Smith met dood gedreig nu00e1 BLM-knielery
Smith met dood gedreig nu00e1 BLM-knielery

Smith met dood gedreig ná BLM-knielery

Krieket
Tinus van Staden – Sedert die Black Lives Matter (BLM)-beweging die Suid-Afrikaanse krieketdiskoers begin oorheers het, moes Graeme Smith opstoppers uit alle oorde trotseer.
Daar was selfs doodsdreigemente nadat hy en die spelers voor die Solidarity Cup-driespan-wedstryd in Julie in solidariteit met BLM gekniel het, het Smith Dinsdag gesê. Veral wit krieketondersteuners was omgekrap hieroor.
Smith, Krieket Suid-Afrika (KSA) se direkteur van krieket, word ook deur swart oudspelers en krieketliefhebbers gekritiseer, veral oor kwessies soos spankeuses en die spankultuur toe hy die Protea-kaptein was.
“Dit was ’n baie uitdagende ervaring. Ons het onsself in ’n warm omgewing bevind. Ons het houe gevat en selfs doodsdreigemente gekry. Dis ’n ontnugterende ervaring,” het hy op ’n webinaar aan die joernalis Bruce Whitfield gesê. Die gesprek was deel van PSG se “Think Big”-reeks.
BLM het momentum in krieket opgetel nadat Lungi Ngidi op 6 Julie op ’n nuuskonferensie – in reaksie op ’n vraag – gesê het dat hy graag gesprekke oor die beweging binne die Protea-omgewing wil voer.
Oud-Proteas soos Boeta Dippenaar en Pat Symcox het gereageer en meen Ngidi kan nie sy standpunt op sy spanmaats afdwing nie.
Smith het Dinsdag gesê Ngidi het niks verkeerd gedoen nie en dat die kritiek teen hom ongeregverdig is.
“Ek dink ons (KSA) het dit met volwassenheid gehanteer. Ons het byeengekom en besluit ons gaan die beweging ondersteun en dit het my verbaas hoe warm dinge geraak het.
“Ons het gekniel om te wys dat ons almal saamstaan; dit is wat dit vir ons beteken het. Ek het die span baie lanklaas sulke eerlike gesprekke gehoor voer, wat wonderlik is.
“Dit was goed dat mense kon deel en mense van alle kante openlike en positiewe gesprekke kon voer.”
’n Groep van 40 swart oudspelers het sedertdien tot die gesprek toegetree en met KSA se raad vergader. Hulle het hul selfs tot die sportminister, Nathi Mthethwa, gewend om hul ervarings van rassisme en diskriminasie binne krieket te deel.
Mthethwa dreig nou om by krieket in te gryp as daar nie transformasie is nie – dít ondanks die feit dat 52 van KSA se 64 voltydse werknemers swart is en dat krieket 70% van sy transformasieteikens behaal het, wat beter is as die 50% wat nodig is om regeringsoptrede te voorkom.
Makhaya Ntini het onlangs vertel hoe eensaam hy in die Protea-span gevoel het, en Thami Tsolekile, wat vir 12 jaar geskors is vir sy aandeel in die 2015-knoeiskandaal, neem Smith persoonlik kwalik omdat hy (Tsolekile) nie in 2012 die paaltjiewagter-handskoene by Mark Boucher oorgeneem het nie.
Maar krieket struikel te veel oor sy eie voete.
Smith sê dit is positief dat die gesprek nou oop is en dat mense oor al hierdie kwessies kan praat en debatteer, maar bepleit ook balans. KSA wil die spel toeganklik vir almal maak.
“Ons het soveel kwessies in Suid-Afrika en dit voel soms vir my ons ontgeld nou die regering se onvermoë om oor die jare heen sekere beloftes na te kom. Dít het tot baie frustrasie gelei.”
Smith sê dis nou belangrik om ’n manier vorentoe te vind. KSA wil deur middel van sy projek van krieket vir maatskaplike geregtigheid en nasiebou (SJN) help om rassisme in die spel uit te wis. Die groep swart oudspelers is egter nie oortuig van die beheerliggaam se verbintenis tot verandering nie.
“Jy wil hê mense moet oor die krieket praat. Die hoofopskrifte word te gereeld deur ander dinge soos bestuursprobleme, finansiële kwessies, ’n forensiese oudit oorheers. Dít help nie,” sê Smith.
“Wanneer ons spanne goed speel en daar is goeie stories, ook oor die geld wat belê word in transformasie en ontwikkeling – dít is die tipe stories wat ons wil hê vertel moet word.
“Maar krieket struikel te veel oor sy eie voete. Of dit nou die verkeerde mens is wat ’n pos beklee, of ego’s, of swak besluite is, dit staan in die pad van die goeie stories.” – Netwerk24


FOTO
Graeme Smith (naasregs), Krieket Suid-Afrika (KSA) se direkteur van krieket, het doodsdreigemente gekry nadat hy voor die Solidarity Cup-wedstryd gekniel het. Hier kniel hy saam met Makhaya Ntini (regs) en Francois Pienaar. Foto Gallo Images

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer