Skuldbom tik
Hoewel die hersiende begrotingstekort van bykans N$17,6 miljard aansienlik kleiner is as die N$21,4 miljard in die hoofbegroting, is dit steeds Namibië se grootste tekort nóg.
Jo-Maré Duddy – Die regering gaan vanjaar bykans N$120 miljard moet leen om sy boeke te laat klop en teen die einde van 2023-’24 gaan die land se skuld na verwagting meer as N$158 miljard beloop.
In 2020-’21, die huidige begrotingsjaar, gaan totale skuld 68,8% van Namibië se bruto binnelandse produk (BBP) beloop. Teen 2023-’24 gaan dit bykans 78% wees – meer as dubbel die regering se plafon.
Finansminister Iipumbu Shiimi se halfjaar-begrotingshersiening, wat hy gistermiddag in die parlement ter tafel gelê het, toon die regering gaan vanjaar sowat N$2,5 miljard méér moet leen as die bykans N$117,3 miljard wat in die hoofbegroting van Mei beraam is. Dit sluit ‘n lening van N$2,25 miljard by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) in.
Gekoördineerde pogings om Covid-19 aan bande te lê, werp vrugte af, maar eis ‘n hoë tol van die ekonomie, het Shiimi gesê.
Mnr. Rowland Brown, direkteur van Cirrus Capital, sê die styging in skuld kan net volhoubaar wees indien die ekonomie in die komende jare wesenlik groei.
“Dít vereis diep en deeglike, asook vinnige hervorming,” het hy gisteraand aan Republikein gesê.
SLEUTELSYFERS
Die hersieningsbegroting voorkom kwaai besnoeiings en beskerm besteding wat ekonomiese groei in die lang termyn en die voorsiening van noodsaaklike goedere en dienste versterk, sê Shiimi. Dit voorkom voorts die skielike onttrekking van geld aan nasionale programme wat Covid-19 bestry.
Deur N$841,6 miljoen tussen begrotingsposte rond te skuif, kon Shiimi die totale beraamde besteding vir 2020-’21 op bykans N$72,8 miljard hou, dieselfde as in die hoofbegroting.
Totale inkomste van bykans N$55,2 miljard word verwag – meer as die amper N$51,4 miljard in die hoofbegroting. Shiimi maak staat op heelwat meer inkomste-, maatskappy- en kapitaalwinsbelasting as in die hoofbegroting, waar die skatting bykans N$15,4 miljard was. Nou is dit sowat N$18,8 miljard.
Besteding sal vanjaar na raming 41,8% van BBP wees. Dit sal oor die medium termyn krimp en teen 2023-’24 behoort dit 35% van BBP te wees. Inkomste gaan egter na verwagting ook verklein – van 31,7% van BBP in 2020-’21 tot 30,9% in 2023-’24.
Brown sê Shiimi was “versigtig” in sy besnoeiing van uitgawes ondanks die beduidende afname in inkomste in die medium termyn.
“Dit beteken begrotingstekorte is groot en dat die skuldlas sal voortgaan om vinnig te styg,” sê hy.
Hoewel die hersiende begrotingstekort van bykans N$17,6 miljard aansienlik kleiner is die N$21,4 miljard in die hoofbegroting, is dit steeds Namibië se grootste tekort nóg. Shiimi beoog om die tekort teen 2023-’24 tot sowat N$8,3 miljard te verklein.
Die regering gaan vanjaar sowat N$7,7 miljard aan rente op sy skuld moet opdok. Teen 2023-’24 gaan dit meer as N$10 miljard wees.
WENNERS
Vir ‘n verandering is die ontwikkelingsbegroting nie tydens die hersiening gesny om vir hoër bedryfsuitgawes te betaal nie. Inteendeel, die ontwikkelingsbegroting is van N$6,4 miljard in Mei tot N$6,5 miljard verhoog.
Van die bykomende N$326,4 miljoen wat aan die ministerie van basiese onderwys, kuns en kultuur toegeken is, gaan N$200 miljoen vir infrastruktuur. Die oorblywende N$126,4 miljoen is vir personeeluitgawes bestem.
Die begroting vir waterinfrastruktuur is met N$40 miljoen vergroot.
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het N$147,6 miljoen ekstra vir medisyne en Covid-verwante uitgawes gekry.
Van die uitgawes wat verklein het, is reis- en verblyftoelae. Bykans N$227 miljoen hiervoor is in die hoofbegroting opsy gesit, maar die hersiene bedrag is sowat N$185 miljoen. Dit is onder meer aan reisbeperkings tydens die pandemie te danke, het Shiimi gesê.
KOMMENTAAR
Brown sê hoewel Shiimi se begrotingstoespraak beloftes van hervormings bevat en daar goeie idees in sy voorstelle is, is dit in dié stadium net beloftes.
Die omvang van dié hervormings is egter nie genoeg om vinnige ekonomiese groei en werkgeleenthede aan te dryf nie.
“Ons het ‘n aggressiewe dereguleringsplan nodig eerder as om op nóg ‘n welvaartsplan te fokus,” meen Brown.
Volgens Shiimi is een van die strategiese ingrypings om die ekonomie te stimuleer en werkgeleenthede te skep, ‘n herstelplan as deel van die Harambee-welvaartplan. Dit sal deur die loop van die jaar afgehandel word, het hy gesê.
Me. Eloise du Plessis, die navorsingshoof van PSG Namibia, sê die hersieningsbegroting bevat ‘n paar positiewe punte. Dit sluit in die gebruik van private kapitaal deur samewerkingsooreenkomste, die ondersteuning van klein besighede en die notering van MTC op die Namibiese aandelebeurs (NSX) volgende jaar.
Sy is ook beïndruk deur Shiimi se aankondiging dat ‘n kleiner salarisrol ‘n prioriteit is en dat vrywillige vervroegde aftrede vir staatsamptenare ondersoek word.
Luidens die hersieningsbegroting beloop die staatsdiens se totale salarisrol vir 2020-’21 meer as N$28,7 miljard. Die dokument bevat egter geen projeksies oor vergoeding in die medium termyn nie.
“Daar moet nog baie gedoen word,” het Du Plessis aan Republikein gesê.
“Ek is nie seker dat hierdie genoeg is om ons uit die moeilikheid te kry nie, maar ek is dankbaar dat minister Shiimi wel sekere brieke aangeslaan het en nie bloot verdubbel het op besteding nie,” sê sy.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie