Skryf maar daai tjek uit - vir nou
Wetgewing word nog aangepas terwyl plaaslike banke kliënte op uitfasering voorberei.
Augetto Graig - Vir nou kan Namibiërs nog op hul tjekboeke staatmaak.
Die Vereniging vir Betalings in Namibië (PAN) het aangekondig die uitfasering van die gebruik van tjeks in Namibië is vir eers uitgestel.
Volgens die vereniging sal tjekbetalings nie meer op 31 Desember vanjaar in Namibië gestaak word nie weens ’n besluit wat saam met die sentrale Bank van Namibië (BoN) geneem is.
Die grootste bedrag wat met ’n enkele tjek betaal kan word, bly N$100 000.
Nogtans dring die vereniging daarop aan dat belanghebbendes die gebruik van tjeks uiteindelik uitskakel.
Die nuwe sperdatum vir dié proses sal nog aangekondig word.
Volgens mnr. Kazembire Zemburuka, woordvoerder van die BoN, is die sentrale bank tans in gesprek met plaaslike banke en ander rolspelers wat kliënte moet verwittig van die uiteindelike uitfasering.
Die BoN werk ook aan die wysiging van relevante wetgewing - veral waar betaling deur middel van ’n tjek uitdruklik vermeld word.
Zemburuka sê die sentrale bank sal nog terugvoer gee oor vordering in hierdie verband.
Hy sê die impak wat die uitfasering van tjeks as betaalinstrument op betalings in die geheel sal hê, is nie betekenisvol nie, gegewe die minimale gebruik daarvan in vergelyking met ander betaalinstrumente.
Die afgelope vyf jaar was daar ’n gemiddelde afname van 13% per jaar in die transaksiewaardes tjeks, sê Zemburuka.
Volgens verlede jaar se beskikbare syfers het die gemiddelde volume en waarde van tjeks 3,5% van alle kleinhandelbetalings in die Nasionale Betalingstelsel behels, terwyl die res toegeskryf word aan alternatiewe betaalinstrumente soos elektroniese transaksies en kredietkaarte.
“Dit is ook opmerklik dat die volume van transaksies met 25% gedaal het van Junie 2016 tot Junie 2017,” sê hy.
Om verbruikers gerus te stel, het die sentrale bank se woordvoerder klem daarop gelê dat tjekrekeninge en werklike tjeks nie dieselfde ding is nie, en dat tjekrekeninge nie geraak sal word wanneer tjeks nie meer uitgereik word nie.
“’n Tjek is ’n betaalinstrument, terwyl ’n tjekrekening ’n transaksierekening is wat ontwerp is vir die uitsluitlike doel om transaksies te doen.
“Die dienste wat ’n tjekrekening aanbied, sluit onder meer in die gebruik van ’n kredietkaart, intekenings op aanlyn dienste en selfoonbankdienste, debietorders en elektroniese fondsoorplasings.
“Kliënte word aangeraai om hul onderskeie banke te nader vir verdere duidelikheid oor die kwessie,” sê Zemburuka.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie