Slypmasjien eis lewe van tweejarige
Slypmasjien eis lewe van tweejarige

Slypmasjien eis lewe van tweejarige

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - 'n Tweejarige meisie het 'n gru-dood gesterf toe die hoekslypmasjien van haar buurman haar lewe geëis het.

Dié skokvoorval het Vrydag om 18:10 in Beijingstraat in Otjomuise plaasgevind toe Hileni Hwuandi per ongeluk met die masjien teen die kop gesny is. Sy het later in die Katutura-staatshospitaal beswyk.

Volgens polisiewoordvoerder Slogan Matheus is die buurman 'n skrynwerker en hy was besig om hout met 'n hoekslyper by sy huis te saag.

" Toe die skrynwerker omdraai met die masjien steeds aan, het hy per ongeluk die meisie raakgesny, wat agter hom gestaan het. Die polisie het 'n saak van strafbare manslag teen die man aanhangig gemaak," het Matheus gesê. Die ondersoek duur voort.

'n Seuntjie van 'n jaar en 'n half, Antonia Timoteus Amunyela, het Vrydag by 'n cuca-winkel by die Okathima Ka Nangolo-nedersetting in die Okalongo-kiesafdeling in 'n houer tuisgebroude bier (tombo) verdrink.

" Hy het buite gespeel en sy ouma was in die cuca-winkel. Sy het later na 'n ander cuca-winkel gegaan en toe sy terugkom haar kleinkind verdrink in die tombo gevind," het Matheus gesê.

Nóg 'n verdrinking het Vrydag plaasgevind toe 'n 40-jarige man se kano op die Zambezirivier omgeslaan het.

Die oorledene is mnr. Malumba Ernest Songa.

Twee moorde is die afgelope naweek gepleeg. 'n Man het Saterdagoggend by die Mpungu Vlei-nedersetting gesterf toe hy met 'n tradisionele byl in sy gesig gekap is. Die slagoffer is die 47-jarige mnr. Nghudileko Nambobola. Die polisie bedank die inwoners van die nedersetting met hulp tydens die ondersoek. 'n Veertigjarige man word in verband met die voorval deur die polisie ondervra.

Die ander moord was Vrydagaand op Khorixas toe 'n 25-jarige man met 'n mes gesteek is. Die oorledene is mnr. Collins Kasaona en 'n moordklag is teen 'n 35-jarige verdagte aanhangig gemaak.

'n Verkragting is ook op Khorixas aangemeld toe 'n 15-jarige meisie na bewering deur 'n 27-jarige man by 'n kroeg verkrag. Volgens die polisie wou sy glo gister die klag terugtrek en die verdagte sal vandag in die hof verskyn.

Op Eenhana is 'n 20-jarige vrou Saterdag om 00:30 na bewering deur 'n 17-jarige manlike verdagte verkrag toe sy van die kerk af gekom het.

" Volgens die slagoffer is sy deur die verdagte aan haar nek gegryp en oorrompel. Hy het haar glo op die grond gegooi, verkrag en met 'n klip gekap wat 'n oop wond aan haar voorkop gelaat het," het Matheus gesê. Die verdagte sou gister in die hof verskyn.

'n Skoolhoof (49) het Saterdag na bewering sy 30-jarige meisie in 'n kamer saam met hul eenjarige baba toegesluit en drie skote deur die deur in die kamer geskiet. Niemand is in beseer nie, maar die polisie het die man by die Cham Cham-nedersetting in die omgewing van Oshivello in hegtenis geneem en die vuurwapen gekonfiskeer. Die verdagte sou gister in die hof op Tsumeb verskyn op klagte van poging tot moord, roekelose hantering van 'n vuurwapen en die afvuur van 'n vuurwapen in 'n openbare plek.

Die 18-jarige Johannes Geingob het Saterdagnag in sy hut op die plaas Satan Schloch in die Khomas-Hochland doodgebrand.

" Hy het aandete saam met sy familie geëet en almal het gaan slaap. Omstreeks middernag het een van die familielede buite toe gegaan en gesien dat die slagoffer se hut aan die brand is," het Matheus gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!