Sluier dig oor Pupkewitz-baas se skorsing
Pupkewitz Holdings wil nie 'n woord rep oor wandelgangpraatjies van beweerde seksuele wangedrag deur sy geskorte uitvoerende hoof nie.
Ronelle Rademeyer
Namibië se tweede grootste private maatskappy, Pupkewitz Holdings, het 'n sluier van digte geheimhouding oor die skorsing van sy uitvoerende hoof, mnr. Dougie Truter (52), getrek.
Sowat drie weke nadat 'n Suid-Afrikaanse regspan volgens 'n ingeligte bron aangestel is om bewerings van ongerymde seksuele gedrag teen hom te ondersoek, verseg die maatskappy om die “aard van die kwessies” by die naam te noem.
Die groep se bemarkingshoof en woordvoerder, me. Rosemary Shippiki, het wel bevestig hy is “as voorsorgmaatreël” geskors.
“'n Aantal gedragskwessies is onder die aandag van die raad gebring wat die maatskappy verplig is om te ondersoek,” lui haar bondige antwoord op uitgebreide vrae wat aan die maatskappy gerig is.
“Die raad het tot die gevolgtrekking gekom die regverdigste roete sal wees om mnr. Truter as voorsorgmaatreël te skors terwyl die ondersoek aan die gang is. Geen verdere inligting kan gedeel word oor die aard van die kwessies wat ondersoek word voordat die proses nie afgehandel is nie.”
Truter is vier jaar gelede aangestel om die skoene van sy voorganger, die ikoniese sakereus mnr. Harold Pupkewitz, vol te staan. Hy is 'n boorling van Wellington in die Boland wat in 1985 aan Hugenote Hoërskool gematrikuleer het.
Volgens Bloomberg was hy voorheen die uitvoerende hoof van Imperial Logistics Consumer Division in Suid-Afrika en 'n direkteur van Imperial Logistics.
Pupkewitz Holdings se indrukwekkende uitbreidings sedert sy aanstelling sluit die aanskaffing van die plaaslike BMW-handelaarskap, die betaalplatform PayToday en 'n 50%-aandeel in Kaap Agri in.
Truter is reeds die afgelope weke nie op sy selfoon bereikbaar nie en reageer ook nie op teksboodskappe waarin hy om kommentaar genader is nie.
'n Kennis van die familie het aan Republikein gesê Truter is 'n hegte gesinsman en is “baie lief vir sy vrou en seun”.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie