Skuld-babelaas
Skuld-babelaas

Skuld-babelaas

Die regering se agterstallige skuld aan die private sektor het tot sowat N$3 miljard opgehoop.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Tussen nóg N$2 miljard tot N$2,5 miljard se agterstallige rekeninge, die meeste daarvan verskuldig aan die konstruksiesektor, is in die regering se boeke opgespoor.

Dit is benewens die N$1,7 miljard se uitstaande skuld van verlede jaar waarvoor in die huidige begroting voorsiening gemaak moes word.

Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, het gistermiddag tydens ‘n nuuskonferensie gesê meer as N$1 miljard van verlede jaar se agterstallige rekeninge is reeds vereffen. Om te verseker “niks is gemis nie” is egter weer deur die boeke gegaan. In dié proses is op nóg miljarde se skuld afgekom.

Dit sal binne die drie maande tot einde September betaal word, het hy onderneem.

“Elke rekening wat nie betaal word, knou die ekonomie,” het Schlettwein gesê.

Hy het uitgevaar teen die gebrek aan “begrotingsdissipline” en gesê dit is “growwe nalatigheid”. Werk sal daarvan gemaak word en daar sal gevolge vir dié “wanpraktyke” wees, het hy gesê.

Sowat 40% van die jongste hoop agterstallige skuld – dus tussen N$800 miljoen en N$1 miljard – is geld wat aan die konstruksiesektor verskuldig is. Dit is hoofsaaklik padkontrakteurs, sê Schlettwein.

‘n “Beduidende homp” is agterstallige Psemas-eise en ‘n “aansienlike klomp” is uitstaande rekeninge aan plaaslike owerhede. Dan is daar ook ‘n “hele boel” agterstallige skuld vir reisende staatsamptenare se verblyf, asook geld wat vir vervoerdienste verskuldig is.

‘Pyn’

Die regering het onlangs ‘n lening by Afrika Ontwikkelingsbank (AfDB) aangegaan waarvan N$3 miljard vir 2017-’18 se beraamde begrotingstekort van sowat N$6,12 miljard bedoel was. Dié tekort sluit nie die jongste spul agterstallige rekeninge in nie.

Die AfDB se N$3 miljard is egter beskikbaar en sal vir die agterstallige skuld gebruik word. “Wat nóú belangrik is, is dat ons die pyn verlig en dat ons kontant terug in die ekonomie kry,” sê Schlettwein.

Die regering wat sedert November in ‘n kontantknyp was en dus nie rekeninge betyds kon betaal nie, het ‘n “domino-uitwerking” gehad, het die minister toegegee.

Die private sektor kon ook nie bestee nie en die ekonomie het dit gevoel: Namibië het in die eerste kwartaal vanjaar met 2,7% ingekrimp, die vierde opeenvolgende kwartaal van negatiewe groei en dus steeds in ‘n resessie.

Agterstallige skuld wat nou “vinnig betaal” gaan word, sal die ekonomie stimuleer, glo die regering. “Hopelik sien ons ‘n paar tekens dat groei terugkeer,” sê Schlettwein.

Geld rol

Volgens Schlettwein is sowat 60% - meer as N$1 miljard – van die oorspronklike agterstallige rekeninge van N$1,7 miljard van April tot einde Junie betaal.

Om agterstallige rekeninge te delg, het die regering reeds in Desember N$318 miljoen uit die Padfondsadministrasie (RFA) gebruik om die dringendste skuld aan padkontrakteurs te betaal. Die RFA is intussen vir ‘n tweede keer genader om N$250 miljoen te rekeninge te betaal.

In Maart is spesiale parlementêre goedkeuring verkry om N$200 miljoen se agterstallige eise van Psemas, die staat se mediese fonds, te betaal. Sedert April is nóg N$715,6 miljoen se agterstallige Psemas-eise uitbetaal.

Tans Psemas-eise 50 dae agterstallig, maar dit sal vandeesmaand reggestel word. Daarna sal Psemas-eise, soos in die verlede, weekliks uitbetaal word, sê Schlettwein.

Belasting

Buiten die onvoorsiene agterstallige skuld wat onlangs ontdek is, verloop Jan Taks se plan om sowat N$4 miljard se uitstaande belasting deur vergunnings in te vorder, ook nie na wense nie.

Dié blaaskans van minder rente en geen boetes op agterstallige belasting loop einde vandeesmaand ten einde.

Nog net bykans N$242,8 miljoen van dié belasting is ingevorder sedert die vergunning in Februarie aangekondig is.

Na Julie sal belastingbetalers weer vir die oorspronklike boetes en rente op hul agterstallige bedrae moet pa staan, sê Schlettwein. Diegene wat nie betaal nie, sal met die volle mag van die Ontvanger geslaan word. Dit sluit die vries van bates in, het hy gedreig.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer