Slamet en Jacobs wen wu00e9u00e9r in Kaap
Slamet en Jacobs wen wu00e9u00e9r in Kaap

Slamet en Jacobs wen wéér in Kaap

Tydrenne
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Richard Slamet, saam met sy navigator Derek Jacobs in sy I-S Freight Services S5 Toyota RunX S2000 4x4, het Saterdag die 2017 Malmesbury-tydren in die Wes-Kaap gewen.

Vir Slamet, voorsitter van die Windhoek Motorklub, en Jacobs (Cape Car & Motorcycle Club) was die tweede ronde van die Wes-Kaapse spesiale trajek tydrenkampioenskap ook hul tweede oorwinning in Suid-Afrika vir 2017.

Vroeg verlede maand was sy triomf by die Klipdale-byeenkoms die eerste ooit deur 'n Namibiese tyd­renjaer in die Wes-Kaap.

Hoewel die Wes-Kaap tans onder 'n hewige droogte gebuk gaan, het 'n gees van afwagting en optimisme geheers. Die tydren wat oor net ses spesiale trajekte van 87 kilometer op die deelnemers gewag het, was uiters droog met stowwerige toestande wat gou die sig bemoeilik het. Die eerste drie sneldele was die moeilikste en het sy tol op die voertuie geëis.

Allan Martin van Walvisbaai Motorklub en sy navigator Carl Peskin (Wes-Kaap) het vir die eerste drie sneltrajekte gemaklik in sy J&P Hydraulics S5 VW Polo S2000 4x4 voorgeloop, voordat die Polo 'n nuk in sy ontbrandingstelsel ontwikkel het om Martin se verdere deelname te kelder.

Oswaldo Mendes en navigator Tinus Malan (beide van Walvisbaai-klub) met sy Sky-Way S5 Subaru Impreza S2000 4x4 turbo, het 'n welverdiende algehele tweede plek los gejaag. Maar dit was die Slamet en Jacobs kombinasie vir wie die Kaapse jaers nie kon hokslaan nie. Nadat Slamet se steeks kragstuur herstel was wat hom in die eerste twee sneldele gekniehalter het, was die Namibiër onkeerbaar om sy tweede agtereenvolgende oorwinning te behaal.

“Ons het skaars begin jaag, toe die RunX moeilik begin stuur en twee kilometer verder was die kragstuur totaal en al nutteloos, wat die kar bykans onbeheerbaar gemaak het. Ek het sneldele een en twee so gery en my pa Ronald kon toe die lek in die pomp vind en tydelik herstel sodat ek die volgende trajek kon aflê,” het Slamet aan Republikein vertel.

“By die volgende dienspark is die pomp ten volle herstel en het ons boonop uitgevind dat ons gerieflik in die tweede posisie net 39 sekondes agter die voorloper lê. Daar was drie sneldele oor en ek was vol vertroue dat ek beter tye as in die vorige drie sou opstel. Ongelukkig vir Allan Martin, die voorloper, het sy VW Polo voor die aanbreek van die laaste drie trajekte gebreek en ek was in die eerste posisie sonder om daarvoor te baklei. Sneldele 4, 5 en 6 was 'n herhaling van die eerste drie en ek kon sonder druk die beste tye opstel en myself geniet,” het die wenner verduidelik.

Slamet kon nie oor sy diensspan en ondersteuningsstruktuur uitgepraat raak nie.

“Eerstens alle eer en dank aan my Hemelse Vader vir die geleentheid vir ons om hier te kon deelneem, asook al my borge wat dit moontlik gemaak het. Dankie aan die wonderlikste diensspan wat kalm gebly het en die kar ná drie moeilike sneldele sonder kragstuur betyds kon herstel om 'n wenner-voertuig aan my terug te besorg,” het Slamet op Facebook geskryf.

“Dankie aan my navigator wat my onder moeilike omstandighede kalm en op die regte roete gehou het. Derek is inderdaad die beste wat daar is. Dankie aan my vrou, dogters en ma wat geduldig tuis vir die uitslag gewag en ons in hul gebede gehou het. Laaste maar nie die minste nie, dankie aan elke persoon (plaaslike ondersteuners) wat ons by die geleentheid ondersteun het en die mense tuis wat konstant boodskappe van bemoediging gestuur het en wou weet wat die tye en uitslag was. Dit maak ons nederig en dankbaar,” het Slamet afgesluit.

Kommentaar

Republikein 2025-02-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 20° | 35° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 23° | 34° Ruacana: 18° | 36° Tsumeb: 21° | 35° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 19° | 37° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 20° | 35° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 18° | 35° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 16° | 30° Ariamsvlei: 19° | 34° Oranjemund: 15° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 23° | 36° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 19° | 35° Antananarivo: 18° | 29° Lilongwe: 18° | 28° Maputo: 24° | 36° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 19° | 24° Durban: 23° | 30° Johannesburg: 21° | 32° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 28° Harare: 17° | 29° #REF! #REF!