SME Bank-base vlieg hoog én ver

Uitvoerende hoofde en bestuurders se gereelde reise het die bank miljoene gekos in die kort tyd wat dit bestaan het.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Terwyl besonderhede van die beleërde SME Bank in die hof en elders ontvou, het honderde reisdokumente opgeduik wat aandui hoe die grootkoppe, hul familielede en sakevennote op die bank se onkoste gereis het.

Die reisdokumente, wat óf uitgelap óf gekuberkraak is, is deur middel van Rennies Travel Namibia bespreek, wat die bank se reisrekening van 2013 tot 2017 hanteer het.

Dit toon gereelde vlugte is tussen Windhoek en Harare, dikwels via Johannesburg, onderneem. Daar was ook uitstappies na die Victoria-valle, en duur reise na Dubai, Singapoer, Indië, Seychelle en Mauritius.

Die Zimbabwiese base het in luukse hotelle gebly en in sekere gevalle meer as N$3 000 per nag op luukse hotelkamers gespandeer, motors vir hulself en hul gades gehuur, asook ander dienste wanneer hulle op reis in Johannesburg was of oënskynlik vergaderings in luukse hotelkamers gehou het.

Dit kan nie bevestig word of die gereelde reise werkverwant was nie, maar in die SME Bank se kort bestaan beloop reise wat deur Rennies Travel bespreek is meer as N$5 miljoen.

Baie van die reise is oënskynlik deur ander reisagente bespreek, wat die voormalige nie-uitvoerende direksielid, mnr. Enoch Kamushinda, se maatskappy, Crown Finance Corporation (Pty) Ltd, insluit.

Reis was nie ‘n byvoordeel van SME Bank-werknemers nie, en ook nie by hul werksvoordele ingesluit nie.

DIE GEREELDE REISIGERS

Volgens maandelikse state van 2013 tot 2017 was die gereelde reisegers op die SME Bank se rekening Zimbabwiese burgers mnr. Tawanda Mumvuma (voormalige uitvoerende hoof), die voormalige nie-uitvoerende direkteur wat ‘n Zanu-PF-kandidaat geword het, mnr. Ozias Bvute, voormalige bestuurders van inligting en kommunikasietegnologie, mnre. Takura Mapfumo en Nomore Beremauro, en die sakeman Lyndon Gaidzanwa.

Mumvuma, wat besigheidsklas verkies, het ‘n reisrekening van meer as N$1 miljoen opgeloop.

Dit sluit ‘n yslike rekening van N$202 201 tydens Desember 2015 en Januarie 2016 in toe hy onder andere sy vrou, Fiona, en sy twee kinders op ‘n reis van Windhoek af via Johannesburg na Dubai geneem het.

Die SME Bank het tot N$973 158 vir Bvute se vliegkaartjies en akkommodasie betaal.

Bvute is ook die uitvoerende groephoof van Metropolitan Holdings Ltd. en ‘n direksielid van Metbank.

Soos die meeste base, het Bvute besigheidsklas verkies en gereeld tussen Harare en Windhoek via Johannesburg gereis, wat ‘n baie duurder roete as ‘n direkte vlug is.

Bvute het in Johannesburg gereeld in luukse hotelle soos die Palazzo Montecasino Hotel gebly, wat meer as N$2 000 per nag kos, of die Intercontinental Hotel by die Oliver Tambo Internasionale Lughawe, wat nie minder as N$3 000 per nag vir ‘n luukse kamer kos nie.

Die SME Bank het ook die Zimbabwiese sakeman Lyndon Gaidzanwa se rekening van meer as N$600 000 betaal, wat gereeld saam met sy vrou gereis het. Hy het dikwels ‘n motor vir dae lank vir die bank se rekening gehuur. Selfs sy vrou, Grace, het by geleentheid ‘n motor op die SME Bank se koste vir drie dae gehuur.

Volgens die beskikbare dokumente het Gaidzanwa ‘n paar keer op die bank se koste Dubai toe gereis.

Een keer was hy van die Namibiese sakeman mnr. Jeremiah Iyaloo Nangolo vergesel. ‘n Ander keer het die Johannesburgse regsverteenwoordiger Ovid Chitsiku saam met hom gereis.

Chitsiku het ten minste 10 keer op die SME Bank se rekening gevlieg, wat die bank N$117 007 gekos het.

Terwyl Chitsiku geen bande met die SME Bank het nie, is hy Kamushinda se Maleisiese maatskappygroep, Asia Corporate Services, se regsverteenwoordiger.

Mapfumo en Beremauro se vliegkaartjies het die bank N$320 000 en N$170 000 onderskeidelik gekos.

Die voormalige finansiële beskuurder, mnr. Joseph Banda, se vliegkaartjies was sowat N$156 118.

Mnr. Joseph Nyamunda, voormalige hoofbestuurder van lenings, sakeontwikkeling en ondersteuningsdienste, se reisrekening het sowat N$107 353 beloop.

Volgens die beskikbare state was Kamushinda, een van die leierfigure van die groep Zimbabwiese bankiers, se vliegkaartjies verrassend genoeg nie meer as N$90 000 nie.

ANDER

Sedert me. Tania Hangula in 2016 die voorsitter van die direksie van die Development Bank of Namibia (DBN) geword het, was sy ‘n gereelde reisiger ten koste van die SME Bank.

Volgens state het Hangula 13 keer op die bank se onkoste gereis, wat meer as N$170 000 beloop het. Sy het ten minste twee keer op die bank se rekening na Dubai gereis.

Hangula het gesê omdat die hofsaak met betrekking tot die SME Bank sub judice is, kan sy nie nou kommentaar lewer nie, maar het onderneem om daarvoor beskikbaar te wees ná die saak.

Mnr. Wilson Manase, voormalige voorsitter van Metbank Ltd., het ook meestal tussen Windhoek en Harare via Johannesburg op die bank se koste gereis, wat sowat N$80 000 beloop het.

Twee Chinese burgers, mnre. Zhao Shuming en Wenxiang Xin (ook gespel as Xiang Xinwen), het gereeld uitgeëet, oënskynlik by ‘n lughawehotel, en is by verskeie geleenthede Ondangwa en Rundu toe gevlieg.

Rennies Travel Namibia wou nie die egtheid van die reisdokumente bevestig of ontken nie, weens ‘n vertroulikheidsooreenkoms wat met die SME Bank (wat in daardie stadium hul kliënt was) onderteken is.

Kamushinda het gesê hy wil nie kommentaar lewer op die vrae wat aan hom gestuur is nie, ook omdat die hofsaak steeds voortduur.

Ander het gesê die SME Bank moet die kwessie verklaar.

Gaidzamwa het gesê sy betrokkenheid by die SME Bank was die onderwerp van ‘n kommersiële diensooreenkoms wat onbeperkte professionele reise ingesluit het.

Bvute en ander het nie op vrae gereageer nie.

Die reisdokumente kan by https://gambawarrior.wordpress.com/destination-everywhere/ besigtig word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!