Slagplaas in veld skok in Karibib-omgewing

Die slagplek van 28 van die gemsbokke dui op ‘n wildstelery sowat vier tot ses weke gelede.
Des Erasmus
Des Erasmus - Lede van ‘n eenheid teen wildstropers het gister reeds op die skedels van meer as 51 gemsbokke op ‘n plaas in die driehoek tussen Karibib, Omaruru en Okahandja afgekom.

Onder die reste was ook bewyse van enkele koedoes wat daar in strikke gevang en geslag is. Nog plase in dieselfde omgewing moet nog deur lede van die K9APU, ‘n eenheid teen wilddiewery, geskud word.

Die slagplaas van die wild is in ‘n enkele gebied met ‘n straal van sowat 1,5 km. Sondag was meer as 60 strikke reeds deur lede van die veldmag uitgehaal. Aanduidinge was daar dat dieselfde strikke herhaaldelik deur die stropers gebruik word. Dit word so versigtig gestel dat selfs lede van die ondersoekspan byna daarin beland het.

Die slagplek van 28 van die gemsbokke dui op ‘n wildstelery sowat vier tot ses weke gelede. Die ander 23 skedels kan die reste van ‘n strooptog aan die begin van die jaar wees.

Die betrokke grondgebied lê naby ‘n grondpad en aanduidinge is dat die stropers die karkasse in die veld uitmekaar haal en dat hulle dit dan pad toe dra om in die smokkelhandel verkoop te word.

Net die koppe word in die veld gelaat.

Daar is betroubaar verneem dat die onmoontlike situasie reeds op ‘n vergadering van die betrokke boerevereniging bespreek is.

‘n Beroep is op lede gedoen om almal hul plase vir ‘n wildstelery na te gaan of te laat nagaan.

Soos nou al gebruik is in die veldtog teen ‘n wilddiewery, is die presiese plek van die grusame ontdekking nie verstrek nie, omdat dit opvolgoperasies kan beïnvloed.

Die stropers is blykbaar bewus van die agtervolging en op plekke is op strikke afgekom wat nie nagery was nie. Dit dui daarop dat die wilddiewe die wyk geneem het sonder om hul dodelike toerusting saam met hulle te neem.

In die betrokke gebied is daar ‘n saamtrek van mense wat beweer hulle is in diens van ‘n myn. Ander is kleinmyners en algemene leeglêers beweeg blykbaar ook onder die mense.

Kommentaar

Republikein 2025-03-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer