Slagting in Botswana: Groep sien 87 dooie olifante
Slagting in Botswana: Groep sien 87 dooie olifante

Slagting in Botswana: Groep sien 87 dooie olifante

Die skaal waarop die olifante gestroop word, is verreweg die ergste wat hy nog op enige plek in Afrika gesien of waaroor hy gelees het, volgens Mike Chase van die bewaringsgroep, EWB.
Minstens 87 dooie olifante is die laaste paar maande in ’n sensusopname per lug in Botswana gekry.

Die bewaringsgroep Elephants Without Borders (EWB) en Botswana se departement van natuurlewe het die “vars” olifantkarkasse gekry terwyl hulle van 10 Julie af ’n uitgebreide lugsensus gedoen het, sê Mike Chase van EWB.

Hy sê vars karkasse van olifante wat onlangs van kant gemaak is, wissel in ouderdom van ’n paar dae tot drie maande, “dus is die oudste karkas drie maande oud, wat beteken die slagtings het die afgelope drie maande plaasgevind”.

Die karkasse was oor die hele gebied versprei.

Chase sê in die laaste paar maande is vyf witrenosters ook gekry wat van hul horings gestroop is, een daarvan in die Okavango-delta.

“Ons tel elke dag dooie olifante . . . Ek het pas teruggekeer van ’n vlug oor moontlik die mees afgeleë en afgesonderde wildernisgebied in Botswana, en ons het ses karkasse getel.”

SENSUSOPNAME

Hy sê hulle doen van volgende week af hul sensusopname in die Chobe-gebied.

Chase sê die skaal waarop die olifante gestroop word, is verreweg die ergste wat hy nog op enige plek in Afrika gesien of waaroor hy gelees het.

“Botswana was nog altyd op die voorpunt van bewaring en ek is seker dat pres. Mokgweetsi Masisi dié probleem vinnig sal hanteer.”

Maar die regering kan dit nie alleen doen nie, sê Chase.

“Alle toerismevertakkings en nieregeringsorganisasies se samewerking is kritiek belangrik.”

Olifantbevolkings in Zambië en Angola noord van Botswana is volgens Chase tot op die rand van uitwissing gestroop en nou rig stropers hul visier op Botswana, meen hy.

Chase sê stropers teiken spesifiek groot, ou bulle. “Die karkasse wat ek per helikopter bekyk het, was almal ouer as 35 jaar. Hulle het moontlik ook die swaarste tande van tussen 27 en 31,5 kg, of nog groter.

“’n Spesifieke rangorde is vir tande van ’n spesifieke gewig bepaal en ek vermoed sulke groot stukke ivoor is hoog in aanvraag as in ag geneem word dat daar nog net ’n klein aantal van dié bulle met sulke groot tande in Afrika oor is.

“Stropers teiken oënskynlik die olifantbulle wanneer hulle in seisoenale panne gaan water drink,” sê Chase. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer