Slim tegnologie bepalend in bloubessie-oes

Volgens beplanning sal na markte in Europa, Asië en die Indiese Oseaan uitgevoer word.
Sedert Julie oes die plaaslike maatskappy Mashare Berries Farming (Edms) Bpk Namibië se eerste kommersiële bloubessies.

Dié pionier-oes geskied tans op 'n 20 hektaar-ontwikkeling naby die Kavangorivier tussen Mashare en Mupapama in die Kavango-Oosstreek. Die vrugte, bestem vir Namibiese en internasionale verbruik, word verkoop en bemark onder die handelsnaam, Namib Blue.

Uitvoere begin in Augustus na markte in Europa, Asië en eilande in die Indiese Oseaan, met inbegrip van Mauritius, Maldive en Seychelle.

Volgens mnr. Willem Mostert, bestuurder van Cherry Irrigation Namibia, die span wat die ten volle outomatiese drupbesproeiing- en voedingsbestuurstelsel vir die historiese projek ontwerp en geïmplementeer het, is die gehalte van die geoeste vrugte tot dusver uitsonderlik.

“'n Paar jaar gelede sou niemand kon droom dat 'n mens hoëgehalte bloubessies in 'n droë land soos hierdie sal kan verbou nie,” sê Mostert, 'n gebore Namibiër. “Ons wys wat moontlik is met die regte beplanning, infrastruktuur en bestuur.”

Mnr. Albert Basson, direkteur van die Mashare-projek, sê die oes vir 2020 sal tot laat in Oktober duur. “Ons verwag 'n opbrengs van tot 150 metrieke ton aangesien die ver­skillende variëteite nou volwassenheid bereik het.

“Tans is drie ingevoerde variëteite (AtlasBlue®, JupiterBlue® en BiancaBlue®) van Fall Creek, 'n verbouer in VSA, geplant. Die aanplantings is in November 2019 gedoen, met 16 ha onder nette, 2 ha in tonnels en 2 ha op landerye.”

Mashare Berries beplan om sy produksiegebied teen einde 2021 te verdubbel, met Cherry Irrigation aan boord vir die uitbreiding. “Uiteindelik wil ons binne die volgende vyf jaar die kweek van bloubessies oor 200 ha tot 300 ha grond in die streek uitbrei,” sê Basson.

Cherry Irrigation se uitvoerende direkteur, mnr. Charles Cherry, glo die sukses van die loodsprojek getuig van die enorme onbenutte potensiaal van dor en semidor streke.

“Hierdie gebiede kan 'n verskeidenheid gewasse doeltreffend produseer deur noukeurige water- en hulpbronbestuur.

"Ons sien eerstehands uit hierdie ontwikkeling, maar ook in ander waarby ons in Namibië betrokke is, dat pasgemaakte besproeiingsontwerp die pad vorentoe is. Eenvoudig gestel, dit verseker omgewingsvolhoubaarheid en kommersiële winsgewendheid op die lang termyn,” voeg hy by.

"Die koste van gehaltetoerusting, pasgemaakte ontwerpe, slim tegnologieë en kunsmatige intelligensie (AI)-monitoroplossings is dalk aanvanklik meer, maar vir gewasse soos bloubessies wat hoogs sensitief vir klimaatstoestande en grond- en watergehalte is, glo ons hierdie benadering is noodsaaklik vir sukses,” sê Cherry. “Kyk net wat kan 'n mens bereik as jy dit reg doen.”

Basson stem saam. “Ons het met Cherry Irrigation begin saamwerk nadat ons hul sukses met pasgemaakte stelselontwerpe vir bloubessieplantasies in Suid-Afrika gesien het. Soos ons, sien hulle ook die enorme landboupotentiaal van Namibië raak wat ons probeer ontsluit.”

Mashare Berries is 'n filiaal van Mashare Irrigation, wat 'n verskeidenheid graan en groente, insluitend koring, mielies, sorghum, aartappels, uie en blomkool in Kavango-Oos vir die Namibiese mark produseer.

“Met die regte spanne, beleggers en ondernemings aan boord, het Namibië die potensiaal om 'n wêreldklas produksiekern vir vars produkte te wees,” sê Cherry.

“Daar is 'n groot nasionale strewe om plaaslike hulpbronne behoorlik te ontwikkel en om meer vrugte, groente, veevoer en ander tuinbouprodukte plaaslik te produseer, wat die invoerbehoefte sal verminder.

“Cherry Irrigation se mandaat is om boere behoorlik te steun in hul strewe om werkgeleent­hede en voedselsekuriteit in die land te verhoog en verbeter. Ons is trots om deel van die ontwikkeling te wees. Ons dra ons kennis en ervaring by om waarde op die lang termyn toe te voeg. Bloubessies is maar net die begin.”

Skadunette beskerm Mashare se bloubessiebosse teen die fel son in Kavango-Oos.

Die bedryf bied werkgeleenthede vir seisoenwerkers omdat bloubessies met die hand geoes moet word sodat die vrugte nie be­skadig of gekneus word nie. In piek-oestye word meer personeel benodig vir hierdie hoogs arbeidsintensiewe werk.

- Uitgereik deur Cherry Irrigation (www.cherryirrigation.com)

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!