die polisie toe daarvan ingelig.

Die staatsaanklaer, mnr. Rowan van Wyk, sê egter die Namibiese polisie was besig om verskeie soortgelyke besigheide te ondersoek toe hulle op die koperkabels afgekom het.

Hy sê die koper se plastiekbedekking was afgestroop en die koper sou waarskynlik vir uitvoer, veral na Suid Afrika, bestem wees.

Afgesien van die hoofklag teen Weakley moet hy ook rekenskap gee oor 'n rits kleiner klagte wat insluit sy versuim om rekord te hou van die koop en verkoop van goedere. Weakley is deur mnr. H. Oosthuizen, van Erasmus en Vennote, verteenwoordig en is deur landdros Stanley aangeraai om nie by die ondersoek in te meng nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!