u2018Sluiting van uitvoerabattoir was voorkombaaru2019
u2018Sluiting van uitvoerabattoir was voorkombaaru2019

‘Sluiting van uitvoerabattoir was voorkombaar’

Die uitvoerabattoir op Mariental moet sy deure sluit nadat dit maandeliks skaars 5 000 stuks kleinvee ontvang het om te slag.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Kleinveeboere is van mening dat die sluiting van die Farmers Meat Market Mariental Abattoir (FMM) voorkom kon word indien daar beter ag op produsente se jarelange uitdagings met die kleinveebemarkingskema geslaan is.

Die reaksie volg nadat dié uitvoerabattoir verlede week bekend gemaak het dat sy deure weens “ekonomiese redes” finaal op 30 September sluit en sy teleurstelling uitgespreek het oor die gebrek aan ondersteuning vir plaaslike besighede.

Die ondervoorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), mnr. Hannes Visagie, sê dit is jammer dat die abattoir toemaak en werkverliese meebring, maar sê produsente glo die situasie sou anders kon lyk as die regering en abattoir-eienaars meer aandag aan skaapboere se uitdagings van die afgelope 13 jaar gegee het.

Hy het spesifiek verwys na die 1:1 kleinveebemarkingskema. Hiervolgens word vereis dat vir elke skaap wat na Suid-Afrika uitgevoer word, een plaaslik by ‘n uitvoerabattoir geslag moet word, met plaaslike abattoirs wat produsente dikwels baie minder betaal.

“Kleinveeprodusente se insette in die opstelling van die bemarkingskema is geïgnoreer – ten koste van ons. Die instelling daarvan het ons van winsgewende markte ontneem deur ons te forseer om kleinvee plaaslik teen swakker pryse te lewer.

“Ten spyte van baie beloftes, het die prysverskille tussen skape wat plaaslik gelewer word en na Suid-Afrika uitgevoer word, oor die jare vergroot en algaande raak produsente net al hoe slegter daaraan toe.

“Hierdie is nie die eerste uitvoerabattoir wat sluit nie. Daar moes beter samewerking gewees het om aan ’n oplossing vir plaaslike kleinveebemarking te werk en die regering se tuisgroei-strategie te bewerkstellig.”

SKAAPBOERE TREE UIT

Volgens ‘n verslag wat in 2013 deur Deloitte vir die ministerie oor waardetoevoeging in die Namibiese vleisbedryf opgestel is, lei die krimpende kleinveesektor jaarliks tot ‘n verlies van N$177 miljoen vir die Namibiese ekonomie.

Die verslag wys dat daar tussen 1992 en 2007 gemiddeld jaarliks 1,2 miljoen skape bemark is.

“Die realiteit is: In 2003 is daar byvoorbeeld 1,58 miljoen kleinvee plaaslik bemark, vergeleke met 2016 toe net sowat 850 000 bemark is. Dit beteken die sektor het met meer as 50% in 13 jaar gekrimp.

“Hierdie tendens sal voortgaan solank as wat die kleinveemark deur owerhede beheer en reguleer word. Wat die regering en uitvoerabattoirs nie besef nie, is dat hulle die mark kan beheer, maar niemand kan verplig om met skape te boer nie,” sê Visagie.

Die LPO is sê ook dat die beoogde tuisgroei-strategie tot werksverliese lei.

“Wat tragies is en waaroor niemand praat nie, is die aantal skaapboere wat weens die ongunstige omstandighede moes ophou boer en van plase weg is, terwyl plaaswerkers só ook hul werk verloor het.”

TE GEMAKLIK

“Uitvoerabattoirs verkwalik boere omdat hulle nie ’n deurset kry nie, maar het hulle nie ook, soos in die geval met ons informele abattoirs, ’n verantwoordelikheid om hul eie deurset te verseker nie?” sê Visagie.

“Hoekom koop hulle nooit diere op veilings nie? Het hulle te gemaklik geraak?”

Hy sê produsente is van mening dat uitvoerabattoirs baie jare lank gewaarsku is dat hul huidige modus operandi nie volhoubaar is nie. Hy het verwys na die bevindings van ’n verslag in 2002 deur Seelinbinder wat toe reeds tot die gevolgtrekking gekom het.

“Hulle het egter dié en ander bewyse verwerp en vra die regering vir net meer beperkings op produsente.”

ABATTOIR ‘KRY GEEN STEUN’

Hoewel FMM nie Vrydag met Republikein wou praat nie, het sy uitvoerende voorsitter, mnr. Christo van Niekerk, in ’n brief aan die minister van landbou, water en bosbou gesê die abattoir moet sy deure sluit nadat die ernstige droogte asook ongunstige handelstoestande in die kleinveebedryf tot groot verliese vir die abattoir gelei het en dit nie meer lewensvatbaar is nie.

“Meer as die helfte van slagbare vee word op die hoef na Suid-Afrika uitgevoer – ’n situasie wat deur die droogte vererger word en beteken minder diere is plaaslik vir verslagting beskikbaar. Dit is jammer dat daar geen ondersteuning vir plaaslike uitvoerabattoirs is nie, wat sou strook met die regering se tuisgroei-strategie,” lui Van Niekerk se brief.

“Die maatskappy het aanvanklik sowat 21 000 kleinvee per maand geslag - soms tot 30 000. Nou slag ons nie eens 5 000 per maand nie. Dit maak dat die maatskappy nie langer ekonomies lewensvatbaar is nie en plaas die res van die Hartlief-groep in gevaar.”

Hy skryf verder dat die abattoir altyd daarna gestreef het om produsente markverwante pryse te betaal, maar dat die druk op pryse as gevolg van alles behalwe oop grense, daartoe gelei het dat hulle nie meer mededingend kan wees nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!