Slordige Stormers pootjie hulself
Rugby
Leighton Koopman - Verlore geleenthede op die aanval gaan die Stormers vanjaar nog lelik aan die agterstewe kom byt.
Saterdag in Sydney het hulle alles in hul vermoë gedoen om die wedstryd teen die Waratahs weg te gooi en in die doodsnikke met die laaste lynstaan van die stryd het hulle dit reggekry.
'n Drie deur die plaasvervangerflank, Ned Hanigan, met speeltyd verstreke, het aan die tuisspan 'n sege van 34-27 besorg oor 'n Stormers-span wat nie sy geleenthede kon afrond nie.
As jy die skrums oorheers en strafskoppe reg voor die pale kry, moet jy jou kanse benut. As jy 'n lynstaan buite jou kwartgebied kry om uit die gevaarsone te kom, moet jy jou kanse benut. As jy teen 14 spelers speel vir tien minute, moet jy jou kanse benut.
Maar dit alles kon die Stormers nie Saterdag doen nie en met veel strawwer wedstryde wat op hul toer voorlê, kan dinge weer lelik raak vir die Kapenaars.
MEER PRAGMATIES
Een ding wat hulle gerus kan onthou: As jy met elke liewe stukkie balbesit vanuit jou kwartgebied wil hardloop, gáán daar pêre wees.
Dié taktiek het vrugte afgewerp in die Stormers se eerste wedstryd van die seisoen, maar Saterdag het hulle hul rieme styfgeloop.
Daar sal spoedig na dié aspek van hulle spel gekyk moet word.
Die Stormers-breier, Robbie Fleck, het gesê dit het seergemaak om in die laaste sekonde te verloor.
“Dit het in 'n stadium gelyk of niemand regtig wil wen nie. Ons het net onsself te blameer vir die nederlaag, want ons het twee lynstane en 'n skrum gehad waarmee ons uit daardie (benarde) posisie (in die doodsnikke) kon kom. Ons lynstane het nie gewerk soos wat dit moet nie, so dit is iets waaraan ons aandag moet gee,” het hy gesê.
Hoewel Fleck gesê het hy was tevrede met sy span se “lynspoed op die verdediging”, was hul duikwerk eenvoudig nie goed genoeg nie. Dít kan hulle nie aanstaande week bekostig nie teen 'n groep Crusaders wat die Chiefs vroeg Saterdagoggend met 45-23 afgeslag het.
Nog 'n drag slae teen die kampioene, soos verlede jaar, wag op die Stormers as hulle nie hul sokkies optrek nie.
Die fiksheid van die losskakel Damian Willemse is 'n bron van kommer voor die stryd teen die Crusaders.
Hy het die veld in die 43ste minuut hinkepink verlaat met 'n bobeenbesering. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie