SKRYF SAAM Die naweek wat my wu00eareld verander het
SKRYF SAAM Die naweek wat my wu00eareld verander het

SKRYF SAAM Die naweek wat my wêreld verander het

Minette Brink
Ek kyk op na die son, knip-knip my oë, en bid suutjies dat die ongewenste trane sal opdroog.
Die lug is minder blou as gewoonlik, en ver bo die aarde sien ek ’n honger aasvoël wat om en om en om in die nimmereindigende sirkels van sy eie doolhof vlieg. Lizette gee my ’n onverwagse pomp in die ribbes, en maak my wakker uit my beswyming.
Ek staar na die swaar swarthoutkis voor my. Die vreemdeling wat daarin rus, sak stadig die grond in, on­wetend op pad na sy nuwe rusplek.
’n Week gelede sou hierdie vars graf en blink doodskis vir my ’n bietjie minder as niks beteken het. Ek sou nie die treurende massa se smart gedeel het nie. Hel, ek sou tien teen een nie eers hiervan geweet het nie. Maar die noodlot het anders besluit . . .
Sy naam was Nicholas . . . Nicholas Engelbrecht. Hy was sy ouers se enigste kind, ’n rolmodel vir baie en ’n geliefde figuur in die gemeenskap. So staan dit geskryf. Maar nêrens staan daar enigiets van die goue atletiekbekers wat in sy kamer op die rak ingeryg is nie . . . Die Blou Blits, so het hulle hom genoem – sy naellooptalent. Nêrens word dit eers genoem dat daar nou ’n leë stoel is waar die skool se onderhoofseun gewoonlik gesit het nie. Op nie een plek word daar met sy akademiese vermoëns gespog nie. Ja, selfs sy begrafnisbrief is nederig en sonder verwaandheid – nes hy was, en nes hy dit ook sou verkies het.
Die vorige week se gebeure speel vir die soveelste keer weer in my kop af. My gedagtes is nou al soos een van Ma se antieke plate wat onder die platespeler se armpie vasgehaak het. Dit is vir die soveelste keer weer Saterdagaand. 18:30. Die weerkaatsing in die spieël lieg nogmaals nie vir my nie – met bloedrooi pruillippe, smeulende oë en ’n kort roomkleurige kleefrokkie lyk ek kwaai.
Dankbaar om uit die bedompige en onderverligte badkamer te kom, sweef ek terug na die groepie mense wat ek my vriende noem. Die kelnerin bring my derde brandewyn en Coke. Ek steek ’n sigaret op – Marlboro Red – en trek die rook diep in my longe in, hou dit ’n rukkie daar, blaas uit, en herhaal. Trek, hou, blaas. Trek, hou, blaas. Dit was warm en krapperig in my keel, maar tog nie onsmaaklik nie.
Stadig maar seker begin my kop draai. Tyd gaan vinnig verby, en voor ek mooi besef wat aangaan, het die partytjie na Niël se huis ver­skuif. Die partytjie se tempo is egter nie gebreek nie; inteendeel, dis nou in volle swang. Ek het al lankal vrede gemaak, ek het deel van al daai kinders geraak vir wie jy so gemaklik in die verbystap jou kop voor kan skud . . . sing Die Tuindwergies luidkeels. Almal sing saam. Almal beaam. Skielik en onverwags is dit 23:00. Het die tyd dan so vinnig verbygegaan? Pappa bel – ek sukkel om hom te hoor tussendeur die onsamehangende geraas van ’n klomp dronk, bedwelmde partytjiegangers. Hy gaan oor tien minute hier wees, sê hy, ons moet solank reg staan.
Ons? Skielik onthou ek van Lizette. “Het jy my kleinsussie gesien?” vra ek benoud en aanhoudend vir enig­iemand wat nugter genoeg is om te verstaan. Uiteindelik kry ek haar, êrens in die donker hoek van ’n verlate kamer. Wat het ek aan haar gedoen? vra ek vir myself. Ek moes van beter geweet het – sy is nog te jonk vir sulke dinge. Ek sit haar arm om my lyf, sleep haar kar toe. Gelukkig is Pappa ook moeg, en hy sien nie wat aan’t gebeur is nie.
Ons begin ry. Net toe ek begin dink dat alles wel goed sal uitdraai, verklik die alkohol homself . . . Lizette raak naar. Pappa besef iets is aan die gang, en kyk om. En toe tref ons hom, Nicholas . . . Hy lê stil en stukkend. ’n Sekonde se verdeelde aandag in ruil vir ’n lewe.
***
Hier en daar lig ’n tannie ’n sneesdoekie nader om haar betraande oë droog te vryf. Net sodra dit wil blyk asof die gehuil nou klaar is, begin die trane weer vloei. Moeiteloos. Hoe sou enigiemand kon weet waar die smart van verlies begin en eindig?
Die stewige teddiebeer van ’n man wat ek soms “Pa” noem, verander met elke snik wat aan sy liggaam ruk in ’n klein seuntjie. Mamma se arm is om sy lyf, en haar hand troos saggies oor sy rug. Ek wonder of hulle my kwalik neem¸ dink ek. Dis immers ek wat vir Lizette in die eerste plek beter moes oppas . . . Of neem hulle dalk hulself kwalik?
En toe, asof gestuur deur die Engel wat my hart se weë beter ken as ekself, maak die ou bekende lirieke hulle verskyning in my gedagtes – lirieke so dof dat ek amper vergeet het dat dit nog bestaan. As jy eendag groot is, sal jy weet waarvan ek praat, eendag as jy ouer is, luister na my raad. Dit lyk dalk nou onduidelik, want jy is nog ’n kind . . . Jou hele lewe lê nog voor, jy sal die antwoord vind! sus Amanda Strydom.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!