SME Bank-baas stry oor lasbrief
SME Bank-baas stry oor lasbrief

SME Bank-baas stry oor lasbrief

'n Voormalige direkteur van die SME Bank sê 'volskaalse delegering' van hoërhofmagte is nie toelaatbaar nie.
Catherine Sasman
Catherine Sasman



Die Zimbabwiër mnr. Enock Kamushinda het hofdokumente ingedien om 'n lasbrief te probeer afweer waarvolgens hy voor 'n kommissie van ondersoek oor die geplunderde SME Bank moet getuig.

Hy het die hofaansoek Donderdag ingedien namens homself, die Metropolitan Bank of Zimbabwe en World Eagle Investments, waarvan hy 'n direkteur en aandeelhouer is.

Die kommissie is ingevolge 'n hoërhofbevel op 16 Februarie saamgestel en adv. Natasha Bassingthwaighte is as die kommissaris aangestel.

Die kommissie moet onder meer inligting bekom oor die werksaamhede en transaksies tussen die SME Bank en die Suid-Afrikaanse ondernemings VBS Mutual Bank, Tulive Capital (Pty) Ltd, Asset Movement Financial Services, DMA Consultants, Transparency.com en Rawford Offshore.

Kamushinda sê die lasbrief is op 12 Maart aan hom beteken om op 14 Maart voor die kommissie te verskyn.

Die kommissie was op 14 Maart in sitting, maar dit is uitgestel met geen datum vir die hervatting verskaf nie.

Op hierdie tydstip het Kamushinda 'n regsmening ingewin oor die geoorloofdheid en wetlikheid van die kommissie en lasbrief.

Kamushinda het geargumenteer dat 'n lasbrief, waarvolgens hy voor die kommissie moet verskyn, nie deur die hoërhofbevel gemagtig is nie. Hy hou vol dit is onwettig uitgereik.

Volgens die hoërhofbevel moet die kommissie die volgende mense dagvaar om daarvoor te verskyn: mnr. Tawana Mumvuma (voormalige hoofbeampte van die SME Bank), mnr. Joseph Banda (voormalige finansiële bestuurder), mnr. Mauwane Kotane van Mamepe Capital, Nhlanhla Muduzi van VBS Mutual Bank, en die direkteure en eienaars van Tulive Capital (Pty) Ltd, Asset Movement Financial Services, DMA Consultants, Transparency.com en Rawford Offshore.

“Ek is nie een van die mense wat spesifiek genoem is nie,” sê Kamushinda. Hy hou vol sy verskyning voor die kommissie is nie spesifiek deur die hoërhof gemagtig nie.

Die hofbevel stipuleer die kommissie kan meer mense dagvaar wat “in staat kan wees om getuienis te lewer” oor die werksaamhede van die SME Bank met die ander entiteite.

Kamushinda sê die lasbrief is uitgereik voordat enige getuienis voor die kommissie gelewer is.

Hy sê voorts die likwidateurs, mnre. David Bruni en Ian McLaren, weet die vermiste SME Bank-geld van N$200 miljoen is aan Mamepe Capital en VBS Musual Bank betaal, en vervolgens aan ander entiteite.

Die likwidateurs voer aan die oordrag van geld is sonder toestemming gedoen, aangesien dit die SME Bank se interne magtigingsperke oorskry het.

“Dit wil voorkom asof dit wat geweet moet word, reeds aan Bruno en McLaren bekend is,” sê Kamushinda.

Hy vra ook dat die hoërhofbevel van 16 Februarie ter syde gestel word omdat 'n geheime verhoor geen herkenbare voordeel vir die krediteure van die SME Bank inhou nie.

“Die likwidasiebevel is die onderwerp van 'n appèl. Indien die finale likwi­dasie op appèl ter syde gestel word (en ek voer aan daar is 'n sterk moontlikheid dat dit sal gebeur), sal al die koste van die kommissie gemors word en hoogs waarskynlik nie van Bruni en McLaren of enige iemand anders verhaal kan word nie,” sê Kamushina in sy eedsverklaring.

Kamushinda argumenteer voorts dat die hoërhof nie sy gesag in die ondersoek aan adv. Bassingthwaighte kon oordra nie. Hy sê dit is 'n “ontoelaatbare, ­groot­skaalse delegering” van die hof se magte.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!