Small se liefdeswerk
Hierdie huldigingsbundel oor Adam Small is 'n belangrike bydrae tot die Afrikaanse kultuurskat en 'n moet vir alle navorsers, skryf Joan Hambidge.
Digter, dramaturg, openbare intellektueel. Dít is hoe 'n mens Adam Small (1936-2016) kan opsom enersyds as baanbrekende digter; andersyds as uitmuntende dramaturg. Daar is eweneens die gesprek met en vertalings van Van Wyk Louw wat hierdie studie, onder redaksie van Jacques van der Elst, uiters tydig en belangwekkend maak.
Die uniekheid van Small word beklemtoon in hierdie huldigingsbundel van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Verskillende kenners skryf oor die veelfasettige skrywer wat onder meer deurgeloop het in twee onverkwiklike polemieke. (Dan praat ons nie oor die vermindering en uitrangering wat hy sy lewe lank moes verduur nie.)
Toe die Hertzog-prys aan hom toegeken is, was daar figure wat gevoel het die reglement (naamlik dat sy werk nie binne die driejaartermyn verskyn het nie) is tersyde gestel. Van der Elst skryf boeiend oor al die reaksies. Marisa Keuris wys hoe tersaaklik dit was om wel binne die kader van vergifnis en versoening die prys toe te ken.
Veral Nicol Stassen was ongelukkig hieroor omdat hy uiteraard die uitgewer is wat in daardie tydperk wél dramas gepubliseer het.
Daar was verskeie mediareaksies, maar die toekenning is wat hierdie leser betref, vol in die kol. Veral gedagtig aan mindere ligte wat die afgelope jaar hierdie prys ontvang het in die dramakategorie. Daar is alreeds 'n gerug as jy die prys wil ontvang, skryf sommer gou 'n drama . . .
'n Ander pynlike polemiek was Small se gebruik van Kaaps.
Nathan Trantraal (en ook Ronelda Kamfer) meen dat Small nie meer die lot van die gemarginaliseerdes korrek vertolk nie. So kan dit dalk wees, maar ondertussen is albei jong digters eweneens “opgeneem” in die literêre sisteem met bekronings en geldpryse. Michael le Cordeur redeneer tereg dat Small Kaaps tot volwaardige taal uitgelig het.
Bernard Odendaal lewer insigryke kommentaar op die posisie van Small as spilfiguur in die kanon. Die agting wat hy geniet, spreek duidelik uit hierdie artikel.
Eweneens knap, is die sober reaksie van Steward van Wyk oor Small en die kwessie van identiteitskonstrukte.
Small as spreekbuis vir “kleurlinge” word uitstekend uitgelig en die geskiedenis van politieke opportunisme kom aan bod belig teen die agtergrond, onder andere van Richard van der Ross se studies hieroor in 1979 en dan in 1986. Wanneer 'n mens dit lees, begryp jy opnuut die redes vir Small se stilte. Hein Willemse analiseer onder meer “Vryheid”, 'n lang dramatiese gedig. Via Fredric Jameson se ideologeem ondersoek hy die spanninge tussen die gedig as 'n talige konstruk en die historiese omgewing.
Jacomien van Niekerk analiseer die impak van radiodramas en hoe dit verskil van teateropvoerings (Kanna hy kô hystoe kom hier aan bod) via Brechtiaanse vervreemding. Abraham de Vries – soos net hy kan – lewer 'n menslike reaksie in sy persoonlike geskiedenis. Dit is van kardinale belang dat hierdie inligting bewaar word omdat soveel tekste en skrywers beter gekontekstualiseer word.
Willy Martin se vertalings wys op die komplekse prosesse wanneer Kaaps vertaal word en die registerprobleme wat dit skep. Kaaps se verhouding tot Afrikaans is dalk soos Vlaams tot Nederlands? Geweldig baie om aan te peusel in hierdie vertaal-igloe.
Antoinette Lombard en Rinie Schenk lewer kommentaar op die méns en sy werk as maatskaplike werker.
In hierdie puik artikel word die analogie en verband tussen maatskaplike geregtigheid en maatskaplike werk bestudeer. Erika Terblanche gee 'n biografiese skets.
Daar is ná elke artikel belangrike bronnelyste vir verdere leeswerk. Marisa Keuris se kanttekeninge rondom Marvin Carlson se The Haunted Stage: The Theatre as Memory Machine is verpligte leeswerk!
Vanaf 2013 het ons gekorrespondeer in e-posse gedikteer aan Rosalie. Op 'n keer stuur hy vrae aan homself wat hy beantwoord. Op 25.10.2013 skryf hy so oor taal:
“Wat is my denke oor taal of 'n taal, oor die aard van taal of ' n taal?
“Ek glo dis nodig dat ons heeltemal nuut oor taal moet begin dink, wég van die konvensionele, valerig-stereotipe verwysing na taal as 'kommunikasiemiddel'. Dis nie sodanig dat ek 'n 'paradigmaskuif' , of 'kopskuif' soos sommige mense sê, in ons denke bepleit nie – hierdie soort segge is alreeds 'n soort bargoens.
“Taal of 'n taal behoort gesien te wees as 'n omvattende, insluitende soort werklikheid waarbinne mense hulself bevind, stilte sélf synde 'n inherente aspek hiervan – die gebruik van taal is dus nie net 'n geklets, 'n gebabbel nie, maar 'n innige werk, soos wat bye aan die maak van heuning wy, wat mense saambring en -bind. Dit het alles met liefde te doen. Misdaad is 'n klinkklare verkragting van taal.”
Die boek bevat pragfoto's van Small. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie