Slagveld op Nuweland
Slagveld op Nuweland

Slagveld op Nuweland

Rugby
Stephen Nell - Spesialiste en skanderings. Dís waar Robbie Fleck, afrigter van die Stormers, se aandag vandag sal wees terwyl sy spelers 'n welverdiende dag weg van die oefenveld geniet.

Indien Pieter-Steph du Toit se skouerbesering hom nie sal toelaat om Saterdag op Ellispark teen die Leeus op te draf nie, het Fleck 'n enorme hoofpyn wat die lynstane betref. JD Schickerling en Chris van Zyl – albei nr. 5-slotte – is ook op die krukkelys en Fleck het die vooruitsig dat daar dalk nie 'n speler in sy span gaan wees met ervaring van lynstaantekens gee nie.

Kobus van Dyk sou 'n desperate opsie kon wees, maar soos die kaptein, Siya Kolisi, het hy 'n kniebesering opgedoen.

Kolisi is vir 'n skandering gestuur. Die aanvanklike vermoede was dat die Bok-kaptein se besering nie ernstig is nie, maar daar behoort vandag sekerheid te wees.

Dan het die haker Scarra Ntubeni ook 'n beenbesering opgedoen en, soos Du Toit, gaan hy dalk die vrugte daarvan pluk dat hy homself in die rooi gedruk het eerder as om die handdoek in te gooi.

Daar is geen sekerheid of Fleck se voorkeur-haker, Bongi Mbonambi, betyds van 'n besering gaan herstel om teen die Leeus te kan speel nie.

Dít alles was 'n duur prys om te betaal vir Saterdag se oorwinning van 34-22 oor die Highlanders op Nuweland, maar die Stormers sal yslike selfvertroue daaruit put.

Des te meer as die omstandighede in berekening gebring word. Die Springbok-slot Eben Etzebeth moes hom Saterdagoggend weens griep aan die span onttrek, Kolisi is kort voor rustyd beseer en Du Toit het homself tot diep in die tweede helfte deur die pyndrumpel gedruk.

Teen die einde moes Chad Solomon, wat verwag het om sy buiging vir die Stormers as reserwehaker te maak, sy lyf agtsteman hou.

“Ons gaan dié week slim te werk moet gaan om seker te maak dat spelers verfris is. As dit beteken dat ons Donderdag vir die eerste keer gaan oefen, moet dit so wees,” het Fleck gesê.



SPANPOGING

Die Stormers wat nie ernstig beseer is nie, sal teen vandag beslis nog lyfseer wees. Dillyn Leyds en Damian Willemse het byvoorbeeld die enorme vleuel Waisake Naholo van voor geduik – die soort dapperheid wat die Stormers se vertoning gekenmerk het. Dit was die Stormers se beste vertoning tot nog toe dié seisoen.

“Ons verdediging was weer goed, maar wat ek veral geniet het, was die ouens se afwisseling op die aanval,” het Fleck gesê.

“Die borg se ambassadeur het elke spanlid as die speler van die wed­stryd aangewys. Daar is baie individue wat uitgestaan het. Seabelo Senatla het ingeklim met sy een-op-een-duikslae, goeie lopies met die bal gemaak en was uitstekend onder die hoë bal.

“Herschel Jantjies het teen die wêreld se beste skrumskakel gewys wat in hom steek en Damian de Allende was yslik in die middelveld nadat hy in die week skaars kon oefen.”

Soos elke ander Suid-Afrikaanse span kan die Stormers waarskynlik die wen van die groep op hul maag skryf, want die Jaguares is gerieflik in die binnebaan. “Ons spelpeil is goed met die pylvak voor ons,” het Fleck gesê.

 – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!