Slamet oorheers in Wes-Kaap
Slamet oorheers in Wes-Kaap

Slamet oorheers in Wes-Kaap

Tydrenne
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Richard Slamet het geskiedenis gemaak toe hy laas Saterdag die eerste Namibiër geword het wat 'n tydren in die Westelike Provinsie gewen het.

Slamet saam met die Kaapse navigator, Derek Jacobs, het skoonskip in sy I-S Freight Services 2-liter S5 Toyota RunX S2000 4x4 in die 2017 WP spesiale trajek kampioenskap in die Overbergdistrik gemaak.

Die iKapa Reticulation and Flow Klipdale-byeenkoms het 25 inskrywings gelok onder wie die Namibiërs Jaques Botha en sy pa Leon (Afrideca Plant Hire), Willem Hugo en sy dogter Mandi (Griffin Stransport) asook Oswaldo Mendes en Tinus Malan (Sky-Way Investment/Atlas CopCo) getel het. Al drie het met 2.0L S5 Subaru Impreza WRX Sti 4x4 Turbo's identiese voertuie gehad.

Botha van die Windhoek Motorklub (WMK) het goed gevaar en gelyk of 'n eerste plek op die podium vir hom verseker is, maar 'n gebreekte as het 'n stokkie voor sy planne gesteek.

Willem Hugo se Subaru het hom ook goed gedra, maar 'n pap band in spesiale trajek 8 en die gebrek aan 'n wielsleutel om die band om te ruil, het hom en Mandi vyf kosbare minute laat verloor, wat hulle toe agtste algeheel laat eindig het.

Mendes en Malan van die Walvisbaai Motorklub se Subaru het ook 'n skeet ontwikkel toe 'n laerkontrolearm die gees gegee het.

Dié span moes dus voortydig halt roep.



KAN NIE WAG VIR APRIL

Slamet, wat plaaslik saam met navigator Wiets Coetzee jaag, het besluit om met Jacobs die Overberg Grand Prix te jaag.

“Ons tydrenseisoen skop eers op 25 April op Tsumeb af. Dit is twee maande die toekoms is en ek het gejeuk om weer vir 'n slag te jaag. Derek het my finaal oortuig en my pa wat in die Kaap was, het opgevlieg om die RunX sy finale inspuitings te kom gee. Ek het laas Dinsdag die Toyota RunX vir die S5-klas op die sleepwa gelaai en self in die pad geval,” vertel Slamet.

“Wen was glad nie deel van my planne nie en omrede ek relatief nuut in dié sport is, wou ek eers ondervinding opdoen en by Derek oor die roetenotas leer sodat ek en Wiets dit plaaslik kan toepas. Ek wou net die kompetisie geniet en in 'n goeie posisie eindig. Die paaie by Klipdale is baie hard en klipperig, wat dit moeilik maak om behoorlike bandgreep te kry.

“Op trajek een en twee het ek elf sekondes teenoor Jaques Botha se blitsige Subaru verloor, maar tyd ingehaal toe die Bothas verdwaal het om die voortou met 20 sek. te neem. Terwyl die RunX se topspoed net 168 km/h is, behaal die Subaru's lag-lag 200 en meer. Die enigste plek waar ek hulle kon troef, is by sneldele wat baie knap en kort draaie het.

“In sneldeel vyf het 'n pap band ons twee minute gekos en tot die tweede plek laat terugsak. Die voorloper was met 1 min 40 sek. voor, wat byna onmoontlik is om in te haal. Ongelukkig breek beide Jaques Botha en Oswaldo Mendes se Subaru's in trajek vyf, wat die deur vir ons oopgelaat het.

“Ek het besluit om minder kanse te waag en het só heelwat foutlose sneldele afgelê om met 'n voorsprong van 3 minute 12 sekondes te seëvier.

“Ek het nie geweet dat ek 'n mylpaal behaal het om die eerste Namibiër te word wat 'n tydren in die Kaap wen nie. Berto Mostert het my op Noord­oewer daarvan vertel en ek was verras om dit van hom te hoor,” vertel Slamet wat ook die voorsitter van die Windhoek Motorklub is.

Mostert is 'n voormalige tydrenjaer wat sy merk in Suid-Afrika gemaak het en nou op Noordoewer woon waar hy en sy vrou 'n diensstasie besit.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!