u2018Sluiting van SA grense u2019n terugslagu2019
u2018Sluiting van SA grense u2019n terugslagu2019

‘Sluiting van SA grense ’n terugslag’

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Die sluiting van die Suid-Afrikaanse grense is ’n groot teruslag vir die Namibiese toerismebedryf.

“Dit veroorsaak weer eens groot huiwering vir toeriste om toere vir die volgende weke en maande te beplan. Die onsekerheid is weer hoog, ook wat reis na die buiteland betref,” het die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), me. Gitta Paetzold, gister aan Republikein gesê.

“Ons vooruitskouing vir die eerste kwartaal lyk baie kommerwekkend. ’n Moeilike tyd lê voor.”

Die handelsmerkbemarkingsbestuurder van Gondwana Collection Namibia, me. Jes Visagie, sê die impak op hulle is nie so groot nie, “want weens die skole wat gaan begin, het die meeste van ons Suid-Afrikaanse kliënte reeds teruggekeer huis toe.”

Sy sê teen gister het Gondwana Collection slegs een kansellasie gehad.

Suid-Afrika het weer sy grense vir buitelanders tot 15 Februarie gesluit nadat pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand aangekondig het die buurland bly op vlak 3 van inperking.

Altesaam 20 grensposte by landsgrense word gesluit, behalwe in sekere omstandighede. Mense sal egter steeds toegelaat word om die landsgrensposte binne te kom of te verlaat vir onder meer:

• Die vervoer van brandstof, vrag en goedere;
• Mediese noodgevalle vir ’n lewensbedreigende toestand. Bewyse van behandeling moet by die grenspos getoon word;
• Die terugkeer van Suid-Afrikaanse burgers, permanente inwoners, hul gades en kinders met geldige visums;
• Mense met ander geldige visums soos werks- en sakevisums;
• Naaste familielede wat ’n begrafnis van ’n oorledene wil bywoon;
• Diplomate;
• Die deportasie en vertrek van buitelandse burgers en permanente inwoners na hul lande;
• Die vertrek van Suid-Afrikaanse burgers of permanente inwoners na hul plek van werk, studie of woning buite Suid-Afrika; en
• Daaglikse pendelaars uit buurlande wat in Suid-Afrika skoolgaan.

Bogenoemde is steeds onderhewig aan Covid-19-maatreëls soos temperatuurmeting en isolasie- of kwarantynreëls. ’n Geldige sertifikaat van ’n negatiewe Covid-19-toets wat nie ouer as 72 uur voor die reisdatum is nie, moet getoon word. Indien ’n persoon versuim om die sertifikaat te toon, sal die persoon ’n blitstoets op eie koste moet doen. Indien die persoon positief vir Covid-19 toets, sal hy of sy onderhewig aan kwarantyn op eie koste wees.

Slegs drie internasionale lughawens is vir internasionale lugverkeer oop, naamlik OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg, Kaapstad Internasionale Lughawe en King Shaka Internasionale Lughawe in Durban.
Ander lughawens is slegs vir binnelandse reisigers oop.

AIRLINK VLIEG
Intussen het die private Suid-Afrikaanse lugredery, Airlink, gister in 'n verklaring gesê hy gaan voort om vlugte na lande in die streek aan te bied. Dié redery bied vlugte uit Suid-Afrika na Windhoek en Walvisbaai aan.

Die besturende direkteur, mnr. Rodger Foster, sê “gesondheid en veiligheid is belangrik, maar so ook ekonomiese kontinuïteit”.

Die vlugte se tye is van so ’n aard dat aandklokmaatreëls nie verbreek word nie.

[email protected]

Die foto van Ariamsvlei-grenspos is deur Elizabeth Joseph geneem.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer