Sluier af oor stemblapse
Sluier af oor stemblapse

Sluier af oor stemblapse

In die hofaansoek is besonderhede onthul van foute wat by sekere stempunte begaan is.
Augetto Graig
Augetto Graig

Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) het die verkiesingshof genader vir toestemming om die onlangse verkiesings vir Koës, Aroab en Stampriet plaaslike owerhede, asook vir die Mariental platteland kiesafdeling te kan herhaal. Dieselfde kandidate sal weer dieselfde kiesers se steun soek.

Die dringende aansoek word reeds teengestaan, volgens mnr. Edson Edmund Issaks, die Landless People’s Movement (LPM) se bedryfsekretaris, wat bevestig het hul kennisgewing is ingedien. Tien respondente is in die aansoek gelys, insluitend vyf politieke partye en die Popular Democratic Movement (PDM) se mnr. Bloodstan Stefanus, Swapo se mnr. Simon Kooper, en twee onafhanklike kandidate, me. Deensia Swartbooi en mnr. Desmond Tjipanga.

Die tiende is die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling. Almal kon tot Woensdag 14:00 nog kennis gee van besware teenoor die herhaalde verkiesings. Meer besonderhede oor die aansoek sal vandag beskikbaar wees, wanneer die verhoor ná 09:00 voor ’n volbank van drie regters in die hoërhof in die hoofstad sal begin.

FOUT BEGIN IN WINDHOEK

In sy verklaring sê mnr. Theo Mujoro, die hoofkiesbeampte van die ECN, die verkiesings op Aroab en Koës is gepootjie deur die verkeerde versending, vanaf die sentrale logistieke stoor in Windhoek na die twee ||Kharas-dorpies, van stembriewe bedoel vir die Keetmanshoop plaaslike owerheidsverkiesing.

Die voorsittende beampte op Aroab het verder, op die oggend van stemdag, met die oopmaak van die staalboks met die plaaslike owerheid stembriewe binne, opgemerk dat die kenmerkende nommers nie ooreenstem met sy stemlokaal se nommer nie. Hy het verkeerdelik besluit om die inhoud nie te gebruik nie, eerder as om die terugkerende beampte te vra, wat die korrektheid van die stembriewe sou kon bevestig het ondanks die getalfout, volgens Mujoro.

Toe die eerste twee kiesers uit die sowat 80 wat teen openingstyd (07:00) reeds daar gewag het, nie deur die kieserverifikasietoestel herken is nie, ondanks hul geldige stemkaarte, het die beampte nie die regte prosedure gevolg nie en gefokus op die registrasie van kiesernommers eerder as die korrekte rekordhouding van die voltooide stembriefnommers, volgens die hoofkiesbeampte.

KOëS EN STAMPRIET

Op Koës het die voorsittende beampte ook die verkeerde stembriewe uitgedeel en is op stemdag tussen 14:00 en 15:00 opdrag gegee om die hele stemproses by die dorp se gemeenskapsentrum onmiddellik te staak.

“Ten spyte van al die administratiewe aksie en die pedantiese presisie in die nasiening van die verkiesingsmateriaal, het die betrokke plaaslike owerhede die verkeerde stembriewe gebruik,” sê Mujoro.

Stampriet se geval was nog meer problematies, omdat die voorsittende beampte vir Glencoin en Kalahari Proefplaas nie net verkeerde plaaslike owerheid stembriewe eerder as streeksraad stembriewe gebruik het nie, maar ook die Glencoin stempunt voortydig gesluit het.

Die voorsittende beampte het boonop ’n oplettende kieser weggewys wat sy aandag daarop gevestig het dat net drie keuses op die stembriewe verskyn, terwyl daar vier mededingende kandidate moes wees, volgens die hoofkiesbeampte.

“In al die voorgenoemde gevalle is die verkeerde stembriewe behou en onmiddellik verseël en nie bygetel nie. Die verkiesings was nie afgehandel nie en daar sal geen raadslede vir daai gebiede wees nie,” sê Mujoro in sy verklaring.

WAT HET OP OTAVI GEBEUR?

Republikein het intussen weer die uitslae vir die plaaslike owerheidsverkiesings op Otavi aandagtig deurgekyk.

Die Verkiesingskommissie (ECN) gaan die hof vra om hierdie uitslag ongeldig te verklaar sodat ’n regstelling kan plaasvind.

Op Otavi is ’n fout in die toekenning van setels begaan, omdat Swapo se restantstem verkeerd bereken is. Een setel is gevolglik verkeerdelik aan die PDM toegeken. Volgens die korrekte berekeninge het Swapo vyf van die dorp se sewe gesetels gewen en die IPC en LPM een elk.

’n Oortel van stemme is bykomend hiertoe nie uitgesluit nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!