Slowakye kies vrou as president
Slowakye kies vrou as president

Slowakye kies vrou as president

Zuzana Caputova het die presidentsverkiesing Saterdag gewen, stroomop teen die huidige tendens van populistiese, nasionalistiese leiers.
Slowakye se “Erin Brockovich” is die naweek tot president verkies.

Zuzana Caputova (45) het die presidentsverkiesing Saterdag gewen, stroomop teen die huidige tendens van populistiese, nasionalistiese leiers wat al hoe meer veld in Europa wen.

Caputova, ’n prokureur, is byvoorbeeld ten gunste van die Europese Unie (EU).

Sy is die land se eerste vrouepresident.

Toe 98,1% van die stemme Saterdag getel is, het sy reeds 58,3% daarvan op haar verenig gehad teenoor die 41,7% van Maros Sefkovic, adjunkpresident van die EU-kommissie.

Hy het toegegee hy het verloor en Caputova gebel om haar geluk te wens.

Sefkovic is lid van die regerende Smer-party, wat die politiek in Slowakye sedert 2006 oorheers.

Caputova is lid van die Progressiewe Slowaakse Party, wat glad nie ’n setel in die parlement het nie. Sy het gesê sy sal uit dié nie-parlementêre party bedank as sy verkies word.

Sy het wel die steun van opposisiepartye, insluitend ’n kleiner party wat die Hongaarse minderheid in die land verteenwoordig en deel is van die koalisieregering, asook van die uittredende president, Andrej Kiska.

Caputova het ook die meeste stemme gekry in die eerste verkiesingsronde, waarin kandidate met die minste steun uitgeskakel is.

POPULISME

Haar veldtog het berus op ’n boodskap teen korrupsie en staatskaping – iets wat byval by jong kiesers gevind het.

“Ek is bly, nie net oor die uitslag nie, maar hoofsaaklik omdat dit bewys dit is moontlik om nie voor populisme te swig nie,” het sy Saterdagaand aan ondersteuners gesê.

“Dit is moontlik om die waarheid te praat en om mense se steun te kry sonder ’n aggressiewe woordeskat.”

Slowakye se president het nie uitvoerende magte nie, maar wys wel die premier aan en kan die aanwysing van se­nior aanklaers en regters veto.

Caputova het vir die eerste keer aandag getrek vanweë haar 14 jaar lange stryd teen ’n korrupte en magtige sakeman, Marian Kocner. Een van sy maatskappye wou ’n onwettige stortingsterrein in haar tuisdorp begin.

Kocher was na bewering ook betrokke by die moord op die ondersoekende joernalis Jan Kuciak en sy verloofde in Februarie verlede jaar. Kuciak was besig met ’n ondersoek na Kocner se bedrywighede. Sy dood het tot wydverspreide oproer gelei wat die premier, Robert Fico, gedwing het om uit te tree.

Dit het Caputova die bynaam “Erin Brockovich” besorg, die vrou wat ’n lang regstryd teen Amerikaanse maatskappye gevoer het oor hul omgewingsbesoedeling wat talle mense siek gemaak het. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!