Skuld: Stadsvaders skryf miljoene af
Die gevolge van verstedeliking stuur op 'n ramp af as die behuisingskrisis nie dringend getakel word nie.
Denver Kisting en Ronelle Rademeyer
Dieselfde tyd wat die stadsvaders van Windhoek Donderdagaand tydens die raadsvergadering besluit het om N$191 miljoen se oninbare skuld af te skryf, het 'n behuisingskenner oor die nypende behuisingsnood en dienste gewaarsku.
'n Somber prentjie het Donderdagaand oor Namibië se drastiese groei in informele nedersettings ontvou en daar is gewaarsku die gevolge van verstedeliking stuur op 'n ramp af as die behuisingskrisis nie dringend getakel word nie.
Volgens dr. Beat Weber van Development Workshop Namibia (DWN) sit die land op 'n tydbom.
Daar woon tans nagenoeg 600 000 mense in die sowat 150 000 sinkhuisies in die land, het hy gesê tydens 'n praatjie wat die Namibië Wetenskaplike Vereniging aangebied het.
Intussen sit die Windhoek-munisipaliteit met die hande in die hare aangesien baie Windhoekers wat wel 'n dak oor die kop het, nie kan bekostig om hul munisipale rekenings te betaal nie.
Betaling vir dienste wat deur inwoners aan die munisipaliteit verskuldig is, het op 30 April vanjaar op N$642 miljoen gestaan, met N$191 miljoen daarvan wat nie meer ingevorder kan word nie.
Volgens die munisipaliteit is die debiteure wie se skuld nie ingevorder kan word nie, persioenarisse en ander kwesbare inwoners wat nie finansieel in staat is om 'n afbetalingsreëling te tref nie.
Die munisipaliteit sê in 'n verklaring daar is besluit om dit af te skryf op een voorwaarde en dit is dat die konvensionele meters uitgehaal en met meter vir voorafbetaling van dienste vervang word. “Die omskakeling is kritiek belangrik om te verhoed dat pensioenarisse en kwesbare inwoners weer in skuld verval,” lui die verklaring.
Intussen het Weber Donderdagaand gesê 150 000 mense is elke dag van hout vir hul hoofkragbron afhanklik. “Dit is 'n dringende kwessie.”
Volgens hom word daar jaarliks 12 000 nuwe sinkhuise opgerig. Dít huisves nagenoeg 40 000 mense.
Die tragedie, sê hy, is dat verstedeliking daartoe lei dat jong, energieke mense hulle tot stedelike gebiede wend in die hoop op beter lewensomstandighede vir hulself en hul geliefdes.
DWN is 'n liefdadigheidsorganisasie wat fokus op gemeenskapsontwikkeling, menslike nedersettings en – ontwikkeling.
Hoewel verstedeliking 'n wêreldwye uitdaging is, het Afrika en Namibië te kampe met spesifieke probleme. “Die ekonomiese, maatskaplike en omgewingskoste verbonde aan informele groei en onbeplande stedelike ontwikkeling is baie groot vir Namibië as 'n land en 'n samelewing. Nuwe vorme van armoede en ongelykheid sal oor die volgende geslagte verskans word as dorpe nie daarin slaag om maniere te ontwikkel wat help met die oorgang van 'n landelike na 'n stedelike samelewing nie,” lui die inleiding tot Informal Settlements in Namibia: their nature and growth.
In die voorwoord van dié boek, wat Weber en dr. John Mendelsohn oor die kwessie geskryf het, sê die voormalige minister van stedelike en landelike ontwikkeling, me. Sophia Shaningwa, begrotingsuitdagings en verouderde wetgewing is beperkende faktore.
Maar, sê sy, dít regverdig geen verskoning vir 'n gebrek aan optrede nie.
Sy het voorts gemaan dat voortslepende armoede 'n reuse-impak op die plaaslike ekonomie het.
Sou Namibië as 'n middelinkomsteland ekonomiese vooruitgang wil beleef, móét dieselfde geleenthede aan alle inwoners beskikbaar wees, sê sy. “Solank as wat die meerderheid van Namibiërs uitgesluit word van die voordele van 'n groeiende ekonomie – en grondeienaarskap in 'n stedelike gebied is een van die belangrikste kenmerke van insluitende en regverdige ekonomiese groei – loop ons groot risiko's dat dié groei nie volhoubaar sal wees nie.”
Tussen 1991 tot 2011 het Namibië se bevolking oorhoofs gegroei van 1 409 915 tot 2 113 077 mense. Dié toename verteenwoordig bevolkingsgroei van 49,9%.
Tydens hierdie tydperk het stedelike bevolking bykans drie keer geklim – van 382 280 tot 903 434 inwoners, terwyl die landelike bevolking net met 220 000 mense toegeneem het van 1991 tot 2001.
Tussen 2001 en 2011 het die landelike bevolkingsgroei afgeneem met nagenoeg 20 000 mense.
Die huidige adjunkminister van stedelike en landelike ontwikkeling, mnr. Derek Klazen, het 'n paar weke gelede gesê alle rolspelers moet hul kant bring om landelike gebiede uit die as te help herrys.
Hy het in die Nasionale Vergadering (NV) gesê verstedeliking plaas beduidende druk op maatskaplike en omgewingshulpbronne. “Dit lei ook tot 'n toename in die vraag na kern- openbare dienste soos behuising, sanitasie, skoon drinkbare water, krag, vervoernetwerke, openbare gesondheid en onderwys.”
Alle belanghebbendes sal moet koppe bymekaar sit om dié uitdagings te takel wat verstedeliking teweegbring, het hy geëis.
Klazen het in die NV gereageer op vrae van mnr. Apius Auchab, die leier van die United Democratic Front (UDF), oor die toename in informele nedersettings, spesifiek sinkhuise.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie