SME bankskandaal: Summiere vonnis van N$300 000
SME bankskandaal: Summiere vonnis van N$300 000

SME bankskandaal: Summiere vonnis van N$300 000

Me. Beatrice Kahunda se bona fide-verweer misluk in die hoërhof.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – 'n Summiere vonnis van sowat N$300 000 is Woensdag in die hoërhof in Windhoek teen me. Beatrice Kahunda, die voormalige hoof van uitvoerende bankwese van die SME Bank, toegestaan.

Die likwidateurs van die SME Bank, mnre. David Bruni en Ian McLaren, was voor regter Hannelie Prinsloo suksesvol in hul aansoek om summiere vonnis teen Kahunda.

Kahunda het in Oktober 2015 sowat N$300 000 vanaf Asset Management Financial Services (AMFS) ontvang, wat as kanaal vir die SME Bank se gesteelde fondse gebruik is.

Volgens Prinsloo se bevel moet Kahunda N$300 000 met rente aan die SME Bank terugbetaal, asook die regskostes.



BONA FIDE-VERWEER

Kahunda kon nie die hof oortuig dat sy 'n bona fide-verweer teen die likwidateurs se eis het nie.

Haar verweer was dat sy die bedrag van N$300 000 ontvang het op grond van 'n terugbetalingooreenkoms met ene mnr. Enoch Kamushinda vir kostes verbonde aan haar bedanking by Standard Bank.

Volgens Kahunda se beëdigde verklaring het sy haar kennisgewing van bedanking by haar werkgewer by Standard Bank ingedien, maar Kamushinda het haar by die SME Bank betrek voor haar tydperk verstryk het.

Vanweë die onvoltooide tydperk moes Kahunda glo verskeie uitgawes betaal en volgens haar verklaring het sy gedink die geld wat sy vanaf die SME Bank ontvang het, was Kamushinda se terugbetaling aan haar.

“Ek was en is steeds onder die indruk dat die fondse wat ek ontvang het, aan my verskuldig was. Ek het nog nooit bewustelik fondse ontvang wat gesteel is nie,” lui die verklaring.

Volgens die eisers het Kahunda “geen verweer nie – nóg minder 'n bona fide-verweer.”

“Die oorbetaling van die SME Bank se geld aan die verweerde stel met die eerste oogopslag die verryking van die verweerde vas. Sy het eerder met dolis eventualis opgetree,” lui die eisers se argument.

[email protected]


FOTO
Die likwidateurs van die SME Bank, mnre. David Bruni en Ian McLaren.

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer