SME Bank-hofsaak uitgestel
SME Bank-hofsaak uitgestel

SME Bank-hofsaak uitgestel

In die saak tussen SME Bank-amptenare en die Bank of Namibia behou die regter sy uitspraak voor tot 19 April nadat argumente in verband dringendheid aangehoor is.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw



Die top-amptenare en direkteure van SME Bank wat aan die begin van Maart uit hul poste verwyder of van hul magte ontneem is, sal vir byna twee weke moet wag om te hoor of die saak waarin hulle die sentrale bank dagvaar weens sy oorname van die SME Bank, as dringend beskou word.

Die regsgeding teen die Bank of Namibia (BoN) se besluit om beheer oor SME Bank te neem, is Vrydag in die Windhoek-hoërhof voor regter Shafimana Ueitele aangehoor, maar het op die kantlyn beland ná betoë deur regsverteenwoordigers oor of die saak aan die vereistes voldoen om op 'n dringende basis aangehoor te word.

SME Bank se uitvoerende hoof Tawanda Mumvuma, ondervoorsitter van die direksie Enock Kamu­shinda, direkteur Ozias Bvute, finansiële bestuurder Joseph Banda, bestuurder van die tesourie en beleggings Alec Gore, en voorsitter van die bank se direksie George Simataa wat deur die BoN op 1 Maart uit hul poste ­verwyder is, vra die hoërhof in 'n ­dringende aansoek om die besluit uit te stel en om hulle in hul poste te herstel.

In hul aansoek het hulle ook kennis gegee dat hulle die hof sal versoek om die BoN se besluit om beheer oor SME Bank te neem, ter syde te stel en om dié besluit onwettig en ongeldig te verklaar.



'Stigmatiserend'

In Vrydag se hofverrigtinge het senior advokaat Vincent Maleka van Suid-Afrika namens die aansoekers aangevoer die BoN het onwettig opgetree deur SME Bank se topbestuur uit hul poste te onthef en van hul magte te ontneem en dat die bank se optrede “deurlopende, skadelike, stigmatiserende en indringende gevolge” vir die aansoekers tot gevolg gehad het.

Maleka het verder gesê: “Dit gaan nie oor die gebrek aan brood nie, maar die aansoekers se reputasie en openbare aansien.”

Senior advokaat Reinhard Tötemeyer het namens die voorsitter en die direksie van die BoN aangevoer die aansoekers het nie 'n saak uitgemaak vir die aansoek om op 'n dringende basis aangehoor te word nie.

In sy argumentshoofde sê hy onder meer die aansoekers se saak is onduidelik, bevat ongegronde beweringe­ en word nie deur feite gestaaf nie.

Die respondente se argumentshoofde haal onder meer artikel 56(2)(b) van die Wet op Bankinstellings van 1998 aan wat bepaal dat die sentrale bank “beheer mag neem oor die eiendom, besigheid en sake” van 'n bankinstelling indien dit oortuig is dat dié instelling sy besigheid bedryf op 'n wyse wat nadelig vir die belange van sy kliënte of die algemene publiek is.

Ter afsluiting het advokaat Tötemeyer die hof versoek om die saak van die rol te skrap en dat die koste van die aansoek deur die aansoekers betaal moet word.

Die BoN het op 1 Maart beheer oor die bates, laste, besigheid en sake van SME Bank geneem en Mumvuma asook die finansiële bestuurder en die tesouriehoof van SME Bank van hul pligte onthef. Die hele raad van direkteure is verder ontmagtig en moes alle sake van die bank aan die BoN oordra.

Die BoN het tydens dié afdankings 'n tussentydse direksie aangewys en 'n waarnemende uitvoerende hoof aangestel. Die besluit deur die BoN is geneem nadat SME Bank nie “bevredigende antwoorde” oor beleggings van voorlopig tussen N$181 miljoen en N$196 miljoen aan die sentrale bank kon verskaf nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!