Slegte nuus by die petrolpomp
Slegte nuus by die petrolpomp

Slegte nuus by die petrolpomp

William Horne en Bloomberg – Die brandstofprysvooruitsigte vir Maart lyk nie goed nie en in April word die jaarlikse verhogings in die Padongelukkefonds- en brandstofheffing in werking gestel.

Dit lyk asof oliepryse uiteindelik begin styg het in reaksie op die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) se perke op produksie en verskeping.

Die jongste syfers van die Sentrale Energiefonds (SEF) dui op ’n moontlike onderverhaling op brandstofpryse, hoofsaaklik omdat oliepryse op die internasionale markte styg. Dit beteken brandstofpryse sal waarskynlik in Maart styg.

Tito Mboweni, minister van finansies, sal Suid-Afrikaners op Woensdag 20 Februarie vertel met hoeveel die heffings styg, maar reeds in Oktober is motoriste gewaarsku dat die Padongelukkefondsheffing skerp sal moet styg om dié instelling se geldelike verknorsing te help oplos.

Volgens die SEF was daar teen Woensdag ’n onderverhaling van 36c per liter op die prys van 95-oktaan-petrol en van 53c per liter op die groothandelprys van diesel met ’n swaelinhoud van 0,005%. Die oorsigmaand is darem nog net halfpad en baie veranderlikes is nog ter sprake.

Die finale pryse vir Maart word op 1 Maart vasgestel en geld vanaf Woensdag 6 Maart.

Hoewel die randwisselkoers in dié tyd versterk het, het die daling in die internasionale aanbod van olie tans die grootste impak op die prys wat Suid-Afrikaners vir hul brandstof gaan opdok.

Opul het in Desember aangekondig hy perk produksie en verskeping met miljoene vate per dag in om die prys van olie kunsmatig op te stoot. Dit het in Januarie uiteindelik ’n invloed begin uitoefen, maar eers werklik in Februarie opwaartse momentum aan die olieprys gegee.

Die vertraging was hoofsaaklik weens twee faktore wat tans ’n kleiner invloed het: die handelsoorlog tussen Amerika en China en Amerika se produksie van skalie-olie. Die vooruitsigte van ’n handelsoorlog het druk op ekonomiese groei geplaas en dus die vraag na olie laat daal, terwyl groeiende produksie van skalie-olie die kunsmatige tekorte teengewerk het.

Die verskeping van skalie-olie uit Amerika het egter vandeesweek begin daal en pres. Donald Trump sê hy is bereid om uitstel te gee vir die hef van bykomende tariewe op Chinese invoer ten einde die onderhandelingsproses te ondersteun.

Khalid Al-Falih, minister van energie van Saoedi-Arabië, het Woensdag gesê sy land – die grootste olieprodusent in Opul – gaan olieproduksie en -verskeping in Maart verder besnoei. Die prys van Brent-ruolie het in reaksie Woensdag teen 15:45 met 2,39% gestyg tot net onder $63 per vat.

Volgens Jihad Azour, direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds se afdeling vir die Midde-Ooste en Sentraal-Asië, benodig Saoedi-Arabië ’n olieprys van tussen $80 en $85 per vat om net sy produksiekoste te dek.

Die laaste keer dat oliepryse op dié vlak was, was in Oktober 2018 toe Brent-ruolie teen meer as $86 per vat verhandel het. Die prys van 95-oktaan-petrol in Suid-Afrika was toe in die binneland R3 meer as tans op R17,08 per liter. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!